Ek’s een van daai mense wat vreeslik ‘surf’ as ek voor ’n TV sit. Om twee kanale tegelyk te kyk, is vir my niks vreemds nie. Ek’s seker dis ’n uiters irriterende gewoonte. Gelukkig gee Merlot nie om nie. Solank sy op my skoot kan sit, kan ek maar lustig knoppies druk.

Met dié rondspring, kom ek onlangs af op ’n program oor Amerikaanse vrouens wat ’n ding het vir knape in die tronk. Ons het seker almal ons stories, so ek gaan nou nie oordeel nie.

Die program het my aan die wonder laat sit oor die idee van ’n laaste maal. Ek kan nie dink dat ek veel van ’n aptyt sal hê as ek wéét dis my laaste maal nie, maar dis nogal vermaaklik om te dink wat op my lys sal wees – solank dit teoreties bly.

My lys is lank. Sjampanje, spekvet Mosambiek-garnale, melkkos, vetkoek met appelkooskonfyt, soesjie en natuurlik pasta, my absolute gunsteling kos.

Ek dink dit kom van my ouma af. Sy was van Italiaanse afkoms, ’n nooi Ceronio wat met ’n van der Merwe loop trou het en op ’n plaas beland het. Ek neem aan sy het redelik vinnig geleer om nie die plaasdiere name te gee nie. Om gesellig te raak met iets wat op jou bord gaan opeindig, is moeilikheid soek.

Skaapboud was inderdaad elke Sondag op die tafel – bedien op die boere manier met rys, aartappels en – net om seker te maak jy kry genoeg stysel in – sommer soetpatats ook.

Maar dit was haar skaap-pasta wat my as kind laat kwyl het – ’n minder grênd snit van die skaap, lank en stadig gekook met spek en witwyn. Dan ryk en dik gemaak met die geel van ’n eier, en ’n handvol pietersielie en suurlemoen by vir die vars. Sy’t dit 50 jaar gelede gekook en ek kook dit steeds. Onthoukos op sy beste.

Al wat jy nodig het is…

600g lam, vet afgesny en in blokkies gesny (skouer werk goed, kneukel ook)
4 repies spek, in blokkies gesny
2E varkvet (as jy nou rêrig moet, kan jy olyfolie gebruik, maar dit gaan nie dieselfde ryk, wonderlike geur hê nie)
1 ui, gekap
2E koekmeel
100ml droë witwyn
1 blokkie lamaftreksel, in 300ml kookwater opgelos (of gebruik Nomu se lam Fond, dis duur, maar jene is dit lekker)
2 eiergele
sap van een suurlemoen
3E Italiaanse pietersielie, gekap
sout en peper, na smaak

Verbruin die lam in gesmelte varkvet, voeg volgende die ui en spek by en braai vir nog twee minute. Voeg die meel by, en braai vir twee minute terwyl jy roer.

Voeg die wyn by en kook vir ’n minuut. Voeg die lamaftreksel by, sit die deksel op en kook oor ’n lae hitte vir ’n uur. (As jy ouer skaap gebruik, gaan dit langer nodig hê – kook hom tot die vleis lekker sag is.) Roer af en toe en voeg nog water by soos nodig. Jy wil opeindig met so 300ml vloeistof, want dis die basis van die sous.

Net voor ete, klits die eiergele saam met die pietersielie en suurlemoen. Voeg twee eetlepels van die vleiswater by die eiermengsel en roer vinnig. Voeg dan die eiermengsel by die vleis en roer aanhoudend oor ’n baie lae hitte totdat die eiergele die sous begin verdik. Moet dit nie laat kook nie! Proe en voeg sout en swartpeper na smaak by. Bedien onmiddellik met pappardelle-pasta of enige ander pasta van jou keuse.

Ek strooi ’n laaste bietjie pietersielie oor en ’n paar stukkies brosgebraaide spek, maar dis nie noodsaaklik nie. Ek bedien dit ook met ’n paar skyfies suurlemoen op die tafel, net ingeval iemand anders so mal is oor ’n suurigheid as ek.

bedien

4

vooraf

20 min

kook

60 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Gremolata

Vir parmantige ekstra geur kan jy gremolata oor hierdie pasta gooi net voor jy dit bedien. Gremolata is tradisioneel ‘n mengsel van fyngekapte pietersielie, suurlemoenskil en vars knoffel. Vir hierdie resep sal ek die knoffel uitlaat – net ‘n groot handvol pietersielie, die skil van een suurlemoen en ‘n teelepel of twee vars marjolein

lekker saam met

My keuse hierdie week is ons eg Suid-Afrikaanse kultivar, Pinotage. Dis ‘n kruising van die temperamentele druif, Pinot Noir en Cinsaut (oftewel Hermitage) vandaar die naam.

Dis lig en net reg vir ‘n informele kuier en ‘n bord pasta. Probeer hierdie een van Allée Bleue.

Pinotage

scroll-main

Ook beskikbaar in: English