Beet – vir menige ’n onding, vir my aardse pers verleiding. As kind het ek dit gehaat. Jy sou ook as jy jou pad moes oopeet deur ’n paar honderd bottels elke jaar. Ma en ouma het ingelê dat die biesies bewe.

En dís die probleem. Sê jy beet, dink meeste van ons aan bottels gerasperde beet in asyn.

Ek’t my vrede met die asyn-bottel-beet storie gemaak, maar regtig, daar is baie meer interessante dinge wat jy met beet kan doen. Diep en aards, niks ander proe soos beet nie en soveel dinge pas daarby. Dink beet en bloukaas of bokmelkkaas. Beet en suurroom. Beet en makriel of salm. En dan is daar een van my gunsteling kombinasies: beet en die hemelse warm speserye, komyn en koljander.

Dis wat ek in hierdie wortel-en-beetslaai gebruik saam met ’n stewige knip harissa spesery mengsel wat ek by Woolies raakgeloop het. Intense spesery, ’n effe rissie-byt en vars ment om dinge af te koel. Perfek. Bedien hierdie wortel-en-beetslaai as bykos by die braai, of net so saam met pita en tzatziki as ligte vegetariese maal.

Al wat jy nodig het is…

1 bossie beet
2-3 groot wortels
groot handvol vars ment (hou die blaartjies heel as hulle klein is, of sny hulle in dun repe)
¼ koppie pampoensade
½t fyn komyn
¼t fyn koljander
½t harissa spesery mengsel (loer by Woolworths – as dit absoluut moet, kan jy dit vervang met ’n klein knippie droë rissie)
4E goeie olyfolie
2E witwyn asyn
¼t sout
1t suiker

Kook die beet (ongeskil) in ’n groot pot water tot sag. (Ek dink eintlik die beste beetsmaak word verkry deur hulle in foelie toe te draai en in die oond te rooster. Maar dit vat lank en elektrisiteit is duur.)

Verwyder die beet, laat afkoel en skil. Skil die wortels en rasper of sny in lang dun repe met jou groenteskiller. Sit die speserye in ’n kleevrye pan en verhit vir ’n paar sekondes, nét tot jy die speserye ruik. Jy will hulle wakker maak, nie brand nie. Verwyder en voeg die asyn, oilie, sout en suiker by en meng goed.

Voeg die wortels by die beet, gooi die slaaisous oor en heel laaste die pampoensade en ment.

bedien

4-6

vooraf

15 min

kook

30 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Nog idees met hierdie slaai

Vars beet is natuurlik beter maar as jy nie kans sien nie, of nie tyd het nie, gebruik bottel beet in hierdie resep. Tien minute en die slaai is op die tafel!

Fraai wortel-linte: As jy wortels in linte skil met jou groenteskiller, sit hulle in yswater. Hulle sal prettig krul en kraakvars wees.

Rasper bietjie lemoenskil bo-oor vir ’n ekstra skop geur.

Sit ‘n groot handvol Italiaanse pietersielie ook by.

As jy kappertjieblomme in die tuin het, strooi ’n paar van hulle oor vir die ekstra fraai.

scroll

lekker saam met

Van Loveren (die Four Cousins mense) verstaan van toeganklike bekostigbare wyne maak. Hulle lei die 2015 somer in met ’n splinternuwe ontwerp op hulle bottels én ’n nuwe toevoeging tot hulle reeks: Daydream. Daydream is Van Loveren se antwoord op die gewilde neiging na Chardonnay/Pinot Noir vermengings. Dit bevat 94% Chardonnay en 6% Pinot. Dis lig en vars met hope vrugte en suur om die lotjie te balanseer.

Hierdie’s nie ’n gekompliseerde wyn nie. Dis ’n elke-dag wyn perfek vir somer, sonskyn en braai. Met net ’n sweempie suiker te bespeur is dit die perfekte pasmaat vir die spesery in my wortel-en-beetslaai.

Van Loveren

scroll-main

Ook beskikbaar in: English