Ek verstaan nie mense wat elke liewe dag met ’n huppel en ’n lied in die hart groet nie. Ek beny hulle. Maar ek verstaan hulle nie.
Kyk, Maandag is nie my gunsteling dag nie. Die blote gedagte dat hy voorlê maak my sommer grommerig – gewoonlik so hier van vieruur af op ’n Sondagmiddag.
Hierdie Maandag-storie van my het ’n geskiedenis wat terugstrek skoolbanke toe. Fräulein Krynauw was ’n liewe sagte engel, maar ’n dubbele periode ‘die, der und das’ so eerste ding in die week, was te erg. Dis gelukkig nou vaarwel aan my Germaanse hel, maar my Maandag-ding het gebly. Vir my is daar net een manier om die einde van die naweek op te helder – trooskos.
As dit by trooskos kom is ’n gekookte eier en roosterbroodvingers baie hoog op my lys. En as jy nou ‘n pot gáán vuil maak, hoekom dan dit maar nie die moeite werd maak nie?
In plaas van hoendereiers, wat van enorme eendeiers? In plaas van roosterbrood, wat van groot croutons brosgemaak in spekvet? Dis sonde, maar dis siels-noodsaaklike Sondagaand bederf. Gooi ’n paar slaaiblare by (skrikgemaak met ‘n skerp Dijon vinaigrette om deur al daai rykheid te sny) en spek en eiers word omtower in ’n danige 5-ster gedoente.
Ek gryp Merlot om op my skoot te kom spin en was my grênd trooskos af met ’n glas Chardonnay voor die 8-uur MNet fliek. Skielik is Sondagaand glad nie te onaardig nie. En Maandag kan maar kom.
Al wat jy nodig het is…
Vir die vinaigrette
3E rooiwynasyn
7E goeie olyfolie
1E Dijon mosterd
½ knoffelhuisie, fyngedruk
sout na smaak (onthou, sout is geur, so moenie skaam daarmee wees nie)
growwe swart peper na smaak
Vir die spek-en-eier slaai
4 eendeiers (As die idee daarvan vir jou te vreemd is, gebruik hoendereiers. Hulle is heelwat kleiner, so miskien twee per persoon.)
1 pakkie spek
pak gemengde slaaiblare
baguette of ciabatta brood, dagoud is beter as vars
Meng die slaaisous bestanddele (dit wat oorbly kan jy in ’n bottel in die yskas hou). Hoe langer hy staan, hoe beter. Braai die spek tot bros en dryneer op kombuispapier. Sny die baguette of ciabatta in dun snye, braai bruin in die spekvet en dreineer op kombuispapier. Posjeer die eendeiers. (Moenie skrik nie! Sien GOED OM TE WEET vir maklike verneuk advies.) Rangskik eiers met die slaaiblare, spek en croutons en gooi ’n blerts slaaisous oor.
bedien
4
vooraf
5 min
kook
20 min
goed om te weet
My maklike posjeertruuk
Die regte manier om ‘n eier te posjeer, is in kokende water met ‘n bietjie asyn. As ek een maak, gaan dit heel goed. Vra my om vier tegelyk te maak, en dinge begin lelik lol. Daarom kul ek.
Voer eenvoudig ‘n teekoppie met een blokkie kleefplastiek. Verf dit behoorlik met sonneblom- of olyfolie. Breek ‘n eier in die koppie. Vou die hoeke saam, draai en bind styf toe met ‘n stukkie tou. Dompel die geseëlde plastiekpakkie in ‘n pot kokende water tot die eier na jou sin is.
Die wonderlike ding van hierdie slenter, is dat jy die pakkie kan uitlig en liggies kan druk om te sien of hy reg is. Ek’s mal oor kook waar dinge eenvoudig nie verkeerd kan gaan nie!
lekker saam met
Vir enige ryk, romerige kos wat ‘n witwyn soek, is Chardonnay so te sê altyd die antwoord. Hierdie is Sondagaand trooskos, nie ‘n fênsie ding nie, so ‘n R80-bottel is nie wat ek soek nie.
Gelukkig is daar heelwat redelike opsies onder R40. Probeer Bellingham Douglas Green se 2012 Chardonnay.
Los 'n Boodskap