Ek’t eintlik ’n heel ander ding in gedagte gehad vir my volgende resep. Toe kom sit die kombuisduiwel op my skouer. Hy fluister ek moet bietjie van dies bygooi . En bietjie van daais. En sommer ’n hele spul ander goed. Die resultaat? ’n Skepping wat nie eens ’n brandmaer ashoop hond voor kans sal sien nie.
Dis die ding met nuwe resepte uitdink. Dit werk nie altyd nie. As dit nie doen nie, hou op goeters bygooi in die hoop dat dit beter sal word. Dit word nie. Nee wat, gooi weg. Begin oor.
Met al die entoesiaste bygooiery, het ek nie veel in die yskas oor nie. Maar ek het meel, en ek het gis, en daar’s water in die kraan. Dis al wat ek nodig het. Hierdie kannie-flop witbrood resep maak ek al twintig jaar. Ek kannie sê dis myne nie, dis uit ’n wonderlike ou boek, The Bread Book, deur Linda Collister. Bros buite, veerlig binne, ’n leksel plaasbotter en tuisgemaakte appelkooskonfyt is al wat hy vra so warm uit die oond.
Al wat jy nodig het is…
680g witbrood meel
15g seesout (ek gebruik Maldon, dis wonderlik)
7g kitsgis
430ml louwarm water
gewone kookolie
ekstra meel
Gooi al die droeë bestanddele in ’n bak en voeg die water by. Meng goed (ek vind my vingers doen die joppie die beste). Keer die deeg uit op ’n meel-bestrooide oppervlak en knie vir 10 minute. Vorm deeg in ’n bol en plaas in ’n diep bak gesmeer met gewone kookolie (dis sodat die deeg nie vassit nie). Bedek met kleefplastiek en sit opsy om te rys vir ’n uur en ’n half tot die deeg verdubbel in grootte. (Wenk: die deeg is voldoende gerys as jy dit liggies met die vinger druk en dit spring nie terug nie.) Verwyder en knie deeg vir ’n verdere minuut. Vorm deeg (natuurlik op ’n meel-bestrooide oppervlak) in ’n platterige reghoek. Rol nou die deeg van die nou kant af styf op (soos jy sal maak met ’n ‘Swiss roll’). Maak seker die soom wys na onder. Druk nou die kante onder die deeg in (soos jy sal maak met ’n laken onder ’n matras!) en jy eindig op met ’n perfek netjiese broodvormige stuk deeg. Sit dit in ’n broodpan gesmeer met botter. Bedek met kleefplastiek en sit eenkant om te rys vir ’n uur tot dit dubbel so groot is.
Voorverhit intussen jou oond tot 230C. As die brood gerys is, strooi bietjie meel oor (vir die mooi) en sny ’n 1cm-diepe keep met ’n baie skerp mes met die lengte van die brood langs. Dis ook vir die mooi, want dit laat die brood effe soos ’n waaier oopvou gedurende die bak.
Plaas die brood in die oond en bak vir 15 minute. Draai dan die hitte af na 200C en bak vir ’n verdere 25-30 minute. Om uit te vind of die brood reg is, glip dit uit die broodpan en klop die onderkant van die brood. As dit hol klink, is dit reg. Indien nie, glip dit terug in die pan en bak vir ’n verdere 5 minute. Verwyder brood uit die pan en plaas op ’n rakkie om effe af te koel. Hierdie brood is beste vars op die dag wat jy hom bak. As jy enige oor het, maak dit die héérlikste roosterbrood of crostini die volgende dag. (Hierdie witbrood resep maak een groot brood of twee medium brode.)
maak
1 groot
vooraf
20 min
rus
2.5 ure
goed om te weet
Broodbak wenke
- Hitte aktiveer gis vinniger, dus die gebruik van louwarm water. Erge hitte is egter gis se dood, so warm water is uit. Jy kan ook kouer water gebruik, die gis sal eenvoudig langer vat om te aktiveer en die deeg sal so halfuur langer vat om te rys.
- Moenie deeg in die son sit as dit rys nie. ‘n Hoekie erens uit die son en uit ‘n trek is perfek. Hoe kouer jou kamer, hoe langer vat dit om te rys. Maar rys sal dit rys.
- Vir vars brood eerste ding in die oggend, maak hierdie resep tot op die stadium waar die deeg in die broodpan ingaan. Bedek en plaas dit in die yskas. Dit sal oornag baie stadig rys. Net reg vir die volgende oggend. Kombuisgodin verby.
- Vir ‘n ekstra bros kors, kan jy die vuurwarm oond ‘n paar spuite water gee as jy die brood insit.
lekker saam met
Brood vars uit die oond, appelkooskonfyt (met behoorlike heel stukke appelkoos) en koffie – ek kan nie aan ‘n beter bederf dink nie. Bean There se koffiebone is ‘n groot gunsteling. Hulle is die eerste Suid-Afrikaanse maatskappy wat Fairtrade koffiebone vanoor Afrika rooster.
Hulle hele reeks is aanlyn te koop. Kies watter land se koffie jy wil drink, kies of jy jou bone heel of gemaal verkies en kies selfs hoe fyn jy dit gemaal wil hê! Vanaf net R65 vir 250g, is hierdie ‘n behoorlike bederf.
Lyk en klink soos dit seker proe -wonderbaarlik. Moet probeer
So maklik Tania en die ‘leftovers’ maak die lekkerste roosterbrood. Mens ruik die gis en weet sommer dís nou behoorlike brood! Lekker dag. L
Goeie Middag
Sal hierdie resep werk met koekmeel want dit is al wat ek het
Hannah
Hi daar Hannah. Nee, ongelukkig kan jy definitief nie koekmeel gebruik nie. Broodmeel het ‘n baie hoër gluten inhoud. Met die knie ontwikkel die gluten sodat jou brood die regte struktuur het. Jy sal maar broodmeel moet koop. :)