Sondag is Moedersdag. In ’n kalender wat gepak is met spesiale ‘dae’ wat alles vanaf Die Pannekoek tot Die Siviele Regte van Koedoes herdenk, is hierdie een van die min waarmee ek saamstem. Ma’s is spesiaal. Myne is al vir tien hartseer jare nie meer aan my tafel nie. Maar as sy was, sou ek vir haar Sondag hierdie Swartwoud poeding gemaak het. Donker en diep sjokoladegeur, soetsuur kersies, verleidelike room – al die dinge wat Swartwoudkoek so begeerlik maak, in poedingvorm!

Dis bitter eenvoudig maar luuks verby. Soos alle bitter eenvoudige luukse dinge, vereis dit bestanddele uit die boonste rakke. Dit beteken sjokolade met ’n kakao-inhoud van 70% of hoër. My keuse is Lindt. Vir die kersielaag kan jy vars kersies or gevriesde kersies met suiker stowe. Ek verkies die lui kok uitweg, en maak eenvoudig ’n bottel Bonne Maman kersiekonfyt oop. Dis duur ja, want dit kom al die pad van Frankryk af. Maar jy kan die vrugte sien en proe, en die tekstuur is perfekte stroperige ‘compote’ – dis eenvoudig ligjare voor enige kommersiële poginkies hier. (Suid-Afrikaanse jêm is gepak met vrugte-konsentraat, suiker en pektien – soveel daarvan dat dit jellie in ’n bottel word, iets wat ek sweer sal bons as jy dit laat val… Dit maak my skoon beneuk, so laat ek maar liefs nie verder uitwei nie.) Bonne Maman beteken natuurlik ook ‘goeie mamma’ in Frans, so dis ekstra gepas vir ’n Moedersdag poedingbederf!

Jy kan hierdie Swartwoud poeding op die dag maak, maar dit het drie ure in die yskas nodig. Gee jouself eerder minder stres hierdie Sondag en maak die sjokolade laag die dag tevore. Dan’s dit minder as vyf minute se werk vir die finale twee lagies net voor jy bedien.

Al wat jy nodig het is…

100g staaf Lindt 70% of 80% kakao-inhoud sjokolade
1½ koppies vars room (375ml)
2E espresso/sterk swart koffie
piepklein knippie sout
1 eierwit, teen kamertemperatuur
2½E strooisuiker
bottel Bonne Maman Cherry Preserve (Woolworths hou dit aan)
kakao of bietjie gerasperde sjokolade, vir die mooi

 

Plaas ’n halwe koppie van die room, ’n eetlepel strooisuiker, die sout en die koffie in ’n kastrol en verhit dit tot net voor kookpunt. Terwyl die room warm word, gee die onoopgemaakte staaf sjokoldae ’n harde klap of twee op jou kombuistafel. (Dit breek die sjokolade in klein splinters in twee sekondes. Niks gekerf met ’n mes nodig nie!) Verwyder die vuurwarm room van die hitte en voeg die sjokolade by. Laat dit staan vir so twintig sekondes en begin dit dan roer totdat die sjokolade heeltemal in die room in smelt. Laat dit afkoel tot kamertemperatuur.

Gebruik ’n elektriese klitser om nog ’n halwe koppie van die room styf te klits. Vou die room in die afgekoelde sjokolade in. Klits die eierwit (in ’n skoon glasbak met skoon klitser!) tot spierwit skuim waarvan die punte sag vou as jy die klitser uitlig. Voeg nou stadig ’n eetlepel strooisuiker by terwyl jy deurentyd klits tot die eierwitte styf is – m.a.w as jy die klitser uitlig staan die punte van die eierwit stokstyf. Gebruik ’n groot metaal lepel en vou versigtig die eierwit by die sjokolade mengsel in tot dit verdwyn. Skep in klein glasies, so twee derdes vol. Bedek met kleefplastiek en plaas in die yskas vir ten minste drie ure of oornag.

As jy reg is vir bedien, skep ’n eetlepel Bonne Maman in elke glasie. Klits die laaste halwe koppie room styf saam met ’n halwe eetlepel strooisuiker. Skep die room op die kersielaag. Sif bietjie kakao oor vir die mooi en jy’s klaar. As jy lus is vir ’n krakerige beskuitjie ding vir kontras met al daai fluweel in die glas, bedien hierdie poeding saam met sjokolade- of amandel-biscotti (beskikbaar by Woolies). Geseënde Moedersdag!

bedien

4-6

vooraf

30 min

yskas

3+hrs

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English