Ma’s is geneig om raad uit te deel – mikro lewenslessies wat veronderstel is om kleingoed die weg te wys en hulle lewenspad afdraand te maak. Dis nou al my maatjies se ma’s. So tussen die klavier en poësie deur, het my ma haar nie veel aan sulke dinge gesteur nie, behalwe om vir my te sê ek moet nooit stukkende onderklere aantrek nie – veral nie as ek ’n lang pad gaan ry nie. Ek’s nie seker wat dié ding met lang paaie en onderklere sonder gate was nie, ook nie wat sy gedink het sal gebeur as ek dit doen nie. Al wat ek weet, is dat ek lewenslesse die harde manier moes leer – op my eie.

Ek lieg lekker oor my ouderdom, vir ’n paar dekades lank al, maar as jy nou onbeskof gaan wees en my gaan dwing, sal ek erken ek’s al ’n paar keer om die blok. Wat’s die raad wat ek heel bo aan my lysie sal sit vir enigiemand wat vra? Moenie dat hulle jou sien sweet nie.

Dit werk vir so te sê enige situasie. Werksonderhoud? Moenie dat hulle jou sien sweet nie. Toe-oog afspraak? Skoonouers ontmoet? Hofverskyning vir al jou onbetaalde spoedboetes?

Maar die belangrikste van als is in die kombuis. Wat daarvan as ’n dis ’n kolossale flop is? Sit ’n fraaie frok en bloedrooi lippe aan en glimlag onbesorg breed.  Dís hoe jy kombuisgodin status in jou vriendinne se oë kry.

Jy kan natuurlik jou reputasie bietjie aanhelp deur bestanddele in die kas en yskas te hê wat jy in ’n oogwink in iets interessants kan omtower – soos my rooiui-en-spek marmelade. Dit hou vir so twee weke in die yskas, maar in my huis verdwyn dit lank voor dan. Skep dit op bros bruschetta met ’n paar skywe verouderde parmesaan. Smeer dit op sagte witbrood met ’n handvol sterk cheddar-kaas en gooi dit in die Snackwich. Sit ongeërg terug en kyk hoe beïndruk jou onverwagse gaste is.

As jy bietjie wil uithang, bedien dit op bros beskuitjies met ’n gorgonzola-kaas mousse.  Kombuisgodin verby.

Al wat jy nodig het is…

Vir die rooiui-en-spek marmelade
1 pakkie (250g) skouer of rug spek
2E kookolie
3 groot rooiuie (400g), fyn gesny
1 huisie knoffel, gekap
knippie rissievlokkies
1 groot eetlepel vars tiemie
3E bruinsuiker
3E rooiwynasyn
2E swart espresso of filterkoffie

Vir die kaas-mousse
1 pakkie (100g) roomkaas – ek’t Fairview s’n gebruik
4E gorgonzola-kaas – ek’t Fairview se Blue Tower gebruik
3E melk
¼t growwe swartpeper
¼t vars room
knippie sout

Vir die beskuitjies
botter blaardeeg of filodeeg (plus ekstra botter en swart ‘poppy seeds’ as jy die filo gebruik)

Sny die spek en braai dit in die olie tot brosbruin. (Wenk: gebruik ’n dikbodem pan.) Verwyder en sit eenkant. Dreineer al die vet uit die pan behalwe een eetlepel. Braai die uie oor ’n lae hitte in dieselfde pan tot sag (moenie die uie brand nie). Voeg die knoffel by en braai vir nog ’n minuut. Voeg die spek, rissie, tiemie, suiker, asyn en koffie by. Bedek en kook oor ’n baie lae hitte vir 60-90 minute tot dit dik en konfyterig is. (Nota: Hierdie resep kry min vloeistof, maar as jou pan goed toe is en jou hitte laag genoeg is, is dit voldoende aangesien die uie vloeistof afgee.) Verwyder van die hitte en laat afkoel tot kamertemperatuur.

Om die mousse te maak, gebruik ’n vurk om die roomkaas, melk en gorgonzola te meng tot dit glad is. Voeg die sout en peper by. Klop die room tot styf en vou dit versigtig by die kaasmengsel. Plaas in die yskas tot jy dit gebruik.

Vir die beskuitjies: gebruik ’n koekiedrukker om sirkels uit die blaardeeg te druk. Plaas op bakpapier op ’n bakplaat, bedek met nog ’n laag bakpapier en nog ’n bakplaat. Jy soek die wonderlike lae van blaardeeg, maar nie die pof nie, dus maak ek die lotjie swaarder deur ook ’n oondvaste bak op die boonste bakplaat te plaas. Bak tot bros en goudbruin – so 30 minute. My gunsteling hierby is egter filodeeg. Plaas vier velle filodeeg op mekaar (verf elke vel met gesmelte botter voor jy die volgende vel opsit). Verf die boonste laag met gesmelte botter, strooi swart poppie saadjies oor, sny in vierkante en plaas hulle op ’n kleefvrye bakplaat. Bak tot bros en goudbruin – dit vat so 10 minute. OF as jy lui voel (en daar’s niks daarmee fout nie) bedien dit met mini ‘digestive’ beskuitjies (beskikbaar by Woolies).

bedien

6

vooraf

20 min

kook

90 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Oor Muscat de Frontignan

Muscat de Frontignan is ‘n wyn met ‘n lang geskiedenis. Dis tradisioneel ‘n soetwyn gemaak van Muscat druiwe en afkomstig van die dorp Frontignan in die Languedoc-Roussillon wynstreek in die suide van Frankryk. Op sy tyd was dit ‘n gunsteling van groot geeste soos die filosoof, Voltaire, en die Amerikaanse president, Thomas Jefferson. Vandag se Muscat de Frontignan is steeds soete verleiding, maar dis baie varser en ligter as donkiejare terug s’n.

Bedien dit yskoud in klein glasies. Dis heerlik saam met soetgoed met hope spesery soos vrugtekoek, saam met kersies en neute, saam met gorgonzola kaas of saam met romerige hoenderlewer of eendpatee.

lekker saam met

My keuse hierby is Leopard’s Leap se Culinaria Muscat de Frontignan. Dis die lieflikste salmpienk kleur met hope rooswater en Turkish Delight op die neus asook ‘n titsel lietsjie en suurlemoen.

Soet maar vars, Leopard’s Leap se Muscat de Frontignan is bederf in elke teug met ‘n relatief lae alkoholvlak van 11.5%. Bedien dit yskoud as die son sak! Dis te koop by die kelder of aanlyn vir slegs R72 per bottel.

Muscat

scroll-main

Ook beskikbaar in: English