Sjokoladekoek in Januarie… Dis ’n gevaarlike, verkeerde ding ek weet. Want eintlik is Januarie mos spesiaal gereserveer vir gestoomde groente, slaaiblare en vis. Dis nou ná jy hier aan die begin van die maand op die skaal geklim en ’n klein gilletjie onwillekeurig ontsnap het. So ja, hierdie resep vir sjokoladekoek moes eintlik jou kant toe gekom het vóór Kersfees. Maar ek het dit eers hier oor Kerfees by die familie in Pretoria vir die eerste keer geproe. En wag om dit te deel die wou ek nie. Want sien, anders as soveel sponskoeke wat ek al oor my lippe gedwing het is hierdie een ryk (danksy vier eiergele), lig (danksy vier styfgeklopte eierwitte) en klam (danksy die olie in hom in plaas van botter).

Ek’t ’n afgryse aan ’n droë koek mense, hierdie een is nie. Dis my 75-jarige bobaas bakster tannie se sjokoladekoek resep. Sy’t hom rojaal gesmeer met sommer twee blikkies van daai gekookte kondensmelk. Hy vra eintlik niks anders nie, maar in geval jy nou spesifiek ’n botterroom versiersel resep met regte, egte 70% sjokolade in soek, gee ek vir jou die resep daarvoor sommer ook. Mag jou 2018 gevul wees met vreugde, vrede en ’n onbeskof gesonde aptyt!

Al wat jy nodig het is…

Vir die sjokoladekoek

⅓ koppie kakao
¾ koppie kookwater
1¾ koppies koekmeel
1½ koppies suiker
3t bakpoeier
½ koppie gewone neutrale kookolie
4 ekstragroot eiers, geel en wit geskei
½ koppie louwarm water

Vir die sjokolade-botterroom versiersel
1 x 100g stafie liggesoute botter (ek het Lurpak gebruik), teen kamertemperatuur sodat dit maklik verroom
1½ koppies versiersuiker
3 opgehoopte eetlepels kakao
1t vanielje-ekstrak
½ koppie (70g) gekapte 70% kakao sjokolade (ek het Lindt gebruik), gesmelt en afgekoel
melk of room vir aanmaak

Om die sjokoladekoek te maak: Voorverhit jou oond tot 180 grade Celsius. Berei twee 20cm losboom-koekpanne voor deur die bodems met sirkels bakpapier wat presies pas te voer. Spuit dan die hele pan met Spray ’n Cook of iets soortgelyks.

Gooi die ¾ koppie kookwater op die kakao en roer om op te los. Sit eenkant om af te koel. Gooi die suiker in ’n groot mengbak en sif die meel en bakpoeier in. Maak ’n holte in die meelmengsel en gooi die opgelosde kakao, eiergele, olie en ’n halwe koppie louwarm water in. Klits dit deeglik met ’n elektriese handmenger.

Klits die eierwitte in ’n groot skoon staal- of glasbak tot hulle spierwit en styf is. (Die klitser moet natuurlik ook skoon wees. Dis half vanselfsprekend maar ek sê dit maar want heelwat huiskokke kry dikwels die ongesêde ‘basics’ verkeerd.) Gebruik ’n groot metaallepel en vou die eierwitte versigtig by die sjokolademengsel in. Versigtig is die wagwoord hier want jy wil soveel moontlik van die lug behou. Verdeel die mengsel tussen die twee voorbereide panne en bak vir 25 minute tot gaar. Moet NIE die oonddeur vóór dit oopmaak nie – daar’s net een ding erger as ’n droë koek mens en dis ’n plát een. Om te toets of die koek gaar is, steek ’n dun messie of sosatiestokkie in die middel van elke spons. Kom dit skoon uit, is dit gaar.

Om die sjokolade-botterroom versiersel te maak: Sny die botter in klein blokkies en sif die kakao en versiersuiker daarby in. Gebruik jou elektriese handklitser om dit te verroom. (Dit sal aanvanklik onmoontlik droog lyk maar hou net aan, die lotjie begin met mekaar praat.) Sodra dit romerig is, voeg die vanielje by asook die gesmelte sjokolade. Indien nodig verslap die versiersel met 2-4 eetlepels melk of room. Hou aan klits tot dit lig en baie romerig is. Natuurlik moet die koek koel wees voor hy versiersel kry!

Vinnige idees:

  • Smelt ’n paar eetlepels appelkooskonfyt en verf die sponslae daarmee voor jy die versiersel opsit. ’n Lepel brandewyn by die konfyt maak ook nie seer nie.
  • Doen dieselfde met kersiekonfyt in plaas van die appelkoos en tuimel ’n groot handvol vars kersies of ingelegde kersies bo-op die botterroom bedekte koek.
  • Doen ’n weergawe van ’n Swartwoud-koek deur vars room styf te klop met ’n paar lepels strooisuiker en bietjie kersiebrandewyn (kirsch) indien verkies. Smeer elke laag mildelik met die room en tuimel vars bessies soos framboos, aarbeie en bosbessies oor. As jy wil kan jy die bessies ekstra skop gee en ’n sousie vir hulle maak deur hulle met ’n lepel of wat suiker te bestrooi, ’n blerts kersiebrandewyn te gee en te laat staan vir ’n halfuur.

bedien

10

vooraf

30 min

bak

25 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English