Daar’s onvermydelik dinge uit mens se kindertyd wat ’n paar littekens laat. Hoog op my kindertyd-trauma lys was lewerkoekies. Ma het dit ten minste elke tweede week gemaak. Oor Pa daarvan gehou het. En oor dit goedkoop was.

Op lewerkoekie-dae het ek reeds by die voorhek geweet wat my voorland was. Die enigste ding erger was viskoekie-dae. Die een gemaak met Lucky Star sardiens in tamatiesous. Never mind die hek, dié knaap kon ek reeds ’n blok weg ruik. Nie eens Flappie, ons rifrug-kruis-boerboel, wou lip daaraan sit nie.

Lewerkoekies en geblikte sardien-viskoekies is gevolglik iets wat ek in my hele grootmens lewe nog nooit gemaak het nie. Tot onlangs. Want sien, die fabulous Errieda du Toit nooi my so rukkie terug uit na die bekenstelling van haar nuwe kookboek, TUISTAFEL. Errieda is ’n ou kookboek-bok. Haar eerste een, Huiskok glanskok, het ’n Gourmand-toekenning ontvang. As kos-inhoudsvervaardiger van Koekedoor en Kokkedoor, het sy ook vier boeke oor dié reekse die lig laat sien.

Tuistafel is ’n skatkis van internasionale resepte én eg Suid-Afrikaanse resepte. Dinge soos skaapnek en pampoenkoekies, sagopoeding en asynribbetjie. Maar dis die lewerkoekies was my oog vang. Errieda sê dis nie haar resep nie. Dis die een van Esmé en Jan se ‘So Maak Mens’-program uit die sestigerjare op Springbokradio. Ek onthou nie Esmé en Jan nie. Dis bietjie voor my tyd. Maar ek onthou Springbokradio. Hulle lief-en-leed stories (die radio weergawe van sepies) het my elke middag geselskap gehou as ek met die verdomde wiskunde huiswerk sit en sukkel het.

Anders as Ma se resep, gebruik dié een skaaplewer in plaas van bees. Hy bevat ook aartappels. Ma’t net meel gebruik. Ek besluit dis anders genoeg om dit te waag, en ek maak hom. Sommer twee keer.

Tuistafel is nou beskikbaar in boekwinkels landwyd. Sit hom onder die Kersboom en maak die kok in jou lewe bly.

Al wat jy nodig het is…

1 kg gemaalde skaaplewer
4 groot aartappels
2 uie, gerasper
30ml asyn
1 koppie koekmeel
2 eiers
15ml bakpoeier
sout en peper na smaak (onthou dit bring die geur uit so moenie skaam wees nie, ek sou sê ten minste 1.5 teelepels sout)
olie vir die braai

Errieda is groothartig gul. Toe ek dus vra of ek een van haar resepte kan publiseer sê sy nie net ja nie, maar nooi my uit om dit te verander nes ek wil. Ek is nie ’n groot aanhanger van peuter net vir die lekker nie. Dus maak ek gewoonlik resepte getrou soos hulle sê die eerste keer, en los die aanpas vir die tweede keer.

Dié resep sê die aartappels word gerasper en by alles gemeng, so ek neem aan hulle is rou. Die ding hiermee is dat die koekies langer vat om te braai want die aartappel moet gaar en in die proses gebruik mens heelwat olie. Met die dat ons nou meer bewus is van ons harte as in Tannie Esmé se tyd, vervander ek dit dus effe toe ek dit die tweede keer maak. Hier’s hoe:

Skil die aartappels en kook hulle in soutwater vir 15 minute net om die angel uit die rou te trek. Laat hulle afkoel en rasper hulle dan. Meng al die bestanddele saam en braai die koekies in ’n klein bietjie olie oor medium hitte tot gaar. ’n Outydse tamatie-en-uieslaai en blatjang is perfek hierby, of bedien dit met kraakvars radyse, pikante blare soos roket of bronkors (watercress) en ’n wiggie suurlemoen. Vir stysel is kapokaartappels altyd gaaf by lewer. Ek hou ook van hierdie lewerkoekies op ’n sny rog-brosbrood met ’n gesonde skep van my outydse soet-suur mosterd.

maak

14

vooraf

20 min

braai

20 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English