Kyk, ek’s so mal soos die res van die land oor boerewors op ’n braai. En ’n sappige lamtjop, waarvan die vet só op die kole drup dat mens mekaar beswaarlik deur al die rook kan sien, maak my knieë lam.
Maar Nasionale Braaidag is ’n okkasie. Om wors en ’n tjop op die kole te gooi op dié dag ter dae, is vir my half soos om vir jou troue op te daag in ’n kakie-broek en vellies.
Aikona. Ek soek okkasie-vleis. In my boek beteken dit net een ding – ’n allemintige groot geroosterde boud, en skaap is heel bo aan my lys. Ek gaan hom nie in die oond rooster soos my ouma dit elke Sondag op die plaas gedoen het nie. Nee, ek doen hom op die Weber sodat hy al die wonderlike rokerigheid van ’n braai kan optel.
Hierdie is lui-braaier kos. Maak die vuur, gooi hom op en loop weg. Die boud sorteer homself uit terwyl ek lekker sit en kuier. Ek staan darem so af en toe op om hom te verf met ‘n Grieks-geïnspireerde marinade gepak met knoffel, origanum, olyfolie en ‘n paar ander interessante goed.
Wat bedien mens daarby? Net wat jy wil! Vir ’n rustige, lang buite-ete bly ek by my Mediterreense storie en sit dit voor met pita wat ek op die vuur warm maak, my groen lenteslaai met hope feta en mint en dik, romerige tzatziki.
Al wat jy nodig het is…
5E olyfolie
2E tamatiepasta
2E vars origanum (gedroog is ook reg)
2E water
1 groot knoffelhuisie (of twee kleines), fyngekap
2t donker sojasous
knippie growwe swart peper
1.8kg skaapboud
1E koemeel
Meng die olie, tamatiepasta, origanum, knoffel, sojasous, water en peper en sit eenkant sodat die geure lekker kan meng. Nou vir die braai… Hierdie resep moet ongelukkig in ’n braai met ’n deksel – ’n Weber of iets soortgelyks – gemaak word. Pak jou kole weerskante van die braai. Weber verkoop sulke halfmaan kolemandjies wat presies hiervoor bedoel is.
Sit ’n tinfoelie drupbak tussen die kolemandjies en gooi ’n halwe koppie water in. Al die wonderlike goed wat by die boud uitdrup terwyl hy braai word daarin opgevang en vorm die basis van ’n hemelse sous.
Sodra jou vuur reg is, sit jou skaapboud op, verf hom met marinade, deksel op en loop weg. Loer af en toe en verf hom nog ’n paar keer. As jou skaapboud reg is na nou smaak, haal die boud af en maak dit toe met tinfoelie sodat hy teen kamertemperatuur kan ‘rus’ vir ten minste 20 minute (langer is nog beter). Dit help om jou boud sappig te hou as jy hom sny.
Gooi die vloeistof wat in die drupbak opgevang is in ’n klein pot. Roer een eetlepel koekmeel by en kook vir ‘n minuut of twee terwyl jy roer. Gooi nou ’n klein bietjie water en enige oorblywende marinade by, roer en kook oor ’n lae hitte vir 5 minute. Die meel sal die sous verdik soos hy uitkook. Voeg enige ekstra vloeistof van die rustende boud by die sous, proe vir sout, ’n knippie swart peper en hy’s reg.
bedien
6
vooraf
5 min
kook
80 min
goed om te weet
Hoe lank moet ‘n skaapboud braai?
Ek verkies my skaap redelik pienk op die been. Die maklikste manier om te weet of hy gaar maar pienk is, is om ‘n vleistermometer te gebruik – 50 grade Celsius in die middel en hy’s reg vir my. As jy nie ‘n termometer het nie, reken op so 70-80 minute op die braai vir ‘n 1,8kg boud. Steek hom dan met ‘n mes en as die vloeistof wat uitloop nog so bloederig is dat jou skoonma ‘n floute wil kry, hou hom maar vir nog 5 minute op.
Onthou net, die boud gaan aanhou kook terwyl hy van die vuur af rus. As jy hom dus braai tot jy dink hy’s perfek, gaan hy óórgaar wees teen die tyd wat hy klaar gerus het
lekker saam met
As jy nou gaan uithang met ‘n skaapboud, is dit heel gepas om effe meer op jou wyn te spandeer. Lomond se 2009 Merlot is diep, diep in kleur met tonne swart vrugte op die neus.
Dis hier by die R85 merk. As jy iets goedkoper verkies, gryp Arabella se 2012 Merlot. Die kwaliteit is baie skaflik vir ‘n Merlot onder R45.
Los 'n Boodskap