Galette is seker die maklikste Franse tert wat jy kan maak. Net ’n sirkel deeg met enige vulsel wat jou hart begeer. Hy kan soet wees, met enigiets van appels of vye, tot bessies of pruime. Of hy kan sout wees, soos hierdie knaap. My inspirasie vir hierdie ui-en-tapenade galette is die Provensaalse pissaladiere. Dié het tipies ’n pizza-styl brooddeeg basis gepak met uie, olywe en ansjovis.
Galette is natuurlik baie minder werk as pissaladiere – g’n niks geknie en gerys nie. Sestig sekondes in jou voedselverwerker en die deeg is gemaak! Die soet, sagte uie van pissaladiere is daar, maar in plaas van olywe en ansjovis gebruik ek sommer olyf tapenade wat klaar ansjovis in het. Al die geure van Provence, in ’n botteltjie. So maklik. Jy kan natuurlik nie praat van die geure en smake van Provence sonder om van daai tipies Provensaalse wyn, Rosé, ook te praat nie!
Ek was bitter in my noppies toe die gawe mense van Anthonij Rupert Wyne vir my onlangs ’n bottel van hulle Jean Roi Rosé kom aflewer om te proe. Dis gemaak in Provensaalse styl – droog en blekerig, met net ’n titsel uieskil kleur. Dis vernoem na Jean Roi van Lourmarin in Provence, een van die eerste 150 Hugenote wat hulle in Franschhoek kom vestig het tussen 1688 en 1689. ’n Vermenging van oorwegend Cinsaut met bietjie Grenache en Shiraz daarby – op die neus en die tong is daar sommer hope bessie te bespeur. Dis die perfekte premium Rosé vir spesiale somerdae saam met spesiale mense en natuurlik die perfekte pasmaat vir hierdie Provensaals-geïnspireerde galette.
Al wat jy nodig het is…
VIR DIE DEEG
2½ koppies koekmeel
½ koppie bruinmeel (wholewheat flour)
180g gesoute botter, yskoud, in klein blokkies gesny
½t sout
1 eier, geklits met 1E melk
8E yswater
VIR DIE VULSEL
5 groot uie, fyn gesny
2E olyfolie
¼t rooirissie vlokkies
1½t suiker
¼t sout
blare van 8 takkies tiemie
125ml bottel tapenade
Om die deeg te maak, plaas die koekmeel, bruinmeel, sout en botter in ’n voedselverwerker. Pols totdat die blokkies botter die groote van klein ertjies is. Voeg die water ’n lepel op ’n slag by en pols tussenin. Skep mengsel uit en gebruik jou hande om dit te druk tot die deeg net-net bymekaar kom. Vorm ’n sirkel sowat 5cm dik en bedek met kleefplastiek. Plaas in die yskas vir 30 minute.
Maak die vulsel terwyl die deeg rus. Voeg die twee eetlepels olyfolie in ’n dikbodempan. Voeg die uie, tiemie, sout, suiker en rissie by. Braai oor lae hitte tot sag – moenie die uie bruin braai nie, hulle moet bleek bly! Laat uie afkoel tot kamertemperatuur.
Sny ’n stuk bakpapier die groote van ’n bakplaat. Plaas die deeg in die middel en gebruik ’n koekroller om die deeg so 5mm dun uit te rol. Smeer die tapenade op die deeg, maar hou ’n 4cm rand skoon. Skep die uie op die tapende en versprei eweredig. Vou die 4cm randjie oor die vulsel. Plaas galette op ’n bakplaat en verf die deegrandjie met die eier. Plaas ’n paar takkies tiemie op vir die ekstra lekker en sit in ’n voorverhitte 180 grade Celsius oond. Bak vir 40-45 minute tot goudbruin. Bedien dit warm met ’n groenslaai vir ’n ligte middagete en dit sal vier mense voer. Sny dit in kleiner skywe en sit dit voor as ’n southappie saam met ’n yskoue Rosé en dit sal agt mense voer.
(’n Alternatief vir die tapenade: As jy nie tapenade kan kry nie, of jy verkies jou galette om meer van ’n pissaladiere houding te hê, laat die tapenade uit. Skep die uie op die deeg, bedek met sommer baie ontpitte swart olywe en heelwat ansjovis filette. ’n Paar takkies tiemie en dit is oond toe met hom.)
bedien
4
vooraf
25 min
bak
40-45 min
Los 'n Boodskap