’n Goeie kerrie is ’n mooie ding. Ek praat nie van die flou poginkies wat mense hier in die Kaap kerrie noem nie. Ek wil nou nie iemand in die gesig vat nie, maar julle ken nie van nie. Ek praat van ’n properse Durban-styl kerrie. Een wat jou twee keer brand. En ’n kerrie is nie ’n kerrie sonder al die bygoedjies nie. Raita, sambal, poppadoms, Mev Ball se blatjang…

So toe die idee van ’n kerrie-soetpatat sop in my kop kom sit, dink ek uiteraard ook aan die ‘toppings’. Hierdie sop is romerige fluweel, dus is ’n bietjie kontras in die vorm van ’n krakerige, knarserige happie nie ’n slegte gedagte nie.  Toe gryp ek ’n paar poppadoms, sny hulle in dun lang linte en braai hulle vir ’n sekond of wat. Vars lemmetjies, koljander en klapper was al wat hy nog gevra het.

Al wat jy nodig het is…

Vir die sop
1 medium ui (so 1 koppie), fyngekap
2t gewone kookolie of, my nuwe gunsteling, kokosolie
1E vars gemmer, fyngekap
1 vet knoffelhuisie, fyngekap
1-2t kerriepasta (Ek het Packo Curry Paste wat ek by Checkers raakgeloop het gebruik. Hoeveel jy insit, hang af van hoeveel woema jy verkies.)
800g oranje soetpatats, geskil en in blokkies gesny
3k kookwater
1 blokkie hoenderaftreksel
4E klappermelk
sap van een klein lemmetjie
swartpeper en sout na smaak
6 poppadoms, in 4mm-wye linte gesny
gewone kookolie vir diepbraai

Vir biedien
lemmetjies
vars klapper
koljanderblare

Braai die uit in 2t olie tot sag. Voeg die knoffel, gemmer en kerrie by en braai vir twee minute. Voeg die soetpatats, water en hoenderaftreksel by. Bedek, draai hitte laer en kook vir so 20 minute tot patats sag is. Blits dit in jou voedselverwerker tot romerig (of druk dit deur ’n sif). As die sop te dik is, voeg klein bietjie water by. Roer die klappermelk by en sit eenkant.

Verhit kookolie (jy’t ten minste 2cm olie nodig) en braai die poppadom linte ’n paar op ’n slag. Hulle kook letterlik in 2-3 sekondes, so hou hulle dop! Dreineer op kombuispapier. Verhit sop en roer die sap van een lemmetjie by. Proe vir sout en voeg ’n paar draaie swartpeper by. Bedien met die poppadom linte, lemmetjies vir gaste om nog so skooitjie varsheid aan die sop te gee, koljander en klapper.

bedien

4

vooraf

5 min

kook

25 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Nog sop idees

As soetpatats nie jou ding is nie, kan jy botterskorsie of selfs pampoen probeer met hierdie resep. Vir nog ‘n liplekker bykos, kan jy ook klein pekeluie in fyn skyfies sny. Doop die ringe in bietjie meel en diepbraai tot bros.

lekker saam met

Kerrie werk wonderlik met ‘n wyn wat ‘n sweempie suiker het en baie aromaties op die neus is. Gewürztraminer is ‘n gunsteling. Dis ‘n druif wat traag groei en min dra. Gevolglik is daar nie baie wynboere wat met hom bodder nie, en die wat mens kry is geneig om duur te wees.

Teen net R69 by die kelder, is Simonsig se 2013 Gewürztraminer glad nie ‘n slegte kopie nie.

Simonsig Gewurztraminer

scroll-main

Ook beskikbaar in: English