Ek het varkvleis op die brein die laaste ruk. Eintlik sedert twee weke gelede toe ek die voorreg gehad het om vir middagete aan te sit in die Hamm & Uys restaurant op die pragtige Blaauwklippen landgoed. Die geleentheid? SA Pork se jaareindfunksie vir mense in die kosbedryf. En wat ’n viering van die wonder van varkvleis was dit nie, met ’n vyfgang maal ontwerp om die veelsydigheid van varkvleis te toonskou.
Eerste aan die beurt was ’n slaai met mosbolletjies en kaiingbotter, toe verleidelike plompe mossels in ’n roomsous gegeur met coppa ham. Volgende, gebraaide Koreaanse varkvleis ‘rashers’ met waterblommetjie kimchi. Steeds was ons nie klaar geëet nie want dis gevolg deur varknek-denningvleis op stampmielie risotto met vinkel en appel. En vir poeding? Spek-en-eier roomys! Wat kan ek sê? Aandete was nie nodig nie!
Dis die ding van varkvleis – daar’s regtig omtrent niks wat mens nie daarmee kan doen nie. Ek het al menige varkvleis resep gedeel want ek is dol daaroor. Van my varktjops met sampioene en sider-roomsous tot vark-en-groenvy terrien, van geroosterde vark lendeskyf tot parmesaan en roosmaryn varkvleis schnitzels. Maar na die feesmaal van SA Pork was ek skoon begeesterd om iets nuuts met varkvleis te probeer. Hier is hy: Vinkel en lemoen varkvleis frikadelle in ’n verleidelik romerige tamatie-pastasous. As jy resep inspirasie soek hierdie feestyd, dink varkvleis!
Al wat jy nodig het is…
Vir die pastasous
½ koppie fyngekapte uie
2E olyfolie
vet knoffeltoon, baie fyn gekap
1 x 50g sakkie tamatiepasta
1 x 400g blik kersietamaties
4E water
1t suiker
½t sout
2E room of mascarpone
Vir die frikadelle
250g vark maalvleis
1 sny witbrood
½t droë rissievlokkies
1t vinkelsaad, fyn gestamp
derde teelepel sout
skil van een lemoen, fyn gerasper
Vir die pastasous: Braai die uie oor lae hitte in olyfolie tot sag. Voeg die knoffel by en braai vir ’n minuut. Voeg die tamatiepasta by en braai vir ’n verdere minuut. Voeg die kersietamaties, water, suiker en sout by. Draai hitte laag, sit die deksel op en prut vir 15 minute. Verwyder sous van die hitte en roer die room of mascarpone by.
Vir die varkvleis-frikadelle: Blits die sny witbrood in jou voedselverwerker om krummels te vorm. Voeg krummels by die res van die bestandele en meng. Vorm frikadelle. Braai in olyfolie tot gaar. Bedien pastasous en frikadelle op spaghetti. Hierdie resep bedien twee mense. Vir ’n familie van vier, verdubbel eenvoudig die resep.
bedien
2
vooraf
15 min
kook
20 min
Los 'n Boodskap