Mollig. Tog so oulike woord. Dit dartel op die tong soos fraai, vinkel en feëtjie. In realiteit is dit natuurlik minder oulik. My ouma was geneig tot molligheid. Blykbaar het ek haar gene. As ek ’n ding in my mond sit, moet dit dus die kalorieë werd wees.

Ouma se kos was elke kalorie dubbel, nee wat, sommer trippel werd. Melkkos mildelik gestrooi met kaneelsuiker, souskluitjies druppend van die botter en hoenderpastei barstensvol naeltjiegeur. Jip, elke kalorie werd.

Die hoenderpastei wat elke Sondagmiddag op ouma se tafel was (saam met skaapboud, want sy sou haar mos doodskaam om net één vleis te bedien) was nogal ’n gedoente. Vet plaashoender wat lank en stadig in die oond rooster voor sy hom met ’n vurk bykom en in dun repies uitmekaar trek. Tuisgemaakte aftreksel en veerligte tuisgemaakte pasteikors…

Ek maak steeds haar resep, maar my stadswêreld is ’n baie anderse een as haar plaaswêreld van vier dekades terug. So vir sommer elke dag se kook verander ek hom met ’n spul kortpad kinkelry. In plaas van heel hoender gebruik ek hoenderdye (nie borste nie, hulle’s hopeloos te droog). Die aftreksel kom uit ’n pakkie, so ook die pasteideeg. Maar ek sukkel nie verder met hom nie. Niks ge-ui en ge-sampioen nie. Ouma draai in haar graf om. Nee, hy kry net kruienaeltjies, soos dit enige behoorlike boere hoenderpastei betaam. Dit proe amper soos hare. Amper.

Al wat jy nodig het is…

8 plomp hoenderdye (10 as hulle klein is)
sout
4E gewone kookolie
5 naeltjies
1½k water
1 sakkie gekonsentreerde vloeibare hoenderaftreksel (Ek’t Woolies se Roast Chicken Concentrated Stock gebruik, jy kan ook Ina Paarman s’n of Nomu se wonderlike Chicken Fond gebruik.)
¼t swartpeper
¼k vars room
1E botter, teen kamertemperatuur
2E koekmeel
1 pakkie winkel blaardeeg (Moenie suinig wees nie, gebruik Woolies se All Butter Puff Pastry, jy sal die verskil proe!)
1 eier, geklits

Verwyder die hoendervel, dis net onnodige vet. Sout die hoenderstukke liggies en braai in die olie tot behoorlik goudbruin alkant. Die hoender kan nog rou binne wees, al wat jy soek is die lekker bruin buite, dis pure geur! (WENK: Braai net ’n paar stukke op ’n slag. Smyt jy die lot op een slag in, stoom dit in plaas van braai.) Verwyder die hoenderstukke sodra hulle bruin genoeg is. As al die hoender eers gebraai is, gooi die water in die pan. Roer sodat al daai lieflike bruin aanbrandsels van die bodem loskom. Plaas die hoender terug in die pan, en voeg die aftreksel, naeltjies en peper by. Bedek en kook oor ’n medium-lae hitte vir 25-30 minute tot die hoender sag is. Verwyder dan die hoender en sit opsy.

As jou hitte laag genoeg was, sal jy 1½ koppies vloeistof in jou pan hê. Indien nie, voeg bietjie ekstra water by tot jy 1½ koppies het. Verwyder die naeltjies en voeg die room by. Meng die botter met die meel – jy sal ’n kindertjie-speeldeeg tipe fermheid kry. Plaas die sous terug op die hitte en klits een lepel van die botter/meel mengsel op ’n slag in die sous in. Sodra alles in is, kook al klitsend om die meel uit te kook en die sous te verdik – dit vat so 5 minute. Verwyder dan van die hitte.

Gebruik twee vurke om die vleis van die bene af te trek en te vlok. Voeg die hoendervleis by die sous en proe vir sout – sout is geur, jy’t meer nodig as wat jy dink!

Skep die mengsel in ’n oondvaste pasteibak en bedek met die blaardeeg. Druk die deeg mooi netjies om die rante van die bak vas. Verf met die eier en maak ’n klein snytjie in die middel van die hoenderpastei (dis sodat die stoom kan ontsnap). Bak in ’n 180 grade Celsius oond vir 30-40 minute tot goudbruin. Jy kan een groot hoenderpastei maak, of vier dik-eet individuele pasteie. Bedien met ertjies en outydse geelrys met rosyne.

bedien

4

vooraf

20 min

kook

60 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Strek die pastei en spaar die heupe

Jy kan hierdie resep strek deur sampioene by te sit. Braai hulle eenvoudig apart en voeg hulle by die fyn hoender. As jy die skaal dophou, verdik die sous met ‘n paar lepels mielieblom gemeng met ‘n titsel koue water in plaas van die botter en meel. Baie mense sal frons hieroor, ek gee nie om nie. As dit nou rêrig moet, vervang ook die botter-blaardeeg met filodeeg wat minder vet bevat.

lekker saam met

My keuse hierby is Lanzerac se 2013 Chardonnay. 80% van die wyn is gefermenteer in Franse houtvate en die orige in staaltenks. ‘n Kombinasie nuwe en ou vate word gebruik om ‘n perfekte vrugtebalans te verseker. Dis ‘n lieflike komplekse wyn met die kenmerkende sitrus note van ‘n Chardonnay, maar ook naeltjies, gemmer en vanielje. Perfek by ‘n hoenderpastei met naeltjies!

Lanzerac se 2013 kry vier sterre in Platter se 2015 wyngids. Dit het ook dubbel goud gekry in die WineStyle People’s Choice Awards 2014. Beste van als? ‘n Kelderprys van R85.

Lanzerac Chardonnay

scroll-main

Ook beskikbaar in: English