My soektog na die absoluut perfekte pers vy vir ’n TV advertensie lei my laas Saterdag na die Oranjezicht Mark by Grangerbaai langs die V&A Waterfront. As jy enigsins belangstel in kos is hierdie mark ’n absolute moet, maar meer hieroor ’n volgende keer. Terug na daai perfekte vye.
Ek spoor hulle op by my gunsteling vrugtestalletjie en ek’s verlig en verheug soos ’n 4-jarige met ’n roomys op ’n warm dag. Ons noem hierdie verleidelike soete pers nommertjies Evita vye hier. Wat wou Evita, ek dink hulle Franse naam – bourjasotte noir – is mooier. Dis inderdaad in die suide van Frankryk wat ek die eerste keer die vreugdes van die bourjasotte gesmaak het. Hulle was my middagete so te sê elke dag – op ’n stuk bros baguette met hemelse crotin-styl bokmelkkaas, ’n blerts olyfolie en ’n titsel fleur de sel sout.
Met Frankryk in my kop en die pers vye in ’n bruin papiersak is ek daar weg. Ek stop by Checkers se bakafdeling en tel ’n sak brooddeeg op. Terug by die huis rol ek die deeg super dun uit, verf dit met olyfolie en bestrooi dit met roosmaryn uit my tuin. Die bros pizzabrood genot word besmeer met bokmelk roomkaas wat ek in pienk peperkorrels rol. Souterige bresaola-ham van Richard Bosman wat ek ook by die mark gekry het kom ook op. Dan olyfolie en Maldon-sout. Ek maak my oë toe en lê weg. Skielik is ek terug in Frankryk.
Al wat jy nodig het is…
Brooddeeg van jou supermark
Olyfolie
Roosmaryn
Fairview bokmelk roomkaas
Pienk peperkorrels
Evita pers vye (Woolies hou dit ook aan)
Bresaola, prosciutto of coppa ham
Maldon sout
Voorverhit die oond tot 240 grade Celsius and plaas ’n bakplaat in die oond om goed warm te word. Rol die deeg baie dun uit, verf met olyfolie en strooi roosmaryn blaartjies oor. Gooi meel op die bakplaat om te keer dat die deeg vasklou en sit die deegsirkel op. Bak 10-12 minute tot goudbruin. Maal die pienk peperkorrels fyn en rol die bokmelk roomkaas daarin. Smeer die gebakte pizzabrood mildelik met roomkaas, dan die vye en uiteindelik die bresaola. ’n Ekstra blerts olyfolie, bietjie Maldon sout en dis tyd vir eet. Vir die mooi is ’n paar groen blaartjie dingetjies ook nie ’n slegte plan nie. (Sien Goed Om Te Weet laer af vir nog idees met hierdie roosmaryn-pizzabrood.)
bedien
baie
vooraf
10 min
bak
10-12 min
goed om te weet
Nog idees vir jou roosmaryn-pizzabrood
1) Woolies Cremezola, dun gesnyde peer, geroosterde okkerneute en ’n blerts heuning.
2) Gewone roomkaas, gerookte salm, kappertjies, hope swartpeper en gerasperde suurlemoenskil.
3) Mascarpone, aarbeie, ’n blerts balsmiek-reduksie, swartpeper.
lekker saam met
Ek hou van pienk wyn by pienk kos. Daar’s nie wynlogika hier nie verstaan, dis net ’n ding van my. Gelukkig is paar hope pienk opsies wat by hierdie pienk pizza pas. My keuse is De Krans se Pinotage Rosé. De Krans glo hierdie eg Suid-Afrikaanse kultivar is perfek vir rosé maak en ek stem. Teen hier by die R65 is hulle Pinotage Rosé sakpas vir ’n ligte vye en bokmelk roosmaryn-pizzabrood fees.
Die druiwe is gepars en die sap so te sê dadelik afgetap. Die resultaat is ’n lieflike ligte salmpienk kleur. Op die neus sal jy roos, aarbei en ’n titsel spookasem bespeur.
Hierdie rosé is droog met ’n lieflike vrug/suurbalans. De Krans se Pinotage Rosé het ’n dubbel-goud medalje verower in die 2018 Rosé Rocks kompetisie. Daar het jy dit. De Krans Pinotage Rosé – koop hom.
Los 'n Boodskap