Dat die wind in die Kaap waai is ’n uitgemaakte saak. Maar mens, wat laas naweek híér aangegaan het is nie normaal nie – by tye was dit by die 100km per uur, aldus die koerant. So erg, hulle moes vir die eerste keer in sy geskiedenis die Argus stop. Ek het natuurlik donkiejare terug die fietsry in die Kaap storie gelos. Vier ure in ’n saal reg in die tande van die wind in was net nie my idee van pret nie.

My parmantige fiets outfitjie lê miskien nou in die kas en stof gaar, maar die Argus is steeds ’n groot dagboek oomblik vir my. My teken dat die verdomde Suidooster binnekort gaan begin bedaar en dat die Kaapse herfs met haar Sjampanje-weer wink.

Die dae is miskien nog warm, maar die aanduidings is oral om my. Die oggendlug het ’n geniepsige byt en in my tuin dolwe die eekhorings my grasperk om. Hulle begrawe akkers vir die skrale wintermaande wat wag. Merlot hou hulle van die stoep af dop – bitter geïnteresseerd, maar bang sedert een haar aan die neus beetgekry het. By die mark maak somerbessies plek vir donkerpers vye, ryprooi granaat en plompvette pruime. Somer los duidelik haar beste vir laaste.

My speseryrak kry aandag vir die eerste keer in maande. Ek laai hom met anys, gemmer, kaneel, naeltjies en komyn, reg vir die winter hartskos wat kom. Dis natuurlik nog te vroeg dáárvoor, maar somer se lig eet staan my nie meer aan nie.

Tussen-in weer vra vir tussen-in kos. Soos hierdie pavlova. In Desember laai ek my meringue met aarbei en framboos, nou soek ek ietsie ‘meer’. Soos daai plompvette pruime liggies gestowe in pinotage-stroop.

Al wat jy nodig het is…

1 koppie Pinotage (jy kan Merlot of Shiraz ook gebruik)
derde koppie suiker
¼t fyn kaneel
4 naeltjies
2 ster anys
skil van een lemoen
sap van een lemoen
3-4 ferm pruime
meringue pavlova basis
vanielje-roomys

Voeg die wyn, suiker en speserye saam en kook vir vyf minute tot die suiker opgelos is. Sny die pruime in die helfte en stowe hulle liggies in die wyn tot hulle net begin sag word. Hou hulle met ’n arendoog dop, die verskil tussen sag en pap is net ’n minuut of wat.

Verwyder die pruime en hou hulle eenkant. Kook die wyn met die deksel af tot daar net ’n derde koppie oor is. Verwyder van die hitte en plaas die pruime terug in die wynsous tot jy opdien. Hierdie is ’n ‘ faaabulous’ poeding vir onthaal want alles kan vooraf gedoen word en jy slat hom aanmekaar net voor jy opdien.

Om te bedien, skep die pavlova basis vol roomysballe. (WENK: Ek skep die balle vooraf uit en vries hulle kliphard op ’n gevoerde bakplaat. Dit maak die opdien soveel makliker.)

Skep die pruime en pinotage-sous bo-oor en bedien dadelik. Die pruime en sous kan koud of kamertemperatuur wees. My gunsteling is egter om dit net effe te verhit. Die louwarm pruime en sous vorm ’n wonderlike kontras met die roomys.

Indien jy verkies, kan jy versoete geklopte room gebruik in plaas van die roomys. Of maak soos ek hier gedoen het en gebruik ’n 50/50 mengsel van soet geklopte room en volroom joghurt. Maar laat ek nou eerklik wees, die roomys is die een wat toppunte kry.

bedien

6

vooraf

10 min

kook

15 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Perfekte Pinotage

Pinotage is ‘n eg Suid-Afrikaanse kultivar. Dis die kind van ‘n kruising tussen die Pinot Noir druif en Cinsaut (aka Hermitage) druif. Aanvanklik was die wêreld maar neusoptrekkerig daarvoor, maar vandag waardeer al meer mense wêreldwyd hierdie wyn. Vir meer oor Pinotage, besoek die Pinotage Assosiasie se webwerf.

scroll

2016 Absa Top Tien Pinotage wenners

In my boek is Pinotage altyd ‘n goeie idee, soveel meer so as die koue begin knyp. Doen jouself ‘n guns hierdie herfs en winter en teug aan een of meer van hierdie Absa Top Tien wenners:

Diemersdal Reserve 2015
Flagstone Writer’s Block 2014
Fleur du Cap Unfiltered 2014
Kanonkop 2010
Knorhoek Two Clubs 2015
KWV The Mentors 2013
L’Avenir Single Block 2014
Perdeberg The Dry Land Collection 2014
Rijk’s Reserve 2013
Rooiberg Reserve 2015

lekker saam met

Daar is tonne goeie, sakpas Pinotages om van te kies. Vir hierdie Pinotage-en-prium pavlova het ek egter ietsie spesiaals oopgemaak – Perdeberg se Dry Land Pinotage.
Soos jy uit die naam kan aflei, kom die druiwe vir hierdie wyn uit ’n redelike tawwe terroir. Die gevolg is ’n donker, intense wyn barstensvol kersie en pruim op die neus en sappige vrugte op die tong. Ek het die 2013 gebruik, aanlyn beskikbaar teen R112 teen tyd van publikasie. Hulle 2014 was ’n wenner in die 2016 Absa Top Tien Pinotage Kompetisie, so hou ’n ogie uit en raap ’n paar bottels op wanneer jy kan.

As jy effe minder wil spandeer, oorweeg hulle Vineyard Collection Pinotage, beskikbaar op hulle webwerf teen R88. En dan is daar natuurlik hulle baie skaflike elke-dag Perdeberg Pinotage, die prys werd teen net R72 per bottel.

Perdeberg

scroll-main

Ook beskikbaar in: English