Ek’t bietjie gedink oor hierdie saak en besluit aan die einde van die dag kan jy mense wat kook in twee kategorieë verdeel. In die een groep dié met netjiese kaste en woes georganiseerde yskaste. Hulle’t aandele in Tupperware met alles ‘colour coded’ – soort-by-soort bymekaar, in nette rye soos kadette op parade. En dan’s daar die ander lot…
Dié van ons wat oorskiet bredie in vanielje-roomys bakke skep vir die vries. En die bietjie blikkie-tuna wat dit nie op middagete se broodjie gemaak het nie beland in ’n margarien bakkie, waar hy in die hoek van die yskas vergete lê tot ’n nuwe lewensvorm in hom begin gestalte kry. Ek wens ek was deel van die eerste groep. Ek issie. Ek’s nommer twee, my lewe ’n verbete styd vir perfekte orde wat ek oor en oor verloor. Maar ek’s g’n hênsopper nie, ek veg voort . Oor hoe ek is, kook ek liefs alles op een slag. Maar as bietjies vars bestanddele dan nou móét oorbly gebruik ek hulle so vinnig moontlik. Want ek weet oor’n week gaan hulle neuk.
Hierdie resep is my ‘go-to’ vir as ek net ’n handjievol sampioene oor het. Twee snye brood, bietjie mozzarella en tonne kruie en in minder as ’n halfuur smul ek aan die luukste geroosterde broodjie wat ek ken.
Al wat jy nodig het is…
4E tbs olyfolie
½t fyngekapte knoffel
1t fyngekapte vars roosmaryn
250g sampioene (die aardse geur van portabellini is ’n gunsteling)
1E olyfolie
2E botter
opgehoopte ½t tsp vars tiemie
1E fyngekapte vars pietersielie
1t gerasperde suurlemoenskil
1E suurlemoensap
groot knip growwe swartpeper
knip seesout
8 snye ciabatta
2 koppies gerasperde mozzarella (Wenk: ek vries gerasperde mozzarella om seker te maak daar’s altyd ’n bietjie in die huis)
Meng die 4E olyfolie met die knoffel en roosmaryn en sit eenkant sodat die geure kans kennis maak. Vee die sampioene skoon met ’n klam vadoek of sagte sampioenborseltjie en sny hulle dan. Verhit ’n kleefvrye pan en voeg 1E olie en die botter by. Voeg die sampioene by en roerbraai oor medium-hoë hitte tot gaar en sag. Voeg die kruie, skil en suurlemoensap by en braai vir nog so ’n halwe minuut. Gee dit ’n stewige draai swartpeper en ’n knip sout. Skep die sampioene uit en vee die pan skoon.
Verf die brood liggies met die knoffel-roosmaryn olie. Let wel, verf slegs één kant van die brood. Draai dan die snye om sodat die olie kant na onder wys. Skep sampioene op 4 van die snye en bedek mildelik met kaas. Bedek met die vier orige snye brood, onthou om seker te maak die droë kant van die brood wys na binne en die oliekant na buite. Braai die broodjies in die kleefvrye pan oor medium-lae hitte tot goudbruin aan albei kante en gesmelt binne. Bedien dadelik.
bedien
4
vooraf
10 min
kook
20 min
Los 'n Boodskap