Kiri-roomkaas wys sy veelsydigheid met hierdie mooi oopgesig-groentesouttert (oftewel crostata) met ’n geurige vlaerige basis wat keer dat die tamatie se sappe die vlokkerige kors pap maak. Dis die lieflike Errieda du Toit (Kokkedoor en Koekedoor se kreatiewe meesterbrein) se resep. Sy’t dit ontwikkel vir die mense by Kiri om die feit dat hierdie gewilde Franse kaas nou plaaslik gemaak word te vier.

Kyk, crostata is by verre een van my gunsteling terte. Rol deeg in ’n sirkel, laai die middel met die vulsel van jou keuse, vou die rand om, gooi die knaap in die oond en loop weg. Kan nie makliker nie. Toe ’n vegetariese vriendin laas Sondag by my kom eet besluit ek hierdie tamatie crostata van Errieda is net die ding om te probeer en ek sleep my koekroller nader.

Die deeg in hierdie resep het BAIE botter en aanvanklik was ek nie seker of dit nie dalk effe te veel is nie. My kommer was verniet want wat uit die oond uitgekom het was botterige, bros verleiding. Dis ’n crostata wat jy gewis moet maak. Dis ryk, so dit sal twee honger grootmense laat dik eet. Sny jy hierdie crostata in effe kleiner, elegante Franse-vrou tipe porsies kan dit vier lig voer. Eet dit warm of teen kamertemperatuur saam met ’n groenslaai en ’n glas goeie Chenin – loer laer af vir my wynkeuse by hierdie crostata. Dankie dat jy jou resep en pragfoto met ons deel Errieda!

Al wat jy nodig het is…

Korsdeeg:
250 ml koekmeel
250 ml volgraanmeel
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
5 ml suiker
Knippie sout
Stewige knippie fyn naeltjies (so wonderlik by die tamatie)
170 g (180 ml) koue botter
110 ml yswater met 15 ml appelasyn by (ek het sommer rooiwynasyn gebruik want die appelasyn was op)
Eierwas: 1 eier geklits met 10 ml water
Swart mosterdsaad, nigellasaad of swart sesamsaad vir oorsprinkel

Roomkaasbasis:
1 x 200 g houer Kiri-roomkaas, kamertemperatuur
Handvol vars kruie, gekap
1 groot knoffelhuisie, gerasper
1 eiergeel
5 ml suurlemoensap
Sout en peper na smaak

Tamatievulsel:
250 g tamaties in verskillende kleure en groottes, sommige gehalveer en ander in dik snye
Sout en peper
30 g parmesaanskaafsels
Olyfolie
60 ml growwerige basielkruidpesto

Maak die korsdeeg: Plaas die mele, suiker, skil en sout in ’n voedselverwerker en pols drie keer om te meng. Voeg koue botter by en pols sowat 10 keer tot die botter ertjiegrootte is. Voeg yswater en asyn by, pols net genoeg tot ’n deegbal vorm. Keer uit op werksoppervlakte en vorm ’n plat sirkel, draai toe in kleefplastiek en verkoel 30 minute.

Voorverhit die oond na 200 °C. Voer ’n bakplaat uit met bakpapier. Strooi meel liggies oor werksoppervlak, rol die deeg in ’n 30 cm sirkel uit en plaas op die bakpapier.

Vir die roomkaasbasis, meng die roomkaas, eiergeel, knoffel, kruie, suurlemoensap en geurmiddels goed saam in ’n bak. Skep die mengsel in die middel van die deegbasis en smeer oor, maar los ’n 5 cm strook ongesmeer. Plaas die gesnyde tamatie (halwes met die snykant na bo) op die roomkaas, geur mildelik met sout en peper. Vou die deeg se kante oor en maak voutjies soos jy aangaan. Borsel met die eierwas en sprinkel die saadjies oor.

Bak tot die kors diep-goudbruin en deurgebak is, sowat 40 minute. Bedruip met pesto en strooi parmesaanskaafsels en basielkruidblare oor.

bedien

2-4

vooraf

40 min

bak

40 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Nog idees vir hierdie crostata

• Gebruik afgesnyde kersietamatie-bokante vir garnering.
• Groen tamatie gee ’n kleurkontras en aangename surigheid.
• Sprinkel geroosterde amandelvlokkies of effens-gestampte dennepitte oor vir ekstra krakerigheid.
• Kappertjiesaad pas goed by ryp tamatie.

scroll

lekker saam met

My wynkeuse by hierdie crostata? ’n Grootmeneer Chenin wat effe meer bied as die eendimensionele vrugtigheid van soveel Chenins. FAT bastard se Chenin Blanc 2018 is die antwoord. Dis ’n vermenging van die beste wyne wat hierdie ryp oesjaar opgelewer het. Die druiwe is vroegoggend gepluk en gepars terwyl hulle nog koel was om die intense aromas vas te vang. Die resultaat? Somer en sonskyn in ’n bottel met hope geelperske en net ’n titsel vanielje op die tong gevolg deur lemmetjie op die einde. Dis ’n wyn wat jy steeds proe lank nadat jy gesluk het

Die FAT bastard Chenin Blanc 2018 is landwyd beskikbaar teen R85-R95m. Dis baie goeie waarde vir wat jy in die glas kry. Maak ’n paar bottels hierdie somervakansie oop.

FAT bastard

scroll-main

Ook beskikbaar in: English