Iets is nie noodwendig ’n wonderlike idee net omdat baie mense dit doen nie. Vat ‘tanning’. Ja ek gebruik die Engels, want as tiener was ’n tên opsluit wat ek wou hê. Ek en my pêlle het ons dik gesmeer van die Johnson’s baba olie. Dít of olyfolie. En dan het ons vir ure kaal en bleek-pienkwit in die genadelose Afrikason gelê. Waarna ons gewoonlik nie meer kon lê óf sit nie, sommer vir ’n hele paar dae. Nie die beste idee in die wêreld nie.
Ek voel dieselfde oor gekookte rooikool-en-appel. Duisende mense wêreldoor vrek vir hierdie dis. Selfs my gunsteling druk-beertjie celeb sjef, Rick Stein, het dit bedien saam met eend-confit op sy wonderlike French Odyssey program. Dit het na so gawe idee gelyk. Tou nou nie. Want sien, hier’s die probleem met kool: maak nie saak hoeveel neutmuskaat, naeltjie of kaneel jy by hom neuk nie, kook jy vir hom lank, ontwikkel hy ’n klankie amper soos die onvermydelike byproduk van ’n essensiële proses in jou pens. En dit mense is nie ’n ding wat ek in my mond wil sit nie.
Tog het die idee van rooikool, appel en geurige winter speserye meriete. Toe speel ek bietjie daarmee. Wat as ek die kool en appel superfyn kerf en rou hou? Wat as ek korrente en okkerneute bygooi? En wat as ek die lot mildelik laaf met ’n warm vinaigrette van esdoringstroop, kruienaeltjies, kaneel en neutmuskaat? Toe doen ek dit en dit werk. Hier’s hy, my resep vir rooikool met appel. Dis perfek saam met enige varkvleis of eend, en die soort slaai wat ek bereid is om in die winter te eet.
Al wat jy nodig het is…
VIR DIE WARM VINAIGRETTE
3E esdoringstroop
1E rooiwynasyn
1E gewone groente- of sonneblomolie
⅛t Robertson’s kaneel
groot knip Robertson’s kruienaeltjies
⅛t Robertson’s neutmuskaat
groot knip sout
VIR DIE SLAAI
3 koppies rooikool, fyngekerf
2 appels, in dun skwye gesny (ek het bros klein Pink Lady appels gebruik)
klein handvol okkerneute (opsioneel, laat uit as jy allergies is)
klein handvol korrente
1 wortel, gesny or gerasper (opsioneel)
Verhit die vinaigrette bestanddele oor baie lae hitte vir twee minute. Tuimel die slaai bestanddele op ’n mooi bord. Gooi die warm vinaigrette oor en bedien dadelik
bedien
4
vooraf
10 min
kook
2 min
Los 'n Boodskap