Tamatie is vir my soos hoender – nie naastenby so goed soos wat ek dit uit my kinderdae op my ouma se plaas onthou nie. Om vandag se supermark poginkies as bleeksiel te beskryf, is nogal beleefd. Italië, nou dáár weet hulle nog hoe ‘n tamatie moet proe. Bloedrooi en sappig, ‘n bietjie sout is al wat hy vra. Die Italianers sny tamatie sommer in klein blokkies en gee dit vir jou op ‘n stukkie bros knoffelrige bruschetta met net ‘n blerts olyfolie. Lekkerder nog is hulle caprese, daardie hemelse kombinasie van tamaties, mozzarella en basiliekruid. Toe dog ek, wat is nou fout met ‘n massiewe stuk brosserige brood, gepak met al my gunsteling Italiaanse smake?
Al wat jy nodig het is…
pizzadeeg (resep volg hieronder – dis maklik!)
ryp kersietamaties, gesny (as jy ‘n mengsel rooi en geel kan kry, lyk dit tog te fraai) groot handvol vars basiliekruid
vars mozzarella
2 knoffelhuisies – baie fyn gekap
2E olyfolie
growwe sout (probeer Maldon sout, dis om van lofliedere te sing)
growwe swart peper
Voorverhit jou oond to 200°C . Sit jou bakplaat in die oond wanneer jy die oond aansit sodat hy lekker warm kan word. Om knoffelolie te maak, verhit die olie , gooi die knoffel in en haal dadelik van die plaat af. Laat dit staan om af te koel. Rol die pizza deeg dunnerig uit. Hoe dunner, hoe brosser, so kies maar. Ek hou van so 5mm, want my tande is nog goed. Vee die warm bakplaat en die deeg met die knoffelolie. Sprinkel bietjie sout oor en bak teen 200°C to deurgaar. (Baktyd hang af van jou oond en die deeg se dikte. So 10-12 minute behoort die ding doen.) Haal uit en laai hom tot hy kreun met die tamaties, basiliekruid en mozzarella. Gooi nog ‘n blertsie van die knoffelolie, sout en growwe swart peper oor en eet dadelik.
Maklikste-ooit pizzadeeg (maak 6 klein pizzas)
400g witbroodmeel
100g semolina
1 pakkie (10g) kits suurdeeg
¼t sout
260ml louwarm water
40ml melk
1t heuning
Meng die meel, semolina, suurdeeg en sout. Gooi nou geleidelik water in en meng. Voeg die melk en heuning by met die laaste bietjie water. Knie vir 12 minute. Jy kan ‘n menger met ‘n deeghoek gebruik om dit te doen, maar vir my is die leëkop ritmiese aksie van knie balm vir die siel in ‘n mal dag. Sit die deeg in ‘n groot skoon bak, borsel met ‘n bietjie olyfolie, maak toe met kleefplastiek en ‘n vadoek en bêre hom in ‘n lekker warm plek – ek steel gewoonlik Merlot se gunsteling sonkolletjie.
Laat die deeg vir ‘n uur tot uur en ‘n half rys tot dit in grootte verdubbel het. Knie die deeg af. Hy’s nou oondreg maar – en hier is nou my ouma se manier met ‘n suurdeeg ding – ek laat hom weer rys vir so driekwart uur en knie hom weer af. Besluit maar self of jy ‘n een-keer-rys of twee-keer-rys kok is.
bedien
4
vooraf
2 ure
kook
12 min
goed om te weet
Kombuisgodin
Jy kan die pizzadeeg klaarmaak tot by die afknie stap, in bolletjies verdeel, goed toedraai in kleefplastiek en vries. Haal hulle uit soos jy hulle nodig kry en ontvries in die yskas. As dit nou rêrig moet, ontvries dit binne 20-30 minute teen kamertemperatuur – perfek vir as jou skoonmense jou onaangenaam verras.
Mozzarella
Vir hierdie resep het jy beslis vars mozzarella (die een in water) nodig, nie daai rubberige een nie. Jy kan properse ingevoerde Italiaanse buffel mozzarella kry, maar ek het beter dinge om te doen met R60, soos ‘n nuwe paar Pep Stores tekkies koop. Ons plaaslike vars mozzarella is heel skaflik. As jy in Pofadder of Patensie sit en jou naaste vars mozzarella is 7-dae-op-‘n-donkiekar ver, nou ja, probeer dan maar die rubber een, maar sny hom so dun soos papier.
lekker saam met
Gekookte tamaties kan rooiwyn hanteer, maar rou tamaties verkies ‘n witwyn. Verkieslik een met ‘n bietjie suur om die hope suur in tamaties te balanseer, maar ook ‘n wyn met hope vrugte wat die sappige eienskappe van ‘n soet tamatie sal aanvul.
Sauvignon Blanc is perfek en een van my sakpas gunstelinge is Merwida Sauvignon Blanc met sy hope koejawel en net ‘n titsel aspersie. Die 2012 oes het Veritas dubbelgoud gewen. Fantastiese waarde hier by die R50 merk.
Los 'n Boodskap