Aandete sonder wyn is soos kos sonder sout, ’n onding in my lewe. Maar my ma het nie dom kinders gehad nie, dus dink ek af en toe aan die bloeddruk en die lewer – snaaks genoeg meer dikwels soos die jare aanstap. Maar laat ons nou nie lelike goed soos ouderdom praat nie.

Die vinnigste groeiende kategorie in die drinkgoed sektor in SA is nie-alkoholiese drankies. Vir donkiejare was dit net nie-alkoholiese bier. Toe begin ’n paar wynmense gelukkig die lig sien en nou is die nie-alkoholiese wêreld aan die brand, met selfs alkohol-vrye jenewer wat begin kop uitsteek.

Ons moet milleniërs bedank vir hierdie neiging. Wêreldwye studies wys húlle en die geslag na hulle (wat mens dié kleingoed ook al noem) drink al minder en minder. Daar’s niks soos die markdruk van miljoene mense wat neus optrek vir alkohol om nuwe ontwikkeling aan te spoor nie! Ek’s verheug hieroor en nie-alkoholiese wyn pronk nou gereeld op my tafel.

Die mense van Robertson Wyne is bekend daarvoor dat hulle die nuwe entoesiasties omarm. Hulle was inderdaad een van die SA baanbrekers wat nie-alkoholiese wyn betref, met die bekendstelling van twee soet nie-alkoholiese vonkelwyne in 2012, ’n witte en ’n pienke. Ek’s bietjie ‘ge-scar’ deur té veel soet borrels by té veel boeretroues in té veel skoolsale of kerksale oor die jare, so soet is nie juis my ding nie. Nou het Robertson genadiglik gedink aan mense soos ek, met ’n nuwe droë nie-alkoholiese wit vonkelwyn!

scroll-main

scroll-main

Wetenskap is nie een van my sterk punte nie, so laat ons net sê bitter slim mense het die alkohol verwyder op so manier dat die wyn sy vrugtige aromas en lewendige geure behou. Daar’s peer, mandaryn en lemoenbloeisel te bespeur en dis dartelend droog op die tong. Robertson se nuwe perd in die stal bied die bederf van ’n skitterende vonkelwyn minus die stout! Langs die swembad, by ’n piekniek, onder ’n boom met ’n boek – waar jy Robertson se sondelose droë vonkelwyn ook al geniet, maak seker dis ysig koud. Dis landwyd beskikbaar en kos hier by die R50-R55 merk.

Robertson se nie-alkoholiese droë borrels: Hy’s perfek vir die somer. En nee, hierdie’s NIE ‘n kiekie van my nie. Robertson het natuurlik gevra, maar ek’s beskeie oor hoe uitermatig fantasties ek in ‘n bikini lyk…

scroll-main

Deel hierdie artikel

Ook beskikbaar in: English