Ek sou sê dis redelik ‘obvious’ dat ek mal is oor kook. Maar ek’s waarskynlik nog maller oor EET. Vir my is enige maal ’n bietjie van ’n okkasie, selfs al is dit net ’n tamatie-toebroodjie. Ek praat nie van die een wat my ma in die tagtigs vir padkos gepak het oppad see toe nie – ‘goewerment’ witbrood met toksies-verdagte margarien en skywe pap pienk tamatie. Aikôna. Dink ciabatta, warm uit die oond, bros buite en sag binne. Dink rooiryp rosa tamaties barstensvol sonskyngeur, vrugtige olyfolie, ’n basilieblaar of twee, varsgemaalde swartpeper, ’n stewige knip seesout… Nou praat jy mos.

Met só houding kan mens seker maklik dink elke maal in my huis is ’n fees. Toe nou nie. Sien, Maandag tot Vrydag gaan dinge in my huis (soos seker in enige ander een) maar redelik dol douvoordag. Kits hawermout, wat net ’n leksel kookwater nodig het, is nie ’n ongekende ding nie. Ek gee hom darem ’n bietjie ‘gourmet attitude’ met ’n skoot kaneel, maar ek voel half sleg dat ek ontbyt so afskeep. Presies hoe moeilik is dit nou eintlik om iets vir ’n weekdag ontbyt te maak wat 1) heerlik is 2) vinnig is en 3) nie ’n kits pakkie met wie-weet-watse-chemiese-dinge-in behels nie? Heel maklik. Die antwoord is granola.

Jy kan dit koop, maar dis bitter eenvoudig om te maak, waarskynlik goedkoper en – belangrikste van als – jy kan ewe ongeërg ‘brag’ jy maak jou eie. Ek bedien myne met dik Griekse joghurt en ’n kits bessie-sous. Dis ontbyt wat die moeite werd is om voor op te staan, in minder as ’n minuut.

Al wat jy nodig het is…

Vir die granola
5 koppies hawermout (die een wat hulle ‘rolled oats’ noem, nie gewone kits hawermout nie – loer in die gesondheidsafdeling van jou supermark)
1 koppie sonneblomsade
¼ koppie sesam- of pampoensade
1 koppie pekanneute, rofgekap
½ koppie amandels, rofgekap
½ koppie haselneute, rofgekap
½t sout
½ koppie gewone kookolie
1½t vanielje-ekstrak
8 eetlepels goue stroop (of heuning, of ‘n mengsel van die twee)
1½ koppie droeë rooibosbessies (‘cranberries’)

Vir die bessiesous
gevriesde somerbessie-mengsel (Woolies het, of probeer Hillcrest s’n)
bessie-konfyt (framboos, aarbei of kersie)
suurlemoensap of lemmetjiesap

Voorverhit jou oond tot 155 grade Celsius. Voeg die neute en sout by die hawermout. Voeg die olie, vanielje en stroop by en meng goed tot alles eweredig bedek is. (Ek vind dis makliker as ek die stroop by die olie voeg en dit eers in die mikro verhit vir 30 sekondes.)

Versprei mengsel eweredig op twee groot bakplate en bak vir 40-50 minute tot goudkleurig – roer halfpad deur. Verwyder en laat afkoel. (Om groter stukke granola te kry, druk die mengsel plat met die agterkant van ’n lepel terwyl dit nog warm is en laat dit so afkoel.) Voeg die rooibosbessies by as die mengsel eers koel is en stoor in lugdigte houers vir tot ’n maand.

Om kits bessie-sous vir een te maak, verhit een eetlepel bessie-konfyt in die mikro vir 10-20 sekondes tot gesmelt. Voeg 2-3 eetlepels gevriesde bessies by en roer. Die hitte van die konfyt sal die bessies blitsvinnig laat ontdooi. Ek hou van ’n suurigheid om die soet te balanseer, so ek sit ’n drukkie suurlemoensap of lemmetjiesap ook by. Bedien saam met die granola en natuurlike joghurt.

Hierdie resep kan dien as basis vir enige soort granola. Speel bietjie met bessies, saad en neute en sien wat gebeur! Loer na GOED OM TE WEET hieronder vir ’n paar idees.

Groete tot volgende keer
Lizet

maak

10k

vooraf

10 min

bak

50 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Nog granola idees
  1. Vervang van die neute met rou grondbone en vervang die bessies met rosyne.
  2. Gebruik pistasieneute en vervang die bessies met gekapte droeë vye. Jy kan selfs ‘n teelepel of wat dukkah bysit vir ‘n midde-oosterse geurtjie.
  3. Vervang die bessies met droeë piesangskyfies en droeë klapper.

lekker saam met

‘n Vris koppie boeretroos is goed eerste ding in die oggend. Maar hierdie granola en bessie affêretjie is ook perfek vir ‘n feestelike ‘brunch’. En dán soek ek borrels. Ene met lieflike bessiegeur.

Daar’s hope op die mark, soos Simonsig se Kaapse Vonkel MCC. Lieflike aarbei op die neus en tong maak hom ‘n perfekte pasmaat. En dis pienk, my gunsteling.

Simonsig

scroll-main

Ook beskikbaar in: English