Maandag maak die hemele oop hier in die Kaap, die eerste reën vir maande. Skoon uitbundig maak ek ’n koppie rooibos en gaan staan op die voorstoep om die natte wonderlikheid te betrag. Dis vroeg vir die eerste reën hier in die Kaap maar ons is bitter dankbaar. Langer nagte, kraakvars oggende, laatmiddag lig soos borrelende vonkelwyn… al die lekkerte van herfs is net om die draai. Dis wanneer ek begin dink aan hoenderpastei, groenboonbredie, Mamma se melkkos en warm gebakte poedings. So ’n ruk terug stuur die mense van Perdeberg in die Agter Paarl vir my ’n paar bottels van hulle lieflike Grenache Noir 2021 om mee te speel.

Ek tob lank oor wat om daarby te maak, want hoogsomer is ek meer van ’n Sauvignon Blanc en slaai pop. Maar Maandag se reën gee my inspirasie. Ek pluk Ouma se gehawende en bitter kosbare handgeskrewe resepteboekie uit die Jonkmanskas. Ek dink Perdeberg se Grenache Noir met sy intense rooibessie, kersie en spesery note is meer as opgewasse om sy man te staan saam met Ouma se outydse tamatiebredie, of soos sy dit genoem het, tamatiekos. Kruienaeltjies, koljander, kaneel, gemmer – dis ’n hemelse speseryverleiding. Ouma het nie gespeel as dit by geur kom nie. Toe maak ek dit en klink ’n glasie Perdeberg Grenache Noir op die komende seisoen ­­– herfs, my gunsteling tyd van die jaar…

Al wat jy nodig het is…

1,2kg lam stowevleis
2E olie
2 koppies fyngekapte uie
1 knoffeltoon, fyn gekap
1 groen brandrissie, ontpit en gekap
3cm vars gemmer, baie dun gesny en dan in fyn repies gekap
6 kruienaeltjies
1 kaneelstokkie
6 koljandersade
1 x 410g blikkie tamatiepuree
6 groot ryprooi tamaties, in klein blokkies gesny
1½t sout
1t swartpeper
1E bruin suiker
1E Mrs Ball’s Hot Chutney
2 vars lourierblare
4 aartappels, geskil en in kwarte gesny

Verhit ’n groot dikbodempot en voeg die olie by. (Ouma sou skaapvet gebruik het in plaas van olie en as jy skaapvet of varkvet het maak gewis so, dis net lekkerder!) Verbruin die vleis, verwyder en hou apart. Voeg die uie by dieselfde pot en braai oor baie lae hitte tot sag – hulle moet goud wees, nie verbruin nie. Voeg dan die knoffel, rissie, gemmer, kruienaeltjies, kaneel en koljander by en braai vir ’n minuut of twee.

Voeg die gekapte tamaties en tamatiepuree by asook die sout, peper, suiker, lourierblare en blatjang. Voeg die vleis by asook enige vleissous wat met die staan uitgekom het. Sit die deksel op en plaas die pot op baie lae hitte om te prut vir veertig minute. (Indien jou hitte laag genoeg is, is die sap van die tamaties en die puree meer as genoeg vloeistof. Dis die hele idee van ’n properse bredie ­– hy moenie onnodig vloeistof bykry wat die storie afwater nie!) Voeg na veertig minute die aartappels by en prut tot die vleis sag is en die aartappels gekook is.

Loop haal Ouma se kristal uit die kas, gee die silwer ’n poets, steek ’n paar kerse aan en maak Boerekos die feesmaal wat dit verdien om te wees. Bedien met rys (wit rys natuurlik, onse oumas het g’n niks van bruin rys wat nog te sê quinoa geweet nie) en ’n bottel of twee van Perdeberg se Grenache Noir.

 

MEER OOR PERDEBERG SE VINEYARD COLLECTION GRENACHE NOIR 2021

Hierdie wyn, in ’n Nuwe Wêreld styl, is gemaak van 100% Grenache Noir druiwe van wingerde wat agt jaar oud is. Die druiwe is vroeg in die oggend gepluk terwyl dit nog koel was. Kontak met die skil vir 48 ure verseker maksimum kleur en geur konsentrasie. Die wyn is vir 12 maande verouder in 500L Franse eiekehout vate. Dis donkerrooi in kleur, vars en intens en die perfekte pasmaat vir nie net rooivleis nie, maar ook geroosterde hoender en selfs eend. Bestel dit op Perdeberg se webwerf.

bedien

4

vooraf

30 min

kook

90 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English