’n ‘Posset’ is nie ’n Afrikaanse ding nie. Dis ’n Engelse ding, en nie ’n Suid-Afrikaanse Engelse ding nie verstaan. Nee, hierdie is ’n Ingelse-Ingelse ding. My woordeboek vertaal ‘posset’ as ‘gekruide melk’. Afrikaanse woorde het ’n raakvat manier aan hulle, maar hierdie beskrywing is vir my die pad erg duister. Want daar is nie ’n krui in sig nie, melk ook nie.
Wat daar is, is dubbel-dik room, suiker en suurlemoen. Dis al. Jy gooi die lot vir drie minute in ’n pot en wat daar uitkom is romerige, soetsuur sielsverleiding. Dis ’n poeding om te maak as jy glad nie kan kook nie maar mense wil beïndruk. Skep dit in piepklein fraaie glasies of espresso-koppies, bedien dit met krakerige koekies en gee jouself tien uit tien.
Al wat jy nodig het is…
1 x 250ml bakkie dubbel-dik room (geen ander room as dubbel-dik werk nie, ek het Woolworths se Ayreshire Double Cream gebruik)
opgehoopte derde koppie strooisuiker
skil van een suurlemoen (so fyn moontlik, verkieslik gerasper met ’n Microplane)
6E suurlemoensap
Sit die suiker, die skil en die room in ’n dikbodem kastrol en plaas oor lae hitte. Roer totdat die suiker gesmelt is en laat vir drie minute prut. Verwyder van die hitte en roer die suurlemoensap by. Danksy die chemiese reaksie van die suiwel met die suur sal jy sien die mengsel begin sommer dadelik verdik.
Nou – en hiérdie is die belangrike deel – moenie die mengsel dadelik in jou individuele glasies of koppies gooi nie. Doen jy dít, is daar ’n groot kans dat die lot gaan skei, met ’n botterige bo-laag en ’n waterige suurlemoen laag onder hom – presies die teenoorgestelde van wat jy wil hê!
Ek gooi die mengsel uit in ’n groot bak om af te koel tot kamertemperatuur en roer die knaap ’n paar keer met my balonklitser gedurende die afkoel. Nou’s hy romerig en veerlig en reg vir skep in klein individuele glasies met g’n niks kans van skei nie. Verkoel die glasies met ‘posset’ in die yskas vir ten minste vier ure voor jy bedien.
As jy fênsie wil wees kan jy tuisgemaakte brosbrood gegeur met ’n sweempie laventel hierby bedien – laventel en suurlemoen is tog so ’n wenkombinasie. Maar ek sien glad nie die punt as ek nou ’n drie-minute poedingwenner gaan beduiwel met ’n spul koekie bakkery nie. Nee, ek sit my ‘posset’ voor met winkel gemmerkoekies of sommer goeie ou Nuttikrust!
bedien
3-4
kook
3 min
verkoel
4 ure
Los 'n Boodskap