My ouma is die jaar voor die Groot Griep gebore. Sy en haar ma het my as kind die stories van die groot elende vertel. Dit was abstrak. Onwerklik. En die idee dat iets soortgelyks ons ’n honderd jaar later kon tref was ondenkbaar. Ons het tog mos tegnologie. Ons het ’n man op die maan gesit. Daar’s ’n rekenaar en ’n kamera in my draadlose foon. En hier sit ons nou, nê. Toegesluit in ons huise en die wyn raak min.

Wat doen ek om te ‘cope’? Ek bak verwoed. Ek weet miskien nie wat gaan gebeur met die wêreld nie. Maar ek wéét sit jy meel en water en gis bymekaar, gaan dit rys. En twee ure later gaan jy iets warms hê om saam met ’n koppie rooibos te geniet. En dit laat my beter voel.

Tsoureki is ’n traditionele Griekse Paasbrood. Ek weet nie hoe ’n properse een proe nie want dit kry speserye wat nie in SA beskikbaar is nie. ’n Boer maak ’n plan en ’n ruk terug ontwikkel ek ’n weergawe met karwysaad en gedroogte rooibosbessies vir ’n kliënt. Dit was heerlik. Toe dag ek, hoekom nie verder met die knaap woeker nie? Wat van ’n tsoureki met gekapte sjokolade binne? En in plaas van die tradisionele hardgekookte hoendereiers, daai Paaseiers met die harde wit buitekant en soete sjokolade binnekant? Toe maak ek dit en hier is hy. As jy na is aan jou hare uittrek oor die kleingoed oneindig verveeld neul, sleep hulle nader om te help.

Al wat jy nodig het is…

3½ koppies broodmeel
1 x 10g pakkie droë gis (minus ’n ¼ teelepel)
½ hoogvol koppie suiker
2t sout
skil van een lemoen, so fyn moontlik gerasper
4E gesoute botter (kamertemperatuur sag)
½ koppie louwarm water
½ koppie melk
twee derdes koppie melk- of donkersjokolade (of ’n mengsel), gekap
1 eier, geklits met 2E melk of water
derde van ’n koppie melk- of donkersjokolade, gesmelt
Paaseiers, (die met die harde wit buitekant wat lyk soos regte eiers), geverf met rooi voedselkleursel

Verwyder ’n ¼ teelepel van die gis en gooi weg – as jy die hele pakkie gebruik is daar te veel gis in die resep. (NB: Dis nodig om presies te wees – gebruik ’n behoorlike ¼t maatlepel, nie ’n gewone teelepel waarmee jy jou tee roer nie!) Voeg die oorblywende gis by die meel, suiker en sout in ’n groot bak. Voeg die lemoenskil en sagte botter by en roer liggies in. Voeg nou helfte van die water en melk by en roer. Voeg die gekapte sjokoldae by en meng terwyl jy stadig die laaste melk en water byvoeg. Nou’s dit tyd vir 7-10 minute se knie. Tuimel die deeg uit op ’n oppervlak liggies bestrooi met meel. Die deeg gaan vreeslik nat voel aanvanklik. Moenie nog meel byvoeg nie. Soos jy knie sal die deeg se tekstuur verander en sal dit fermer en glad word.

Plaas die deegbal in ’n groot bak liggies geverf met kookolie, bedek met kleefplastiek en laat in ’n warm plekkie staan vir 60-90 minute tot die deeg verdubbel in groote. Knie vir ’n paar sekondes en sny dan die deeg in drie eweredige stukke. Rol met jou palms om drie lang ronde stroke te vorm en vleg dit soos jy ’n sesjarige se poniestert sal vleg. Vou die ente netjies onder in soos jy ’n laken onder ’n matras sal invou. Plaas jou vlegsel op ’n bakplaat gevoer met bakpapier en laat dit rys vir ’n uur. Verf die tsoureki met die geklitse eier en bak in ’n voorverhitte 190 grade Celsius oond vir 25-30 minute. Laat effe afkoel. Plaas lepels gesmelte sjokolade in die voue van die tsoureki en druk die Paaseiers in die sjokolade om hulle te anker. Bedien gesny met of sonder ’n leksel botter. Hierdie tsoureki is beste op die dag van maak. As daar die volgende dag tsoureki oor is, gebruik dit om ’n brood-en-botter poeding te maak!

(As jy eerder ’n karwy en rooibosbessie tsoureki wil maak: Voeg ’n opgehoopte eetlepel karwysaad (caraway) by die deeg, en vervang die gekapte sjokolade met gekapte rooibosbessies (dried cranberries). In plaas van die Paaseiers gebruik jy 3-5 regte eiers wat jy hard kook in water gekleur met heelwat rooi kleursel. Laat die eiers effe afkoel en druk hulle halfpad in die deegvoue in net voor jy die tsoureki in die oond sit.)

bedien

8

vooraf

2,5 ure

bak

25-30 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English