Ek ken nie Tannie du Toit nie, sou haar ook nooit geken het nie, want hierdie standaardpoeding resep van haar vind ek in my ouma se krabbelhandjie in een van die motgevrete uiters kosbare kookboeke wat ek van haar geërf het. Ouma sou nou hier by die honderd gewees het, en enigiemand wat sy getannie het, was natuurlik ten minste 15 jaar ouer.

Tannie du Toit se resep leef voort in my kombuis. Dis ’n poeding wat presies is soos sy naam sê ­– standaard – met een van als, sodat jy na ’n paar keer se maak die resep sommer uit die kop ken. Dis dig, effe kluitjierig en klam, pure poedinglafenis vir die siel na ’n rowwe dag. Natuurlik is vla hierby ’n moet. Nie boksvla nie, poeiervla soos Ouma sou gemaak het.

Al wat jy nodig het is…

1 koppie suiker
1 jumbo eier
1 koppie koekmeel
1E botter, gesmelt
1 koppie melk
1t koeksoda
2E fyn appelkooskonfyt
¼t asyn

Voorverhit oond tot 180 grade Celsius. Klits die eier en suiker saam tot lig en romerig. Sif die meel by en gooi die gesmelte botter by. Roer met ’n groot lepel tot net gemeng. Smelt die konfyt deur dit vir ’n paar sekondes in jou mikro te blits, en roer dan die asyn by – sit opsy om effe af te koel. Los die koeksoda op in die melk en voeg by die koekmengsel. (Loer onder in die koppie om seker te maak al die koeksoda is in die poeding – anders rys die poeding nie!) Roer laaste die appelkooskonfyt met asyn by. (NB: roer alles so min en lig as moontlik, g’n niks koekerige ding hou daarvan om oorgemeng te word nie.)

Bespuit ’n oondvaste bak met deksel liggies met Spray ’n Cook. Skep die mengsel in, plaas die deksel op en bak vir 30-40 minute tot gaar. Loer na 30 minute en toets die poeding (soos jy sal maak met ’n koek) deur ’n fyn messie of sosatiestokkie in die middel te druk. Kom dit skoon uit is dit gaar. Kleef daar deeg aan, het dit nog ’n paar minute nodig. Bedien poeding warm met warm vla –Woolworths se vanielje vlapoeier is my gunsteling van die lot.

bedien

6

vooraf

15 min

bak

30-40 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English