Om my te vra om my gunsteling wyn te noem, is half soos om ‘n ma te vra om haar gunsteling kind te noem. Dis moeilik want ek lief hulle almal. Maar as jy my nou in ’n hoek gaan druk oor die ding sal ek erken Riesling is my blou-ogie.
Ek hou van hom droog, ek hou van hom effe soet en ek’s mal oor hom in ’n heuningsoete Edel Laatoes. Ongelukkig is Riesling nie so vrylik bekombaar in Suid-Afrika as die ander edele variëteite nie. Maar die wat ons maak – WOW.
Hartenberg se wynmaker, Carl Schultz, nooi elke jaar al die top Riesling vervaardigers om hulle wyne met ons te kom deel by die Riesling Rocks fees op die Hartenberg landgoed. Dis by verre my gunsteling somerfees. Hoekom?
Rede #1: Dis ’n intieme fees. Daar’s net genoeg mense sodat dit gesellig voel, maar nie soveel dat ek benoud en beneuk raak nie.
Rede #2: Dis so ‘chilled’ soos kan kom. Piekniektafels onder groot akkerbome, mense wat op komberse rondlê en teug… Jy kry die idee.
Rede#3: Die wyn. Ek’t net Riesling nodig om my gelukkig te maak, maar hierdie jaar is daar ’n ekstra groot bederf, want jy sal ook ander ongewone variëteite soos Gewürtztraminer, Viognier en Semillon kan proe.
Riesling & Rarities Rock Fees: 31 Januarie 2015, Hartenberg
Natuurlik is daar tonne interessante kos te koop: Joostenberg se wonderlike patees, charcuterie, kase, brode, Mediterreense disse en meer. Maar as jy nou rêrig gesellig wil raak, bring ‘n kombers, bestel vooraf een van Hartenberg se piekniek mandjies en lê weg. Die mandjies kos R150 per persoon en ek kan hulle aanbeveel.
Kaartjies vir die fees kos R120 per persoon en sluit ‘n glas in en al die proe waarvoor jy lus is. Koop jou kaartjies aanlyn by www.webtickets.co.za. Wat jy ook al beplan het vir Saterdag 31 Januarie, kanselleer dit en vat die pad Hartenberg toe. Sien jou daar!
waar
Bottelaryweg, Stellenbosch
wanneer
31 Januarie 2015
hoe laat
12.00-17.00
kaartjies
Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As ‘n iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling. Ek bly in die Kaap en gevolglik is my fokus meestal op Kaapse dinge. Ons land is groot en mooi en ek wil graag van alles hoor. Ek nooi jou om al jóú gunsteling markte, feeste, restaurante en wynproe plekke met ons te deel. Skryf eenvoudig jou aanbeveling in die ‘BOODSKAP’ blok hieronder.
Los 'n Boodskap