So paar weke terug, op ’n sonnige lentedag, kry my oggendroetine effe meer aandag as gewoonlik. Ek trek ’n vrolike rok aan, en krap rond in my gehawende grimeersakkie. Ek moet dit seker nie so prontuit erken nie, maar met die dat ek meestal van die huis af werk, lyk ek meeste dae asof iemand my agterstevoor deur ’n bos gesleep het. Hoekom dan nou nie? Dis nie asof my kat gepla is nie.

Maar hierdie was ’n spesiale dag, want Piekenierskloof se wynmaker, Jaco van Niekerk, kom my en ’n paar ander wynmedia mense oplaai. Die okkasie? Die bekendstelling van Piekenierskloof se Ou Wingerd-wyne.

Piekenierskloof Wynmaatskappy is, soos jy uit die naam kan aflei, in die Piekenierskloof vallei. Met die Cederberge in die ooste en die Olifantsrivierberge in die weste is hierdie stukkie aarde, net so twee ure se ry van Kaapstad af, prentjiemooi. Mens kan dieselfde van die streek se wyn sê, want die warm droë dae, gekombineer met die koeligheid wat die hoogte bo seespieël en die nabye Atlantiese oseaan verleen, maak hierdie ’n besonderse terroir met spogwyn potensiaal.

scroll-main

Drie van Piekenierskloof se van Zyls: Oubaas (middel), sy vrou Hannalise, en sy broer Potgieter.

scroll-main

Ons eerste stop is die Piekenierskloof Deli aan die voet van die Piekenierskloofpas. Dís die plek vir jou mandjie volmaak met Sitrusdal se beste – gedroogte steenvrugte, biltong en beskuit. As die honger erg knaag, bly bietjie langer vir ontbyt of middagete, buite onder ’n boom, met ’n uitsig oor die berge. Ons talm nie lank nie, want Piekenierskloof se mense wag.

Ons tweede stop is in die middel van ’n wingerd, ’n ou wingerd. Daar is baie woelinge op Piekenierskloof die laaste twee jaar. In 2017 het die van Zyls van Paleisheuwel se Bergendal en Heidedal plase die meerderheidsaandeelhouers in die Piekenierskloof Wynmaatskappy geword. Kort daarna stel hulle Jaco as wynmaker aan. Hulle plan? Om Piekenierskloof se wyne met die wêreld te deel en veral om die aandag te fokus op hulle Ou Wingerd-wyne.

Dis juis hulle ou wingerde waarvoor ons daar is, en broers Oubaas en Potgieter van Zyl, neem beurte om die storie van hulle pa en sy wingerde te vertel terwyl ons proe. Ons teug aan hulle 2018 Bergendal Chenin Blanc (van wingerde in 1962 geplant), die 2018 Carel van Zyl Grenache Noir (in 1973 geplant) en die 2018 Heidedal Cinsaut (van 1976 wingerde.)

Wynmaker Jaco gesels oor sy benadering tot wynmaak: om so min as moontlik te doen en die vrugte te laat skitter. “Ek probeer om dinge nie in die kelder op te foeter nie,” lag hy. Hy het duidelik daarin geslaag want Jaco se 2018 Ou Wingerd-wyne laat kenners regop sit. Kenners soos die invloedryke Tim Atkin MW, wat die Bergendal 91 punte gee, die Cinsaut 92 en die Grenache ’n allemintige 93. En Jaco sê dis net die begin, sy beste kom nog.

Na al die proe in die veld is dit tyd vir middagete. En mens wat ’n ete was dit nie, want sien Oubaas en Potgieter se suster is die immer-fabulous Carmen Niehaus, Huisgenoot se kosredakteur en Wenresep-koningin!

SA se Wenresep-koningin: Carmen los die kospotte vir ‘n kiekie in die laventel.

scroll-main

Ons begin met soetpatat-hoemoes met ’n pikante salsa van sultanas, groen olywe en spekboom. Só ’n wonderlike idee om met spekboom te kook, ek steel dit beslis. Dit pas perfek by die Chenin, so ook die groenslaai met blomkool en appel gemarineer in slaaisous van groen rooibos en boegoe. Jene, die Carmen kan kóók.

Volgende aan die beurt, Mediterreense hoender gerooster met Chenin, groen rooibos en heuningbos. Ek’s nie verbaas Carmen speel met die rooibos in haar kos nie. Haar tweelingsuster, Mientjie Mouton, is immers die baas van Carmién Tee, net om die draai! By die Cinsaut eet ons heel gebakte pampoen, gevul met geroosterde groente en sorghum, nóg ’n idee wat ek vir my Kerstafel gaan steel. En uiteindelik lam, so sag jy kan hom met ’n lepel eet.

Nagereg sou ons bo op ’n berg kry sê Carmen en ons bondel in bielie 4×4 bakkies in. Ek verbeel my ek’s weer kind en besluit agterop is ’n beter idee, blomrok en al. PW het nog vinger geswaai vir die land toe ek laas agterop ’n bakkie was. Ek klou soos ’n neet en probeer (waarskynlik vergeefs) om ‘casual’ te lyk.

scroll-main

Op die berg wag Carmen met nagereg – klein wortelkoekies en ’n verleidelike suurlemoen skuimpie droomding in klein glasies. By dit skink Jaco Piekenierskloof se 2018 Samson strooiwyn, so genoem natuurlik nie omdat die wyn strooi is nie, maar omdat die druiwe op strooi uitgedroog word. Dis hemelse soete poedingwyn verleiding hierdie. Tim Atkin dink ook so, want vir die 2017 het hy 93 punte gegee.

Die son was al laag op die horison toe ek uiteindelik terugklim op Oubaas se Toyota vir die tog bergaf, waar ons bussie terug Kaapstad toe wag.

Ons het ’n oorvloed wynplase en wynkelders wat spogwyne maak. So wat maak Piekenierskloof so spesiaal? Hulle wyne, veral hulle Ou Wingerd-wyne is besonders. Maar die twee ure terug Kaapstad toe gee my tyd vir bietjie dink oor die ding, en ek dink die antwoord is familie – nie die enge kerngesin interpretasie van vandag nie, die uitgebreide omarmende definisie van familie. Want saamwerk, saamstaan en saamdoen is waaroor dit vir die Van Zyls van Piekenierskloof gaan. En ek dink dit wys in hulle wyn.

WAAR OM PIEKENIERSKLOOF SE WYNE TE KRY

Piekenierskloof se wyne is beskikbaar op hulle webwerf en hulle lewer landwyd af. Hulle Stonedance en Six Hats reekse is beskikbaar by uitgesoekte winkels asook op die wine.co.za webwerf. Omdat hulle Ou Wingerd-reeks so pas uitgereik is, is dit nog nie in winkels beskikbaar nie, maar stuur vir hulle gerus ’n e-pos by info@pkwc.co.za of bel hulle op 022 921 2233.

scroll-main

Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling.

scroll-main

Ook beskikbaar in: English