Ek’t eintlik bedoel om iets heel anders vir hierdie week te doen. Iets wat daai goedkoop stroke Paaseiers met die malva binne sou behels. Iets haas-parmantig met my tong stewig in die kies.
Maar toe kry ek ’n e-pos van die mense by Fairtrade – ’n uitnodiging om deel te neem aan hulle ‘Fairtrade Fortnight Foodie Challenge’ wat saamval met hulle ‘The Power Of You’ veldtog. Sonder om te twyfel sê ek toe ja. Want sien, die mense by Fairtrade verteenwoordig soveel van die dinge waarin ek glo.
In hulle eie woorde is Fairtrade: “an ethical certification whose main aim is to promote more equality and sustainability in the farming sector. A product that carries the Fairtrade Certification Mark has met the rigorous Fairtrade Standards, which focus on improving labour and living conditions for farming communities and on promoting a way of farming that doesn’t harm either people or the environment.”
Dis baie woorde, maar eitlik beteken dit rêrig net dit: om OM TE GEE – vir mekaar en vir ons planeet. Opgewonde maak ek my geheime pakkie oop en ontdek… Bean There koffie (ek het al oor hulle geskryf, lees hier), De Bos Merlot (hoe gepas) en Green & Black’s donkersjokolade. Hmmm. Die reëls sê ek moet al drie gebruik. Ek kan aan sommer ’n hele paar opsies dink, maar dis Pase, so sóét wil ek hê.
Hier’s hy: my rooiwyn-geposjeerde pere met koffie-sjokolade sous, kits amandel roomys (want pere lief amandel) en (omdat ons iets bros nodig het) amandel ‘brittle’. Geseënde Pase. As julle ry, ry veilig. En waar julle ook al is, maak ’n verskil. Dis die ‘Power Of You’.
Al wat jy nodig het is…
Vir die pere
4 pere
2k rooiwyn (ek’t De Bos Merlot gebruik)
1k suiker
4 naeltjies
1 stuk pypkaneel
Vir die amandel ‘brittle’
½k amandelvlokkies, lig gerooster in ‘n droë pan
1k suiker
Vir die koffie-sjokolade sous
¾k vars room
100g 70% kakao donkersjokolade (ek’t Green & Black’s gebruik)
¼k sterk koffie (ek’t Bean There gebruik)
2E goue stroop
Vir die amandel-roomys
Goeie vanielje-roomys
Goeie amandel essens (ek verkies Woolies s’n)
Om die pere te maak: Voeg die rooiwyn, speserye en suiker in ’n pot en kook tot die suiker opgelos is. (Wenk: Die pere moet knus sit en bedek wees met die wyn, gebruik dus ’n kleinerige pot.) Skil die pere (Wenk: Hou die steeltjies aan, dit maak die pere makliker om op te tel en is boonop fraai.) Sit die pere in die wyn en kook met die deksel op tot die pere sag is. (Wenk: Ja, ek’s sommer vol van hulle vandag… gebruik pere wat effe hard is sodat hulle nie uitmekaar val met die kokery nie.) As die pere sag is, verwyder van die hitte en laat die pere in die rooiwyn afkoel. Jy kan dit teen kamertemperatuur of koud bedien.
Om die ‘brittle’ te maak: Sproei ’n bakplaat met Spray ’n Cook. Smelt die suiker oor medium hitte. Sodra dit goudkleurig en heeltemal gesmelt is, gooi dit op die bakplaat en sprinkel dadelik die amandels oor. Sit eenkant om hard te word.
Om die roomys te maak: Smelt die roomys net genoeg sodat dit maklik is om te roer. Voeg amandel essens by en meng. Smaak verskil, so gee dit net ’n paar druppels op ’n slag en proe wat vir jou lekker is. Ek hou nogal van heelwat. Plaas terug in die vrieskas om ferm te word.
Om die koffie-sjokolade sous te maak: Kap die sjokolade in klein stukke. Verhit die room tot net onder kookpunt. Verwyder van die hitte en roer die sjokolade by tot dit gesmelt is. Roer dan die koffie en die stroop in en laat dit afkoel tot kamertemperatuur.
Bedien die pere met ’n stewige skep roomys, ’n stuk ‘brittle’ of twee en die koffie-sjokolade sous.
bedien
4
vooraf
30 min
kook
30 min
goed om te weet
Meer oor ‘brittle’
Jy het twee keuses as dit kom by ‘brittle’ maak. (Sal iemand asb. vir my skryf en sê wat dit in Afrikaans is?!) Jy kan die suiker eerste uitgooi en die neute op dit, soos ek hier gedoen het. Of jy kan die neute eerste op die bakplaat sit en dan die suiker. Dit vang die neute in die suiker vas en gee dit ‘n wonderlike glans.
Jy kan so se sê enige neute gebruik – haselneute, pistasieneute, pekanneute. Die lot. En natuurlik grondbone! Om te verhoed dat die suiker begin sweet, hou jou ‘brittle’ in lugdigte houers. Of, beter nog, verorber dit sommer dadelik.
lekker saam met
Hierdie Pase maak ek beslis ‘n wonderlike bottel borrels by my poeding oop. Lanzerac het so pas hulle tone in die water gesteek met hulle eerste MCC (Méthode Cap Classique), vrygestel in Desember 2014. Dis 100% Chardonnay, met druiwe wat uit drie verskillende blokke kom. Soos ek verwag van ‘n premium MCC, is die borrels lieflik fyn. Dit het sitrus op die neus, wat ek sal verwag van die Chardonnay. En op die tong het dit wonderlike gisserige beskuitjie/brioche geure. Nes dit moet wees.
Teen R220 by die kelder, is hierdie ‘n spesiale okkasie vonkelwyn wat ek beslis weer en weer sal oopmaak.
Los 'n Boodskap