Ek’s mal daaroor as lesers vir my skryf en vra vir raad of vir ’n spesifieke resep. Enigste probleem met die resep versoeke is dat ek nie noodwendig blitsvinnig by alles kan uitkom nie. Maar absoluut niks word vergeet nie. As jy die moeite gedoen het om te skryf, doen ék die moeite om dit te onthou. Ek pop alles dadelik in my ‘eendag’ leêr. Hierdie resep het sy oorsprong in daai einste leêr. ’n Leser vra ’n ruk terug vir ’n anderse suurlemoen-skuimpietert, of soos my Ingelse kant van die familie sê ‘lemon meringue’. Daar’s tonne wat jy kan doen. Soos om lemmetjie en granadilla ook by te sit. Of om die knaap kop onderstebo te keer met die skuimpie laag onder – pavlova-styl.

Maar ek besluit ons vat dit verder en steek dit in die vrieskas – ’n suurlemoen-skuimpietert Alaska-roomys affêre. Hierdie is ’n poeding vir onthaal. Want kyk ek het nou al geleer – sit jy ’n ding op ’n hoë koekbord dink mense om een of ander rede jy’s die kat se snor en jy’t woes moeite gedoen. En dis nie geval nie. Want jy kan hierdie poeding woerts-warts 80% klaarmaak ’n dag of twee vooraf. Net voor die bedien kry hy sy skuimpie laag. Kom dit met ’n ‘blowtorch’ by vir die mooi en hoor hoe almal ‘oe’ and ‘ah’. Minimum werk, maksimum impak. Dís hoe kook moet wees.

Al wat jy nodig het is…

1 pakkie Tennis-beskuitjies
8E gesmelte botter
1 blikkie kondensmelk
4 ekstragroot eiers, geskei
fyngerasperde skil en sap van 3 groot suurlemoene
fyngerasperde skil en sap van 2 lemmetjies
250ml koue vars room
3E strooisuiker
200g suiker
5E water

Blits die beskuitjies in jou voedselverwerker tot fyn. Voeg die botter by die krummels en pols om goed deur te meng. Sproei ’n 20cm losbodem-koekpan met Spray ’n Cook en skep die krummels in. Gebruik die agterkant van ’n lepel om die krummels eweredig kompak te druk. Bak in ’n voorvehitte 180 grade Celsius oond vir 15 minute. Verwyder en sit eenkant om af te koel.

Maak intussen die vulsel. Sit 4 eiergele in ’n dubbelkoker saam met die kondensmelk, suurlemoensap en skil, asook lemmetjiesap en skil. (As jy nie ’n dubbelkoker het nie, maak eenvoudig een! Kies ’n vuurvaste diep bak wat perfek oor ’n pot pas. Sit ’n derde of wat water in die pot en laat dit stadig kook. Plaas die bak oor die pot en maak seker die pot raak nie aan die water nie.) Kook nou die eiermengsel oor ’n lae hitte terwyl jy aanhoudend klits. (Is jou hitte te hoog of jy klits nie heeltyd nie, dan kry jy roereier.) Die eiermengsel is deurgekook as dit ongemaklik warm vir jou is om jou vinger in te steek.Verwyder van die hitte en laat afkoel tot kamertemperatuur

Klits volgende die room met die strooisuiker tot styf. Vou dit versigtig by die eiermengsel in. Gooi die vulsel op die beskuitjie-basis en plaas in die vrieskas om hard te vries. (As jy hierdie poeding ’n dag of twee vooraf maak is dit die punt waar jy stop. Bedek net die eierwitte en hou hulle in die yskas.)

Net voor jy dit bedien word die skuimpielaag gemaak. Indien die eierwitte in die yskas was, haal hulle uit om kamertemperatuur te bereik. Anders as die Franse een, word Italiaanse meringue met vuurwarm gesmelte suiker gemaak wat die eierwitte kook terwyl jy klits. As jy nog nooit Italiaanse meringue gemaak het nie, moenie skrik nie. Dis makliker as wat dit klink. Sit eenvoudig die 200g suiker in ’n pot saam met die 5E water. Kook dit tot die suiker gesmelt is en die mengsel 120 grade Celsius bereik. (Jy sal ’n suikertermometer nodig hê.)

Dinge moet half terselfdertyd gebeur. Begin dus jou eierwitte in ’n groot skoon staalbak klits sodra jou suiker 100 grade Celsius bereik. (Jy kan ’n elektriese handklitser gebruik, maar ’n staanklitser soos ’n Kenwood maak dinge soveel makliker!) Teen die tyd wat jou suiker 120 bereik behoort die eierwitte styf geklop te wees. By styf bedoel ek die punte moet kordaat opstaan as jy die klitser uitlig. Gooi nou stadig die vuurwarm suiker in terwyl jy deurentyd klits. (Gooi die gesmelte suiker langs die kant van die bak af, nie direk op die klitser nie. Jy wil nie per ongeluk spat en brand nie!) Hou aan klits tot die meringue styf, blink en koelerig is.

Hierdie meringue is redelik stabiel, so dit kan geduldig staan en wag terwyl jy die roomys uithaal. Verwyder die gevriesde suurlemoen-poeding uit sy koekpan, tuimel die Italiaanse meringue op en gebruik jou ‘blowtorch’ om die knaap bruin kleur te gee.

bedien

8-10

vooraf

40 min

vries

4+ ure

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English