n Bees is nie ’n dier wat bekend is vir sy vermoë om te luister nie. Amper so erg soos katte. So as jy enigiets met ’n klomp van hulle uitgerig wil kry, het jy ’n drukgang nodig. Vir die van julle wat nog nooit op ’n plaas was nie, dis ’n prakseersel wat lyk soos sy naam klink – ’n gang gemaak met hoë pale en dwarsbalke.

Jaag mens beeste by een kant in, staan hulle ewe gedweë en wag vir wat volgende kom. Op goeie dae wag net die doopkuil met bosluisgif aan die ander kant. Maar dan is daar dae vir brandmerk of ’n knip aan die oor. Dis sodat jou skelm buurman nie in die middel van die nag jou kudde kan plunder en die volgende dag onskuldig voorgee hulle’s syne nie.

En dan’s daar natuurlik die ergste van die ergste – die knip van die jong bulletjies se sensitiewe dele. Op my vriendin, Ilette, se ouma se plaas buite Thabazimbi het hulle iets wat lyk soos ’n massiewe tang gebruik vir die knippery. Dis nou as ek reg onthou. Want ek was net dertien toe ek die spul aanskou het tydens ’n skoolvakansie kuier. Die hele storie was oor binne sekondes, maar ek het nogal jammer gevoel vir die outjies.

Ek staan ook gereeld gedweë in ’n drukgang. Die een by Woolies. En nes vir die bulletjies, wag daar ook vir my pyn aan die einde – die mandjie in my hand gaan my beursie slat. Om dinge erger te maak, het soetigheid op die drukgang se rakke ’n manier om in my mandjie op te eindig. Die ander dag het ’n parmantige Lindt wit-sjokolade met vanielje hom kom tuismaak.

Toe vat ek hom huistoe en proe. Na die proe (dit het ’n hele blok gevat om seker te maak dis OK) het ek begeesterd nog een gaan koop want wit-sjokolade mousse met framboos wou ek eenvoudig maak. Hierdie een val definitief in die indruk-maak kategorie.

Al wat jy nodig het is…

3 groot eiergele
1 Lindt vanielje wit-sjokolade (100g)
320ml vars room
3E strooisuiker
1t goeie vanielje-ekstrak (nié essens nie!)
1 pakkie vars frambose (as jy nie vars kan kry nie, werk gevries ook goed)

Klits die eiergele, 2E suiker en 70ml room goed. Sit dit in ’n dubbelkoker en klits oor ’n lae hitte totdat die mengsel genoeg verdik om die agterkant van ’n lepel te bedek. (Moet dit nie kook nie, jy soek nie roereier nie!)

Gooi ’n teelepel vanielje by en breek die sjokolade in. Haal dit van die hitte af. Die hitte van die mengsel sal die sjokolade stadig smelt. Roer en sodra alles gesmelt is, sit in die yskas vir ten minste twee ure om goed af te koel.

Druk die frambose fyn met ’n vurk (ek hou van ’n mengsel van groter en kleiner stukke) en strooi een teelepel strooisuiker oor. Sit opsy.

As die sjokolade mengsel koud is, klits 250ml room met een eetlepel strooisuiker tot die room styf is. Vou die room versigtig deur die sjokolade mengsel. Jy wil definitief hierdie een vou en nie roer nie. Skep die mengsel in individuele bakkies en sit in die yskas vir ten minste ’n uur. (Jy kan dit die dag tevore maak, dit sal goed hou.)

Bedien dit met die frambose. Die kontras van die ryk mousse en die skerp framboos is lieflik. As jy nie framboos wil gebruik nie, bedien elke porsie met ’n halwe grenadella vir jou gaste om oor die mousse uit te druk.

bedien

5-6

vooraf

10 min

rustyd

3 ure

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Wat is die verskil…

…tussen Sjampanje, Prosecco? Wyn kan net Sjampanje genoem word as dit in die Sjampanje-streek in Frankryk gemaak word. Dis ook ‘n wyn wat twee fermentasies ondergaan, die tweede een in die bottel. Die gissery in die bottel is verantwoordelik vir die borrels. Sjampanje moet van Chardonnay, Pinot Noir of Pinot Meunier druiwe gemaak word. (Ons plaaslike weergawe daarvan is MCC – Méthode Cap Classique.)

Prosecco word van die Posecco druif gemaak en moet van Prosecco in die Veneto in noord-oos Italië af kom. Dit word ook twee keer gefermenteer, maar dit word in groot staaltenke gedoen. Dis dus heelwat goedkoper as Sjampanje.

lekker saam met

Ek is dol oor enigiets met borrels. Ons is baie gelukkig in Suid-Afrika want ons het tonne goeie vonkelwyn. Maar mens kan darem nie kop-innie-sand deur die lewe gaan nie. Ek verken so af en toe die wêreld met Jan Tuisbly se karretjie deur iets van ‘n ander land af te drink.

Italiaanse Prosecco is lieflik droog en die perfekte borrel as jy nie ‘n fortuin wil spandeer nie. Woolies het Dolce Vita Prosecco. Dis gewoonlik R74,95, maar hierdie week is dit net R49,95. Ek gaan sommer ‘n hele paar bottels gryp en in die kas sit vir Kersfees.

Prosecco

scroll-main

Ook beskikbaar in: English