Nutella, warmsjokolade en bom. Sê hierdie drie woorde in ’n sin en dit beteken net een ding – sielsalige lekker bederf. Ek’s nie ’n ma nie. OK ek is, maar van katte kinders, nie regte egte menskinders nie. Maar ek ken van die nagmerrie van skoolvakansies. Maak nie saak hoeveel ek daarna uitgesien het as kind nie, tien dae na die begin die Desembervakansie sou ek onvermydelik begin neul “Ma, ek’s verveeld!” Ek besef eers nou hoe sielsirriterend dit vir haar moes gewees het.

So hierdie resep is vir al daai ma’s wat met angs (no judgement) dink aan kinders onder die voete hê vir meer as ’n maand. Laat hulle Nutella sjokoladebomme maak. Nie net sal dit hulle besig hou vir ’n uur of wat nie, maar hulle sal dink jy’s beste ma in die wêreld.

Al wat jy nodig het is…

Groot blok melksjokolade
Nutella
Klein verfkwassies
Sjokoladevorm

Jy wil nou nie ’n klein oorlog op jou hande hê nie, so begin deur die sjokoladevorm te sny sodat elke kind sy eie een het. Breek die sjokolade in blokkies, sit in ’n bakkie en blits dit in die mikrogolfoond vir net 30 sekondes op ’n slag. Verwyder en roer en blits dit weer. Herhaal tot die sjokolade gesmelt is, roer dit dan goed en laat dit vir ’n minuut of wat staan om af te koel. Dit maak dit makliker om mee te werk. Doop verfkassies in die sjokolade en verf eers die kante en dan die bodem van die sjokoladevorms. Sit in die yskas tot hard. Herhaal nog twee maal.

Sodra die derde laag hard is, skep Nutella in die vorms. Moenie die vorms tot bo vul nie, jy’t 2mm nodig. Gooi die laaste van die sjokolade in om die vorm gelykvol te maak en sit in die yskas tot hard. Pop die sjokoladebomme uit die vorms en hou hulle in die yskas tot jy hulle gebruik. Om warmsjokolade te maak, kook eenvoudig melk, gooi in glase, pop ’n Nutella sjokoladebom in elke glas, roer en geniet!

As ek hierdie as bederf vir grootmense maak sal ek eerder 70% kakao donkersjokolade gebruik. Met die dat ek die skaal met valkoë moet dophou bly ek maar liefs by my laevet lemoen-warmsjokolade resep.

bedien

6

vooraf

15 min

verkoel

15 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English