Merlot of ek? As dit kom by wie die Kaapse winter die meeste haat, is daar stewige kompetisie tussen die twee van ons. Maar aangesien sy buite in die reën haar ‘ding’ moet loop doen, is Merlot seker die wenner. (Nogal verbasend hoe vinnig ‘n kat kan wees as sy moet.) Sy soek haar troos in my arms. Ek soek myne in ‘n bord dik sop, barstensvol vleis. Hierdie een het net drie bestanddele, hope geur en voer ‘n gesin van ses trommeldik vir onder R50! Maak hom sommer dubbel en vries in afsonderlike porsies – perfek vir koue wintersaande wanneer jy in jou gunsteling passion-killer hasie pantoffels voor die kaggel wil wees, in plaas van agter die stoof.

Al wat jy nodig het is…

1 groot gerookte Eisbein (Checkers het gewoonlik)
1 groot wit ui, geskil en rof gekap
1 pakkie droë ertjies
growwe swartpeper

Sit die vleis, ui en ‘n kwart teelepel peper in ‘n groot dikbodempot en bedek die vleis met louwarm water. Sit die deksel op en kook hom baie stadig totdat die vleis van die been afval. (Dit vat minstens twee en ‘n half, miskien drie, ure so hierdie is definitief ‘n lui Saterdagmiddag resep.) Loer so af en toe of nog water nodig is, maar wees maar spaarsamig. Sit jy te veel by, eindig jy op met ‘n dun, waterige gemors. As die vleis so halfpad bedek bly solank as wat jy hom kook, is jy veilig.

As die vleis val-van-die-been-af sag is, verwyder en laat dit afkoel. Gooi nou die hele pakkie ertjies in die vleiswater en kook stadig tot hulle sag is en begin opbreek – dit vat so 50 to 60 minute. Roer af en toe, want die ertjies is geneig om vas te sit. Terwyl die ertjies kook, trek die vetlaag van die vark af sodat jy net met die vleis sit. Skeur die vleis in repies. Sodra die ertjies gekook is kan jy die vleis terugsit in die pot en deurverhit (hou ‘n bietjie opsy sodat jy opskeptyd ‘n ekstra hompie vleis bo-op kan sit – sommer net vir die ekstra lekkerte). Roer en bekyk jou sop. As dit vir jou ‘n bietjie te dik is, is nóu die tyd om ‘n laaste bietjie ekstra kookwater by te gooi. Die gerookte vark is souterig, so proe eers voor jy enige sout bygooi. ‘n Vris skoot vars gemaalde swartpeper en hy’s reg.

bedien

6

vooraf

10 min

kook

3 ure

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Minder vet in ‘n kits

As jy die skaal dophou, kan jy die vet van die vleiswater verwyder voor jy die ertjies kook. Jy kan dit op die outydse manier doen en die water laat afkoel tot die vetlagie bo-op dryf vir maklik afskep, of jy kan dit in 10 sekondes doen!

Sit eenvoudig ‘n spul ys in ‘n groot vergiettes of sif. Gooi nou die vleiswater oor die ysblokkies. Die vet sal aan die ys vasklou en die vleiswater is reg vir die pot. Onthou net, vet is geur. Ek verkies die bietjie vet in my sop, en eet maar net effe minder of draf effe meer.

lekker saam met

As ek dink aan sjerrie, is die versoeking groot om te dink aan iets soets, wat ou tannies met geteasde pers hare uit klein kristalglasies drink –“net so bietjie vir my seunie, tannie drink nie eintlik nie”.

Sjerrie is ‘n wyn en moet so behandel word. Bedien dit koud saam met ete. Monis se Pale Dry (nie meer sjerrie genoem nie want die Europese Unie sal ‘n oorval kry) is perfek. As jy iets soeter verkies, gryp die Medium Cream.

Monis Pale Dry

scroll-main

Ook beskikbaar in: English