Koek is nie eintlik ’n ding waarvoor ek kaalvoet die Kalahari sal oorsteek nie – met twee uitsonderings: 1) ’n properse kaaskoek wat in die oond kom en… 2) sjokoladekoek! Ag jenetjie mens hoe donkerder en ryker, hoe beter. Sjokoladekoek resepte aangemaak met warm melk is niks nuuts nie. Elke selfrespekterende bazaar-tannie in ’n blomrok het een. Hierdie een is my ouma s’n. Sy’s donkiejare al weg, maar sy’s steeds springlewendig om my kombuistafel elke keer as ek deur haar spinnekop-krabbel resepteboeke blaai.

Ouma het gekookte kondensmelk of appelkooskonfyt tussen die lae gebruik, en bo op sjokolade-botterversiersel. Maar dis vye seisoen en ek kon die fraaie piepklein pers vytjies in Checkers nie weerstaan nie. Ek gryp hulle en besluit outydse vyekonfyt en geklopte room vir my lae is heel gaaf. En in plaas van versiersuiker kry die boonste laag sjokolAde-ganache voor ek die hele bakkie vye bo op tuimel.

Al wat jy nodig het is…

VIR DIE KOEK
3 ekstragroot eiers
1¼ koppies suiker
1½ koppies koekmeel
5E kakao
3t bakpoeier
knippie sout
¾ koppie melk
3E botter
VIR DIE GANACHE
½ koppie melksjokolade, gekap
½ koppie donker sjokolade, gekap
derde koppie room
VIR AANMEKAARSLAAN
vyekonfyt of appelkooskonfyt
1 koppie room, styf geklop met 2E strooisuiker

Voorverhit die oond tot 190 grade Celsius. Klits die eiers en suiker saam tot dit liggeel, dik en die suiker opgelos is. (Vryf dit tussen jou vingers, voel jy steeds suikerkorreltjies klits jy voort.) Sif die droë bestanddele 2-3 keer saam – jy soek soveel lug as moontlik, een-keer-sif luiheid is nie OK nie. Vou die droë bestanddele by die eiermengsel. Verhit die melk en botter tot net onder kookpunt. Roer dit by die koekmengsel. Verdeel eweredig tussen twee kleefvrye 18cm koekpanne gespuit met Spray and Cook. Klop die panne liggies op jou kombuistafel om enige lugblasies te verwyder. Bak vir 25-30 minute – moenie die oond voor die 25-minute kerf oopmaak nie! Toets die koek deur ’n dun messie of sosatiestokkie in die middel te steek. Kom hy skoon uit, is hy reg.

Keer sjokoladekoek uit op koekrakkies en laat afkoel. Om die ganache te maak, verhit die room tot net onder kookpunt en roer die sjokolade in tot gesmelt en blink. Laat ganache afkoel tot kamertemperatuur. Smeer die lae met konfyt en room. Smeer die ganache op die boonste laag en bedek sjokoladekoek met vye. (WENK: Indien verkies, kan jy kersiekonfyt en vars kersies in plaas van die vye gebruik, dis ’n perfekte pasmaat vir die sjokolade.)

bedien

8

vooraf

20 min

bak

30 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English