Nog net so 6 weke se slapies en dis Kersfees mense. Waar gaan die tyd? Ek het natuurlik al Kersfees op die brein sedert hier middel Augustus se kant. Dis maar hoe dit in die kosstilering wêreld is. Kliënte soek hulle resepte en kiekies woes vroeg. Nie dat ek omgee nie, dis my gunsteling tyd van die jaar ‘after all’.

Sjokolade-salami is ’n ideale poeding vir die feestyd. Dis vinnig, dis maklik, dit lyk indrukwekkend en dis verleidelik verby. Vleis is daar nie in hierdie knaap nie. Dié deel van sy naam kry hy van sy vorm. Wat hy wel bevat, is onbeskof baie sjokolade.

Meeste sjokolade-salami resepte het gekapte koekies in. Niks daarmee fout nie. Maar ek soek iets veel luukser, iets perfek vir belangrike dae en feestafels. Dus laat ek die koekies uit en speel met neute en droë kersies wat ek in brandewyn week. Tog te feestelik. Meeste resepte gebruik ook eiers en botter, maar ek gebruik dubbel-dik room. Dus is hierdie sjokolade-salami nie hard soos meeste ander nie. Nee, hierdie knaap is sag soos fluweel – veilig selfs vir Oom Samie met die valstande. Dink daaraan as ’n reuse salami-vormige sjokolade-truffel. Bedien dit met vars kersies en goeie vanielje-roomys en almal sal dink jy’s die kat se snor.

Al wat jy nodig het is…

VIR DIE SJOKOLADE-SALAMI
100g droë kersies (jy kan ook droë bosbessies ‘cranberries’ gebruik)
¼ koppie brandewyn (ek gebruik KWV se 3-jaar-oud vir al my kook en bak)
250ml dubbel-dik room (Woolworths ‘Ayershire double thick cream’)
100g 70% donkersjokolade (ek het Lindt gebruik)
3 x 80g melksjokolade stafies (ek het Cadbury’s gebruik)
100g amandels, liggies gerooster in ’n droë pan en rofweg gekap (of gebruik ’n mengsel amandels, haselneute en pistasieneute)
2E kakao
1E versiersuiker
VIR BEDIEN
ekstra kakao en versiersuiker
vars kersies
vanielje roomys

Verhit die brandewyn en gooi dit oor die droë kersies. Laat die kersies vir ten minste ’n halfuur staan voor jy hulle dreineer. Hoe langer, hoe beter. Breek die sjokolade in klein blokkies en plaas in ’n groot glasbak. Plaas die bak op ’n kastrol water wat liggies kook, maar moenie dat die glasbak aan die water raak nie. Roer af en toe en verwyder van die hitte sodra die sjokolade gesmelt is.

Voeg die res van die bestanddele by die sjokolade, meng deur en laat afkoel vir ten minste ’n uur sodat dit makliker is om te vorm. Sif ’n groot stuk bakpapier mildelik met kakao. Gebruik ’n groot lepel om die sjokolade in die middel van die bakpapier te skep. Mik vir ’n 20cm ‘wors’. Vou die bakpapier oor die sjokolade-salami en masseer dit liggies tot jy ’n perfekte ronde salami-vorm het. Druk die kante toe, amper soos ’n groot Kersklapper en plaas in die yskas om af te koel vir ten minste vier ure. (Dit hou vir ’n week in jou yskas, so jy kan dit vooruit maak.)

Hierdie sjokolade-salami moet fluweelsag en verleidelik op die tong wees. Haal dit dus 30-60 minute voor jy bedien uit die yskas. Ek’s doelbewus frustrerend vaag hier want as dit so warm is dat die kraaie gaap, gaan hy natuurlik vinniger reg wees vir bedien. Plaas die heel sjokolade-salami op ’n fraaie bord, sif kakao en versiersuiker kunstig oor en bestrooi mildelik met vars kersies. Dra dit tafel toe en hoor hoe jou mense ‘ooh’ en ‘aaah’.

bedien

10-12

vooraf

60 min

verkoel

4 ure

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Nog sjokolade-salami idees

1) As jy nie brandewyn wil gebruik nie, week die kersies in swart rooibostee.

2) Gebruik maraschino kersies in plaas van droë kersies. Dan is die week in brandewyn natuurlik nie nodig nie!

3) Gebruik versuikerde lemoenskil en haselneute in plaas van die kersies en amandels.

4) Vervang die kersies en amandels met grofgekapte blokkies roosgeurige Turkse lekkers. Borduur voort op die roostema en versier die bord met versuikerde of vars roosblare.

scroll

lekker saam met

Borrels hierby is ‘n blink idee. Ek het laas Saterdag Alvi’s Drift se Ad Thornlands MCC vir die eerste keer geproe. Ek weet nie of dit die vroë Kaapse somersdag was of die wonderskone Simonsberge in die verte nie, maar ek het daarvan gehou. Sommer baie. Op die neus is daar die broderigheid tipies van ‘n MCC. Op die tong geroosterde amandels, ‘n perfekte huwelik met die amandels in die sjokolade-salami. Hierdie MCC (m.a.w die tweede fermentasie find Méthode Champenoise-styl in die bottel plaas) bestaan uit 70% Chardonnay en 30% Pinot Noir.

Teen tyd van publikasie aanlyn beskikbaar teen R110 per bottel. Goeie waarde vir ‘n lieflike MCC. Kry beslis ‘n bottel of twee hiervan vir jou feestafel.

Alvi's Drift

scroll-main

Ook beskikbaar in: English