Kyk ek gaan nie jok nie, môre antwoord ek nie my foon nie. Ek gaan te besig wees om tee te drink en Charles en Camilla se kroningsplegtigheid te kyk. Ek het nie juis ’n ding vir of teen ‘royalty’ nie, my gevoelens is neutraal. Maar as dit by prag en praal kom kan absoluut niemand vir die Britte ore aansit nie. Dit gaan ‘fabulous’ wees! So op die rusbank gaan jy my kry – in my rekbroek en my hasie-pantoffels, koppie tee in die hand. En as daar tee is moet daar natuurlik koek wees, iets vreeslik Brits.

Ek kan aan min dinge meer Brits dink as ’n klassieke Victoria sponskoek. Toe loer ek na ’n paar resepte – Nigella s’n, Dehlia s’n, Jamie s’n. Hulle is almal basies dieselfde, almal eintlik ’n kopie van die doyenne van Britse gebak, Mary Berry, se Victoria spons. Mary se resep is eenvoudig, sy gooi alles bymekaar, meng dit en dis oond toe. Toe volg ek dit en… dis ’n kolossale flop. Niks fout met die smaak nie, maar die koek wou g’n niks behoorlik rys nie en hy was erg kluitjierig. ’n Victoria sponskoek is weliswaar swaarder as baie ander sponskoeke, maar wat uit daai panne gekom het was nie skoumateriaal nie. Toe maak ek hom weer. Ek volg Mary se resep, maar ek gooi haar metode by die venster uit. Ek maak hom eerder aan soos ouma my geleer het mens ’n koek maak – verroom eers die suiker en botter, dan kom die nat goed by en heel laaste die droë bestanddele. Die resultaat? Victoria sponskoek perfeksie – krummelrig, dig maar nie te dig nie en ryk van die botter. Tradisioneel plak jy ’n Victoria sponskoek vas met aarbei- of frambooskonfyt en geklopte room. Maar hierdie is koningskoek, dus gee ek die knaap ’n groot skep room bo-op ook, plus vars aarbeie en bloubessies – al die kleure van die Britse vlag in ’n koek.

Hierdie spons is definitief nie een wat wil rondhang nie, hy’s beste die dag wat jy hom maak. As jy hom nege uur môreoggend maak is hy betyds reg voor daai groot goue koets sy verskyning maak.

Al wat jy nodig het is…

225g strooisuiker
225g ongesoute botter, baie sag (soos botter teen warm kamertemperatuur)
4 jumbo-grootte eiers
2E melk (Mary se resep bevat dit nie, maar ek het hare bietjie te dik gevind)
225g self-rys meel (self-raising flour)
2t bakpoeier
knippie sout (Mary se resep het nie sout in nie, maar ouma het my geleer alle soetgoed het ’n blertsie sout nodig!)
250ml vars room
2E versiersuiker
aarbeikonfyt
vars aarbeie
vars bloubessies

Voorverhit jou oond tot 180 grade Celsius (170 as jy jou thermofan gebruik). Sny twee sirkels uit bakpapier en plaas hulle op die bodem van twee 20cm losbodem koekpanne. Spuit die res van die pan met nie-kleef baksproei of maak soos ouma gemaak het en smeer hulle met botter.

Gebruik ’n elektriese handklitser om die botter en suiker te klop tot lig en romerig. Klits die eiers saam met die melk en voeg dit dan ’n bietjie op ’n slag by die bottermengsel terwyl jy klits. (Onthou om die kante van die bak af te skraap.)
Sif die meel, bakpoeier en sout by en gebruik ’n groot metaallepel om die meel versigtig in te vou. Moenie die mengsel oorwerk nie, hou op meng sodra die lotjie bymekaar kom!

Verdeel die mengsel tussen die twee panne en gebruik die agterkant van ’n lepel om dit egalig te maak. Bak vir 25 to 30 minute tot goudkleurig en deurgebak. Jy sal weet die koek is reg as jy ’n tandestokkie insteek en hy kom skoon uit. (NB: voor jy die oond oopruk, loer eers deur die oonddeur of die koek gerys en goudkleurig is. Indien nie, is hy waarskynlik nog baie rou binne en maak jy die deur in dié stadium oop val die lot plat!)

Laat die koek in die pan afkoel vir vyf minute en keer dit dan uit op ’n draadrak om heeltemal af te koel. Klop die room met die versiersuiker tot styf en plak die twee koeke aan mekaar vas met konfyt en room. Skep ongesond baie room bo-op en gaan mal met die vrugte!

bedien

10

vooraf

20 min

bak

30 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English