Mense’s nie almal dieselfde nie en dis goed so, want anders was die wêreld seker ’n vale plek. Maar dis juis hierdie andersheid van mense wat neuk as dit kom by resepte skryf.
Vat my vriendin Bettie (nie haar regte naam nie, want nou-nou is sy vies). Sy pik-pik soos ’n mossie aan ’n bord kos. Na so vyf happies kyk sy my verleë aan met sulke groot gogga-oge, hopende dat ek nie te veel aanstoot sal neem nie. Gelukkig is ek nou al gewoond daaraan. Dan’s daar my ander vriendin, ons noem haar maar Poppie. Sy skep groot en ek kan sien net ordentlikheid keer dat sy haar bord uitlek. Ek’s êrens tussenin. Dis hoekom ek sê ’n resep bedien 8-10, of soos die geval met hierdie pastaresep, 4-6. Ek weet mos nou nie of die wat by jou kom aansit Betties of Poppies is nie.
Die lekker ding van hierdie resep is hy’s so ryk en geurig dat jy hom kan rek tot hy blêr. Skep eenvoudig meer pasta en minder lam. Lam is duur, so vir hierdie resep gebruik ek sommer ’n pak stowe skaapvleis met die taaier dele van die dier wat lank kook nodig het. As jy dit ordentlik doen het hy ’n hele paar ure op die stoof of in ’n lae oond nodig. Maar as mens goedkoop betaal vir die vleis, wil jy nou nie duur betaal aan die ‘letricity’ nie. So ek verneuk en blits hom vir 50 minute in my drukkoker. As hy daar uitkom is hy uitmekaar-val sag en omtower in ’n dik, donker pastasous (of soos die fênsie mense sê, ’n ragu) wat my laat kraai van plesier.
Al wat jy nodig het is…
2 groot wortels, geskil
1 groot ui, geskil
1 groot stingel seldery, blare verwyder
50g spek, gekap
1kg stowe skaapvleis met die been in (maak seker daar is ‘n hele paar stukke nek by)
2E koekmeel
350g ryprooi vars tamaties (of een blik tamaties)
¼t growwe swartpeper
1 blokkie skaapaftreksel, opgelos in 3 koppies kookwater
2 vars lourierblare (droog sal doen as vars nie beskikbaar is nie)
1E vars origanum (of droog, gebruik net effe minder)
olyfolie vir braai
parmesaan-kaas, vir bedien (opsioneel)
pietersielie en origanum of ment, vir bedien
Sit die wortels, ui en seldery in ’n voedselverwerker en kap fyn. Sit die meel op ’n bord en doop die vleisstukke daarin. Braai die vleis in die olyfolie op medium-hoë hitte tot bruin aan albei kante. (Begin met so twee eetlepels olie en gooi by as jy nog nodig het. Baie belangrik: Braai net ’n paar stukke vleis op ’n slag. Sit jy die lot op een slag by, verlaag die temperatuur van die pan te veel en jy’t waterige gestoomde vleis in plaas van lekker gekarameliseerde vleis!)
Skep die vleis uit en braai die gekapte groente en spek in dieselfde pan vir so 5 minute. Roer goed sodat die vloeistof in die groente help om die gekarameliseerde bruin lekkerte op die bodem van die pan te lig. Kap en gooi die tamaties by. (Hulle móét ryprooi wees, blekes sal nie die ding doen nie. As jy nie ryp grotes kan kry nie, gebruik sommer klein kersietamaties, hulle is meestal ryper en beter as grotes. ’n Behoorlike sjef sal nou sê gooi kookwater oor die tamaties om die skille te verwyder, maar ek bodder nie.) Voeg die vleisaftreksel, peper, lourierblare en origanum by en kook in jou drukkoker (hy moet lustig fluit) vir 50 minute. Loer en kyk of hy van die been afval. As hy doen, is hy reg.
Verwyder die bene en vlok die vleis en sit dit terug op die stoof om te verhit. As hy in die stadium nog te veel vloeistof het, kook hom sonder die deksel tot die sous dik genoeg is na jou smaak – jy soek nie ’n dun ding nie. Proe vir sout en sit voor met pasta van jou keuse. Ek het tuisgemaakte pappardelle pasta gebruik, maar linguine of fettuccine sal ook deug. Bedien met ’n titsel fyn kruie soos pietersielie en gekapte origanum of ment asook parmesaan-kaas.
bedien
4-6
vooraf
10 min
kook
70 min
goed om te weet
Nog idees
In plaas van pasta kan jy ook hierdie vulsel toemaak onder ‘n kombers romerige kapokaartappels. Rasper parmesaan oor en sit hom onder die rooster vir ‘n minuut of wat vir ‘n lekker bruin kors. As jy baie uitspattig wil wees, gebruik dit as vulsel vir ‘n brosbruin geroosterde broodjie. ‘n Kraakvars slaai daarby en die Kaap is weer Hollands.
lekker saam met
Enigiets rooi sal hierby werk. Glenelly se 2010 Shiraz is ‘n grootmens wyn in ‘n effens teruggetrokke Europese styl. Saam met die peper wat mens van Shiraz verwag is daar ook viooltjies en jasmyn op die neus en natuurlik kersies.
Dit het 3.5 sterre van Platter en ‘n baie skaflike 88/100 van Parker. Goeie waarde hier duskant R80.
Los 'n Boodskap