As jy katte of kinders het, weet jy reeds wat ek nou gaan sê… Daarsie so ding soos laat slaap op ’n Saterdagoggend nie. Ook nie Sondag nie. Merlot hou my op my tone deur haar strategie om my uit te bed te kry en kos in haar bak te kry af te wissel. Maar dis gewoonlik ’n kombinasie van drie dinge: flikflooi, skree en byt. Ek gee nie te veel om nie, want dit beteken ek kry my inkopies vroeg gedoen. Laas Saterdag is ek soos gewoonlik dou voor dag uit die vere gejaag en, na ’n koppie boeretroos om oor my Merlot-marteling te kom, vat ek die pad na een van my gunsteling plekke in Kaapstad – die stadsplaas in Oranjezicht (oftewel die Oranjezicht City Farm soos hy eintlik bekend staan).
Dis begin deur ’n groep plaaslike inwoners op ’n lappie onbenutte munisipale grond. Hier, aan die voet van Tafelberg met die mooiste uitsig oor die stadskom en Tafelbaai, word geplant en geboer dat dit klap. Die OZCF is ’n wonderlike voorbeeld van wat kan gebeur as ’n paar gewone mense met insig en omgee iets aanpak. Opvoeding en die oordra van vaardighede is ’n sleutelfokus van die projek. Ek hou sommer baie daarvan, maar ek hou nog meer van die feit dat ek organiese groente en vrugte kan koop wat so te sê op my drumpel gegroei is. Die OZCF laat jou toe om jou lyf aardmoeder te hou en self te pluk op Woensdae. Natuurlik onder toesig, sodat mens nou nie hulle hele opset befonkfaai nie. Ek is lui, so ek pluk nie. Ek koop eerder hulle groente by die naburige OZCF mark wat elke Saterdagoggend klokslag nege uur begin. Na my mening is dit bietjie laat, want Merlot begin gewoonlik reeds hier sesuur al aan my hap. Maar dis reg so. Terwyl ek wag, wandel ek deur die groentetuin met ’n koppie koffie en drink die wonderskoonheid van die berg en baai in.
Oranjezicht Mark: Bring jou mandjie en maak hom vol met kos vir die week.
Wanneer die klok nege uur lui gryp ek my mandjie en maak hom vol vir die week. Groente en vrugte is nie al wat jy hier kry nie. Koop ’n cappuccino en drentel stadig deur stalletjies met die wonderlikste brood, patisserie, konfyte, kase, vleiserigheid en meer. Bring die familie, sprei ’n kombers oop onder die eikebome en eet ontbyt. Eiers gebak op ’n ryk tamatiesous bedien met sagte Turkse brood is net waarvoor ek lus is. Con Amici sê dis Shakshuka. Ek sê dis hemels. Hier half-twaalf se kant begin die honger weer knaag. Tyd vir iets soets. Wat van ongewone roomys? David Stone speel by die Nitro Creamy stalletjie met stikstof om roomys voor jou oë op te tower. ’n Wetenskapsles en poeding in een. Kannie beter nie.
Kom kuier by die OZCF hierdie naweek. Jy sal nie spyt wees nie. Vir mammas/pappas/onnies, loer hier wat skoolgroepe by die OZCF kan leer.
Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As ‘n iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling. Ek bly in die Kaap en gevolglik is my fokus meestal op Kaapse dinge. Ons land is groot en mooi en ek wil graag van alles hoor. Ek nooi jou om al jóú gunsteling markte, feeste, restaurante en wynproe plekke met ons te deel. Skryf eenvoudig jou aanbeveling in die ‘BOODSKAP’ blok hieronder.
Los 'n Boodskap