Ek’s dol oor pasta – en daarom bestel ek dit nooit, ooit in ’n restaurant nie. Hoekom nie? Want nege keer uit tien foeter hulle dit op. En ek’s nou moeg daarvoor om te betaal vir iets wat ek ’n honderd keer beter self kan maak.
Ordentlike pasta vat nie veel nie… Pasta gekook tot dit net-net al dente is, in plaas van pap soos ’n weekoue babakat. Nie swemmend in liters smaaklose sous nie, maar gekus met ’n sweempie iets interessants. Die geheim? Kwaliteit bestanddele en ’n halwe brein. Vat my sampioen-pasta. Nie bleeksiel sampioene nie, maar portabellini-sampioene propvol aardse geur. Nie poeierige pakkie parmesaan nie (dis 50% saagsels, 50% huisstof as jy my vra), maar ordentlike vars parmesaan wat jy self rasper. En natuurlik die beste eier-pasta wat jy kan kry (tuisgemaak is selfs beter). Probeer dit. Jy sit weliswaar jou mond nooit weer aan restaurant pasta nie.
Al wat jy nodig het is…
1E olyfolie
3 repe spek, fyngekap
2E gesoute botter
250g portabellini sampioene, fyngesny
halwe teelepel knoffel
2 takkies vars tiemie
12E room
4E gerasperde parmesaan of pecorino
sout en vars growwe swartpeper na smaak (jy’t meer nodig as wat jy dink!)
gaar pasta van jou keuse
ekstra parmesaan, vir bedien
Braai die spek in die olyfolie tot dit ekstra bros is. Verwyder and dreineer op kombuispapier. (Hou die spekvet in die pan, dis pure geur.) Voeg botter by die pan en voeg die sampioene en tiemie takkies by. Braai tot amper gaar. Voeg die knoffel by vir die laaste paar minute se braai.
Voeg die room en parmesaan by asook ’n stewige knip sout en peper en verhit. Voeg pasta by en roer deur. Proe weer vir sout en peper. Sprinkel spek krummels oor en sit dadelik voor saam met ekstra parmesaan.
bedien
2
vooraf
10 min
kook
15 min
goed om te weet
Hoe om perfekte pasta te kook…
Gebruik ‘n groot pot en baie water. Sodra die water lustig kook, gooi sout in (‘n stewige lepel of wat sout, jy’t meer nodig as wat jy dink). Kook, sonder die deksel, op hoë hitte. Roer een of twee keer om te keer dat die pasta aanmekaar vasklou. Sommige mense sê jy’t olie in die water nodig. As jy genoeg water gebruik en dit kook vinnig genoeg het jy dit rêrig nie nodig nie.
Toets die pasta sodra dit begin sag lyk – die byt toets is die beste. Goeie pasta moet ferm wees as jy dit byt. Party Italianers verkies dit so ferm (al dente) dat dit nog hard en rou reg in die middel is. Hoe al dente jy dit verkies is jou saak, maar pap pasta is ‘n ongedierte. Dreineer die pasta en plaas terug in die pot. Moet dit nié afspoel nie! ‘n Klein skoot olyfolie by en hy’s reg vir sy sous.
lekker saam met
Chardonnay hanteer romerige ryk kos goed. Hierdie is gewone weeksaand pasta, so ek sal nie ‘n plaas se prys spandeer nie.
Leopard’s Leap se ongehoute Chardonnay is heel skaflik. Lieflike appel op die tong, lemmetjie op die neus, vris en vars. Teen onder R50 glad nie ‘n slegte kopie nie.
Los 'n Boodskap