Die hele ding het begin met ’n kat wat ongewoon stip staar. Ek’s gewoond daaraan dat Merlot na haar kosbak staar, as sy reken hy’s te leeg. En na my, as sy reken ek doen nie vinnig genoeg iets daaraan nie. Maar toe sy laasweek by my voete kom sit en na die hoek van my lessenaar staar, het ek vermoed iets is nie pluis nie. ’n Geritsel het dit bevestig.

Ek ken ’n muis en ek ken ’n rot. Ook ’n mol. Hierdie was nie een nie. As ek iets nie weet nie, maak ek soos die res van die wêreld – ek Google. “Images for rodents Western Cape” het na ’n heel logiese soek-kriteria geklink. Daarom was ek nogal verbaas toe dit ’n foto van Helen Zille oplewer. Sjoe, ’n bietjie woes, het ek gedink. Maar die politiek kan mos maar lekker lelik raak, veral so in die aanloop tot ’n verkiesing.

Toe bekyk ek die storie van nader en besef dis nie politiekery nie, dis Google-logika. As ’n vrou aan haar toon gebyt word deur ’n rot – soos ’n ruk terug met Helen gebeur het – is dit mos net logies dat haar foto gaan verskyn onder  “images for rodents Western Cape”.  Heel logies.

Ek het die knaap uiteindelik gevang gekry – na ek hom deur die huis gejaag het met ’n leë roomysbak in my hande. Daar was ’n gepiep en geskree – deur albei partye. Ek’s steeds nie 100% seker wat dit was nie, maar hy’s nou veilig in die bure se erf (jammer) waar Merlot hom nie met haar vlymskerpe katkloue kan bykom nie.

Na ’n goeie was met Jik, was die bak weer skoon genoeg vir my om my ouma se Ideal-melk roomys daarin te kan maak. As kind het dit enige seerkry – eg of verbeel– weggetoor. So as die wêreld jou vir ’n rot uitskel, of as een jou in jou huis rondjaag of jou aan die groottoon byt, is hierdie roomys die antwoord vir jou smarte.

Al wat jy nodig het is…

1 blik kondensmelk
paar druppels vanielje-ekstrak
250ml vars room
1 blik ingedampte melk, yskoud

Hierdie is outydse roomys. Die laaste ding wat my ouma 40 jaar gelede op die plaas gehad het, is ’n fênsie roomysmasjien. Nee wat, hierdie een gooi ons sommer in ’n bak in die vrieskas.

Dié resep is so maklik, my kat kan dit maak met een voorpoot agter haar rug vasgebind. Roer eenvoudig die room en vanielje by die kondensmelk. Klits die koue ingedampte melk tot dit lekker skuimerig is. Roer dit by die kondensmelk mengsel en jy’s klaar!

Sit dit in ’n bak in die vrieskas vir 3-4 ure. Roer dit twee keer binne die eerste 90 minute. My ouma het hare in daai outydse vlekvrye staal ysbakkies gemaak. Gebruik hulle as jy het, dis perfek vir retro-nostalgie.

Maar as jy nou gaan uithang, vries dit sommer in die mooi bak waarin jy dit gaan bedien. Ek het dit al selfs in ’n antieke silwer bak gevries. ’n Mooi Franse lint om die handvatsel en hy’s reg vir die tafel. Tog te feestelik.

’n Baie groot dankie: Aan my Tannie Merika, wat hemel en aarde beweeg het om hierdie resep vir my uit te grawe.

bedien

6-8

vooraf

5 min

vriestyd

3-4 ure

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Koue bederf vir warm weer

Die Desembervakansie is die perfekte tyd vir speel in die kombuis. Blits volroom Griekse joghurt saam met ryp piesangs, ‘n skoot suurlemoen en hope heuning en vries.

Blits frambose en aarbeie saam met bessie vrugtesap en vries as individuele ysies. Gebruik jou verbeelding en maak die kinders deel van die pret.

lekker saam met

Ek’s een van daai mense wat hou van wyn by elke gang, selfs poeding. Maar ek reken die idee van wyn by roomys sal heelwat met afgryse vul. Hier’s ‘n idee… Week rosyne oornag in Muskadel tot hulle lekker vet uitgeswel is. Skep die rosyne en gekapte neute (haselneute, amandels, pekanneute) oor die roomys.

‘n Teug yskoue Muskadel daarby en die wêreld is sommer ‘n beter plek. Probeer Nuy, hulle maak wit en rooi Muskadel. Vir hierdie resep verkies ek die witte.

Nuy

scroll-main

Ook beskikbaar in: English