Die groot eet van Kersfees is verby; die vakansie in sy ‘glory’ in; en as ek glo wat ek in koerante lees is die mensdom redelik bedruk in Januworrie. Nee wat, die lewe is te kort om Januarie te haat. Dis immers ’n twaalfde van die jaar. Ek vier eerder hoogsomer met ’n verfrissende poeding wat so te sê niks kos nie.

As jy nog nooit granita gemaak het nie, is dit hoogtyd. Op sy eenvoudigste is hierdie yskoue verleiding wat sy oorspring in Sisilië het net vrugte en water. Dit word gepuree, gevries en dan gekrap met ’n vurk om growwe yskristalle te vorm wat smelt in die mond – te heerlik vir woorde en super gesond. Meeste resepte voeg suiker by in die vorm van ’n basiese suikerstroop in plaas van net water. Maar granita is ’n ding waarmee jy na hartelus kan speel. Die suikerstropie vir my waatlemoen granita kry kardemom en rooibos by, en vir balans ’n goeie skeut lemmetjiesap.

Al wat jy nodig het is…

½ koppie suiker
1 koppie water
10 kardemompeule, oopgebreek met die platkant van ’n mes
2 sakkies rooibos
kwart van ’n reuse waatlemoen (10 koppies as dit gepuree is)
sap van twee lemmetjies

Plaas die water, suiker, kardemom en rooibos in ’n kastrol en verhit terwyl jy roer om die suiker op te los. Verwyder van die hitte en laat dit staan vir 30 minute om te trek. Lig die rooibos uit en gooi stroop deur ’n teesif om die kardemom te verwyder.

Verwyder die waatlemoenpitte en puree die waatlemoen met ’n staafmenger of in jou voedselverwerker. Voeg die stroop en lemmetjiesap by en roer goed. Plaas die granitamengsel in ’n vlak bak wat in die vrieskas kan gaan. Plaas granita in die vrieskas tot dit net-net gevries is en gebruik dan ’n vurk om dit te skraap sodat growwe yskristalle vorm. (As jy wag tot die granita kliphard gevries is, is dit so te sê onmoontlik om te skraap.) Plaas terug in die vrieskas totdat jy dit gebruik. Ek skraap die knaap gewoonlik ’n laaste keer net voor ek dit bedien.

bedien

10-12

vooraf

30 min

vries

3-4 ure

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English