Ons het dit amper gedoen – nog net ’n maand van bibber en dan’s winter in sy Moses. 2023 was die natste en koudste hier in Kaapstad in donkiejare. Afgesien van slaap met sokkies (ja ek weet dis nie seksie nie) het ek oorleef deur my te vergryp aan warm winterkos wat die beste bestanddele van die seisoen vier. Disse soos hierdie winter-groente gebak. Dink aartappels, wortels, oranje soetpatats en witwortels (oftewel ‘parsnips’ vir die van julle wat nog nooit van ’n witwortel gehoor het nie). Bietjie knoffel, tiemie, ’n stoute geut room en dis oond toe met hom.

Ek het oorspronklik hierdie resep vir een van my spesery kliënte ontwikkel met hulle produk. Aangesien ek heelwat lesers in ander lande ook het, het ek die resep verander om net bestanddele te gebruik wat so te sê orals te vinde is. Bedien hierdie winter-groente gebak op sy eie saam met ’n groenslaai en dis perfek vir vegetariërs. As bykos is dit wonderlik saam met geroosterde hoender, lamtjops en selfs steak. Uithou vrinne, nog net 29 slapies en dan’s dit lente!

Al wat jy nodig het is…

3 ekstra groot aartappels, geskil
2 groot oranje soetpatats, geskil
3 ekstra groot wortels, geskil
4 witwortels (parsnips), geskil
1 knoffeltoon, fyn gekap
2E gesoute botter
¾ koppie vars room
3 takkies tiemie
seesout en varsgemaalde swartpeper

Sny die groente so dun moontlik – of met ’n mandolien as jy een het, of met ’n skerp sjefmes. Meng die botter en die knoffel. Plaas helfte van die botter in dotjies op die bodem van ’n oondvaste bak. Pak die groente in lae in die bak en gee elke laag ’n paar draaie seesout en swartpeper.

Gooi die room oor die groente en dotjies van die res van die botter. Sit die takkies tiemie op en bedek die hele bak dig met foelie. Bak so toe in ’n voorverhitte 180 grade Celsius oond vir ’n halfuur. Verwyder dan die foelie en bak vir ’n verdere 30-50 minute tot die groente sag is. As die groente eers sag is, skakel jou oondrooster aan vir ’n paar minute om die boonste lagie groente bietjie te karameliseer

bedien

6

vooraf

30 min

kook

60+ min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English