Op ’n Sondagoggend is dit ’n botterige croissant vir stoepsit met die koerant. Vrydagaand ’n dankie-tog-dis-naweek geroosterde hoender met ’n glas (of twee, of drie) Chardonnay. In hierdie kop-af, dolle wêreld van konstante verandering en gejaag, klou ek vas aan my kostradisies soos bosluise aan ’n straatbrak.

Warm en veilig – dis hoe dit my laat voel. Daarom begin ek hier middel November al die supermarkte irriteer met my geneul oor Panettone – daai Italiaanse koekerige-broderige Kersgebak gepak met rosyne en sitrus. Dis my ontbyt, heel Desember lank. As die Suidooster nie waai nie, sleep ek myself vroeg uit die vere, maak ’n fles vol sterk koffie, sny ’n onbeskofte dik stuk Panettone en sit af strand toe om te gaan kyk hoe die son opkom oor Tafelbaai.

Maar op Kersdag soek ek ’n bederf-ontbyt. Dan doop ek my Panettone in eier en room met ’n titsel vanielje en braai hom tot goudbruin – in botter, natuurlik. Suikersoet frambose, bloubessies en mascarpone-kaas daarby en ek’t krag vir die Kersdag-hordes. Ek kan dit seker Franse roosterbrood noem, maar sy Franse naam, pain perdu, klink baie grênder.

Al wat jy nodig het is…

1 groot Panettone (Checkers het, en teen ’n goeie prys nogal. As jy nie kan kry nie, gebruik rosyntjiebrood.)
4 groot eiers
halwe koppie melk
halwe koppie vars room
vanielje-ekstrak
1E strooisuiker
botter, vir braai
150g mascarpone-kaas
200g vars somerbessies (ek het frambose en bloubessies gebruik, maar aarbeie en kersies sal ook werk)
halwe bottel (so 150g) frambooskonfyt (ek is mal oor Bonne Maman s’n)
versiersuiker
kaneel
skil van een lemmetjie (opsioneel)

Smelt die konfyt met drie eetlepels water, verwyder van die hitte sodra dit kook en voeg die bessies by. Sit eenkant. Klits die eiers, melk, room, strooisuiker en ’n paar druppels vanielje-ekstrak saam. Sny stewige skywe Panettone en week hulle in die eiermengsel. Jy wil hulle nie net skrikmaak nie, hulle moet sommer behoorlik gedoop word sodat hulle al daai wonderlike romerige eier opsuig.

Smelt ’n klontjie botter in ’n kleefvrye pan en braai die Panettone oor ’n lae hitte tot alkant bruin. (Die geheim van goeie Franse roosterbrood is ’n medium-lae hitte, sodat hy buite bruin is en veerlig en soufflé-agtig binne. Kook jy hom te vinnig, skroei jy hom buite, terwyl hy rou bly binne.)

Bedien met die bessies en ’n skeppie van die gesmelte konfyt. Sif versiersuiker met ’n knippie kaneel oor, ’n bietjie fyn lemmetjieskil en hy’s reg. Skep ook ’n lepel of wat van die gesmelte konfyt oor die mascarpone-kaas en roer met ’n vurk om ’n mooi marmer-patroon te maak. Bedien by die Panettone. Lekker Kersfees hou!

Hoe gemaak 1: Mascarpone-kaas is woes dik, so ek verdun dit dikwels met ’n eetlepel of twee melk.

Hoe gemaak 2: Hier in die suide het ons nou vars bessies, maar vir my lesers in Amerika en Europa, gebruik sommer bevrore somerbessies. Gooi hulle net so gevries in die vuurwarm gesmelte konfyt.

bedien

4

vooraf

10 min

kook

7 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Oorskiet bessies

Dit voel half verkeerd om die woord ‘oorskiet’ te gebruik om iets so wonderlik soos hierdie bessie/konfyt mengsel te beskryf.
Maar as jy oorhet, is daar sommer ‘n spul goed wat jy daarmee kan doen. Saam met geroosterde amandels oor Griekse joghurt vir ontbyt. Saam met roomys. Saam met warm wafels en room. Jy kry die idee.

lekker saam met

As jy borrels by jou feesontbyt wil hê, koop enige Suid-Afrikaanse MCC. As jy lemoensap gaan bygooi en ‘n Bucks Fizz maak, los die MCC want jy gaan net jou geld mors. Koop dan liefs een van die goedkoper vonkelwyne soos ‘n JC le Roux Brut. Ek bly by die fênsie goed en gaan ‘n bottel van Graham Beck se rosé MCC oopmaak.

Dis gewoonlik hier by die R110-R120 merk, maar daar is baie winskopies in die supermarkte op die oomblik, so snuffel maar.

GB rose

scroll-main

Ook beskikbaar in: English