Mense verskil nogal oor hoe slim ’n goudvis nou eintlik is. Google dit en party sê hulle IK is hier by die 90. Wat beteken hulle is slimmer as party mense wat ek ken… Ander sê hulle’s so dom soos grond.

Al wat ek weet, is dat hulle nie bekend is vir hulle vermoë om ingewikkelde somme te doen nie. Ook nie vir hulle vermoë om te konsentreer nie. In hierdie twee opsigte het ek en goudvisse nogal baie in gemeen.

’n Uur. Dis my persoonlike beste as dit kom by fokus. Dis hoekom ek na drie martelende jare se klavierlesse ’n muis gebaar het – met ‘Chopsticks’ die enigste ding wat ek behoorlik kon speel. Dis hoekom ek nooit War and Peace klaar gelees het nie… 1 472 bladsye – rêrig? En dis hoekom ek dol is oor kook. Want in ’n kombuis het jy nie lank nodig vir ‘fabulous’ nie.

Ek’t ’n goue reël gedurende die week – as iets langer as 40 minute gaan vat, kook ek hom nie. En as poeding deel van die affêre is, moet dit binne dieselfde 40 minute gebeur. My een-minuut ‘lemon meringue’ resep is perfek vir dol weeksaande. As jy nou snaaks gaan wees, kan jy seker sê dis nie rêrig ‘lemon meringue’ nie. Maar dit het suurlemoen in. En skuimpies. Dit vat net een minuut om te maak. En dit proe pure ‘lemon meringue’.

Al wat jy nodig het is…

Dubbel-room Griekse joghurt
‘n Bottel suurlemoenbotter (‘lemon curd’ – kyk in die bakafdeling van supermarkte)
Pak koekies (ek het Bakers se Nuttikrust gebruik, maar Tennisbeskuitjies, gemmerkoekies of hawermout koekies werk net so goed)
Pak skuimpies (verkieslik die tuisnywerheid tipe, nie daai smaaklose spierwittes wat groot supermarkte vir ‘n appel en ui verkoop nie)

Sit die koekies in ’n plastiek toebroodjiesakkie. Gryp jou koekroller en raak van jou dag se frustrasies ontslae deur hulle te slat tot hulle bes gee. Dis vinniger om die koekies in jou voedselverwerker fyn te maak, maar nie naastenby so bevredigend nie.

Skep ’n lagie van die koekiekrummels in ’n bak. Meng die joghurt en suurlemoenbotter – ek verkies ’n 50/50 mengsel, maar besluit maar self wat vir jou lekker is. Skep die joghurt-suurlemoen mengsel bo-op die koekie laag. Pak hom vol skuimpies en bedien onmiddellik. Jy kan ’n groot een maak, maar ek verkies om individuele klein poedings te maak. Ek het dit al selfs in ‘shot’ glasies bedien – perfek vir onverwagse partytjie hordes!

bedien

8-10

vooraf

1 min

kook

0 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Maak jou eie skuimpies

Klits eenvoudig vier eierwitte met ‘n knippie sout tot dit styf en droog is (keer die bak versigtig onderstebo, as die eierwitte aan die bak kleef, is hy reg). Klits nou stadig een koppie strooisuiker by – bietjies op ‘n slag. Hou aan klits tot die mengsel dik en blink is. Skep nou skuimpies op ‘n bakplaat gevoer met bakpapier.

Bak teen 120 grade Celsius tot droog – dit vat ‘n uur en ‘n half tot twee ure. Skakel die oond af en laat die skuimpies in die oond afkoel. Bêre in ‘n lugdigte houer.

lekker saam met

Hierdie is weeksaand gesinskos, so ek sal dit bedien net met ‘n kombuisgodin glimlag. Maar as jy nou ietsie stouts daarby soek, kies ‘n ‘cheap en cheerful’ bottel borrels, nie ‘n MCC nie. Orange River Cellars se Brut is ‘n skaflike goedkoop vonkelwyn.

‘n Effense sweempie suurlemoen op die tong maak hom perfek by hierdie poeding. Of probeer ‘n Italiaanse Prosecco vir ‘n verandering. Woolworths het.

Orange River

scroll-main

Ook beskikbaar in: English