Anders as meeste mense gee ek nie juis om vir toustaan in supermarkte nie. Want sien so met die staan kry ek dikwels idees. Soos die ander dag in Woolies, toe ek ‘Turkish Delight’ in sjokolade gewaar. Ek’s nie veel van ’n Turkish Delight aanhanger nie want ek háát enigiets jellierig. (Jy kan dink wat ’n marteling bazaar-poeding vir my is.) Maar ek’s mal oor die roos van Turkish Delight, nog meer so as jy dit met sjokolade kombineer.

En dit sit my aan die dink. Hier’s die resultaat – roos roomys happies in sjokolade (soort van Italian kisses, met ’n verskil). Vrolik, prettig en vroulik, bedien hierdie roos roomys happies aan die einde van ’n ete vir vriendinne. Saam met sjampanje… pienk natuurlik.

Al wat jy nodig het is…

Vanielje-roomys (nie die duur een met regte vanielje nie, sommer enige gewone een)
Melksjokolade
Rooswater
Rooi voedselkleursel

Smelt die sjokolade (sien goed om te weet hieronder) en gebruik ’n kwassie om sjokolade vormpies met sjokolade te verf. (As jy nie spesiale sjokolade vormpies het nie, gebruik sommer ysbakkies.) Plaas in die vrieskas tot sjokolade hard is. Verf die vormpies met ’n tweede laag sjokolade en vries weer. Verwyder die roomys en laat dit net-net sag genoeg word om maklik te kan roer. Voeg ’n paar druppels rooswater by (wees konserwatief en proe liefs hoe ‘roserig’ jy daarvan hou). Voeg ’n druppel of twee kleursel by en meng deur. Skep lepeltjies roomys in die gevoerde sjokolade vormpies en vries tot hard. Skep ’n laaste bietjie sjokolade oor die roomys en vries tot jy hulle bedien.

kook

2

vooraf

20 min

vries

60 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Die maklike manier om sjokolade te smelt…

Jy kan sjokolade op die outydse manier in ‘n pot oor warm water smelt. Maar dis soveel makliker in die mikro! Breek eenvoudig die sjokolade in blokkies en sit in ‘n glasbak in die mikro. Blits die sjokolade op vol hitte vir 30 sekondes op ‘n slag. Haal dit uit na elke 30 sekondes en roer – selfs al lyk die blokkies nog hard moet jy hulle roer. Hou aan met die 30 sekondes/roer storie in jy’t sommer tjoef-tjaf gesmelte sjokolade.

lekker saam met

My keuse hierby is ‘n ou gunsteling, Simonsig se Kaapse Vonkel Rosé MCC. Dis lieflik salmkleurig en bevat 53% Pinot Noir en 2% Pinot Meunier (albei eg Franse kultivars wat vir sjampanje gebruik word). Maar dan is daar ‘n stewige Suid-Afrikaanse klap – 35% Pinotage.

Die 2013 het 4 sterre in die nuutste Platter gids. Dit verkoop aanlyn by Simonsig vir R105. Maar met Kerfees wat kom, begin ek goeie winkelpryse sien en het een vir net onder die R100 raakgeloop.

Simonsig Paakse Vonkel

scroll-main

Ook beskikbaar in: English