‘Gesond’ is die woord van die dag in die Melkkos & Merlot kombuis die laaste paar weke. As jy al ’n ruk lank saam met my en Merlot in die kombuis kuier wéét jy, ons skrik nie vir botter en room nie. Maar soustannie en cholesterol sit in die Boeregene, so vir elke dag se kook is ek nogal versigtig. Mens wil jou nou nie voortydig in ’n oop graf insmul nie.
Toe Parmalat dus hulle nuwe maaskaas reeks vir my gee om mee te eksperimenteer (sien hieronder) is ek in my noppies. Maaskaas is nie net ’n ding wat jy op ’n stuk komkommer smeer as jy ‘diet’ nie. Haikôna. Dis ’n veelsydige kombuiswonder met eindelose moontlikhede. Ek staan nog die spulletjie en betrag toe die mense van ZZ2 aan die deur klop met ’n boks barstensvol avokados, veselperskes en tamaties om hulle #MyHealthyPromise veldtog (sien hieronder) bekend te stel.
Maaskaas en tamaties. Hmmm… Saam op ’n sny brood is dit bra vervelig. Maar dit hoef nie te wees nie. Sit ‘n paar interessante ander dinge by, smyt die lot in filodeeg en siedaar, ’n tert wat jou puntenerigste vriendinne gaan beïndruk, gesond op die koop toe.
Al wat jy nodig het is…
400g spinasie of spinasiebeet (Swiss chard), stingels verwyder en goed gewas
1 bossie sprietuie (spring onion), insluitend die groen stingels
1E olyfolie
2 vet knoffelhuisies, fyn gekap
250-260g vars ricotta-kaas
250g Parmalat laevet (of volroom) gladde maaskaas
¼ koppie gekapte grasuie (chives)
¼ gekapte Italiaanse pietersielie
1½t sout
1t grofgemaalde swartpeper
1t neutmuskaat
2 ekstragroot eiers, geklits
pakkie filodeeg
ekstra olyfolie
pakkie ZZ2 baba tamaties op hulle stingels
Sit die gewasde spinasie in ’n droë pan oor lae hitte en sit die deksel op. Kook vir 2-3 minute tot die spinasie goed verlep is. Gooi die spinasie in ’n vergiettes en gebruik jou hande om soveel vloeistof moontlik uit die spinasie te druk. Kap rofweg en sit eenkant om af te koel.
Kap die sprietuie en braai hulle oor medium hitte in een eetlepel olyfolie tot sag. Voeg die knoffel by en braai vir nog ’n minuut of wat. Voeg die sprietuie by die spinasie, asook die pietersielie en grasuie.
Meng die ricotta-kaas, maaskaas, sout, peper, neutmuskaat en eiers met ’n vurk en voeg dit dan by die spinasie. Meng goed deur. Voer die bodem en kante van ’n losbodem tert- of koekpan met ’n strook filodeeg. Verg dit liggies met olyfolie en voer met nog ’n strook. Hou aan tot jy 6-8 lae het en onthou om elke laag liggies te verf. Skep die spinasiemengsel in die middel. Vou die kante van die filodeeg toe oor die spinasie. Bak teen die temperatuur aangedui op die filodeeg se pakkie tot die deeg bros en goudkleurig en die mengsel vuurwarm is. Dit vat so 30 minute. Gee die tamaties ’n kus olyfolie en rooster hulle op ’n bakplaat in dieselfde oond vir die laaste 15 minute van die bak.
Sit die tert op ’n fraaie bord met die tamaties bo-op, plus ekstra pietersielie en ’n paar basiliekruid-blare. Dien warm op. As jy nie hierdie tert op een slag verorber nie sal dit goed hou tot die volgende dag. Om die deeg bros te hou, verhit dit eenvoudig teen 100 grade Celsius in jou gewone oond, nié jou mikro nie!
bedien
6-8
vooraf
20 min
bak
30-35 min
goed om te weet
‘n R2 000 prys van ZZ2
Jy kan ’n prys ter waarde van R2 000 in ZZ2 se #MyHealthyPromise veldtog wen!
1. Koop eenvoudig enige ZZ2 produk.
2. Plaas ’n foto op hulle Facebook blad
3. En vertel hulle wat jou gesondheidsbelofte is saam met die woorde #MyHealthyPromise.
Maar jy moet wikkel want die wedstryd sluit 30 April!
lekker saam met
Daar is vyf keuses in Parmalat se nuwe maaskaas reeks. Die gladde een is beskikbaar in vetvry, laevet en volroom, terwyl die ‘chunky’ een beskikbaar is in vetvry of laevet. Ek hou van die lot. Die gladde een is so romerig, mens kan skaars glo dis goed vir jou. Ek het die laevet weergawe gebruik vir hierdie tert, maar vetvry of volroom sal beide werk. Die aanbevole winkelprys is R23,99.
Ek was ‘n tyd gelede siek wat toe maak dat ‘n engel vir ons kos aandra (die hoof van die huis se kulinêre vaardighede beperk tot braaivleis en potjiekos). Die dis wat die goeie vrou gebring het was heerlik: ‘n eenskottelgereg bestaande uit oa swartrys, chirizowors, ertjies en ontbytspek. Is dit dalk ‘n bekende dis met ‘n fensie naam of het jy dalk so ‘n resep wat wag om uit die vergetelheid ontruk te word?
Groete
Martha Pretorius
Hi Martha, klink vir my na ‘n weergawe van Spaanse paella, sonder die seekos! Jy gee my nou ‘n idee. Ek het juis chorizo in die yskas so ek gaan bietjie hierdie naweek speel.
Hallo Lizet,
Ek gaan dit beslis probeer omdat dit so lekker bekostigbaar is. Die kospryse gaan mal te kere!
‘n Maalveis druk vir Merlot.
Mooi bly en ek sien altyd uit na jou resepte.
Bets
Dankie Bets. Dis koud vanoggend. Merlot het haar tuisgemaak op die spaarkamerbed tussen my skoon wasgoed. Ek het nie die hart om haar daar uit te pluk nie. Wat is bietjie swart katjiehare op ‘n wit hemp nou tog. :)
Mens maar dis ‘n lekker blog waarop nou afgekom het. Ek’s mal oor filodeeg pakkies and die gereg lyk heerlik, maar vanaand hier in die verre VSA gaan ek jou Provensaalse skaapskenkel van 30 Junie 2014 probeer as jy nie omgee nie. Net soos jy is ek mal oor alles Frans en jou ingeslote aanhaling van Enemies of Promise bring heerlike herinneringe terug van ‘n besoek aan Avignon, St. Remy, Les Baux en Chateauneuf du Pape-wereld. As jy dit volgende keer sien sê namens my hello vir Tafelberg.
Hi, lekker om van jou te hoor. Tafelberg het vanoggend ‘n koue reënkombers aan, maar oppad verby het ek ‘n kus vir haar geblaas namens jou. Hoop julle het die skaap geniet.
Die was ‘n heerlike resep!
Ons area is wel nie so betroubaar met bestandele nie so ons moes bietjie aanpassings maak.
Ek het Marog pleks van spinasie gehad, en het sampioene bygevoeg. Ons kon glad nie Filo deeg vind nie en het dit vervang met ‘n Puff Pastry wat ek eerder toe net bo-op kleiner pasteitjies gemaak het met ook ‘n sprietui gegeeurde maaskaas om op te maak vir dei tekort aan vars sprietuie.
Die tamaties is defnitief ‘n moet saam die gereg!
Wonderlike slim aanpassing! Om plan te maak as mens ‘n ding nie kan kry nie is driekwart van die pret. :)