Pase is verby en Mei is amper op ons mense. Dis hoeka nog nie tyd vir my flênnie onder-goedjies nie, nog nie tyd vir dik sop barstensvol vleis en murgbene nie. Maar die aande raak koel en ek soek tog al meer ’n ietsie warms om die siel te streel. Minestrone is die antwoord.

Hierdie staatmaker Italiaanse sop is perfek vir aanpas by wat jy in die koskas het. Maar wat ek ook al ekstra byvoeg, minestrone móét ek begin met ui, wortel en seldery. Tamatie moet hy ook kry, sommer uit ’n blik uit ja, maar baie. En dan natuurlik die kersie op die minestrone koek – ordentlike parmesaan. Nie die goor poeier-in-die-pakkie tipe nie. Die ware Jakob, wat jy self rasper terwyl jy vals opera neurie.

Al wat jy nodig het is…

2 medium uie, fyn gekap
2 stukke seldery, dun gesny
4 wortels, in piepklein blokkies gekap
4 repies spek, in dun repies gesny (laat uit vir ’n vegetariese sop)
4E olyfolie
800g blik tamaties, fyn gekap en die tamatiesous gereserveer
2 blokkies groente-aftreksel
2 lourierblare
8 koppies water
½t sout
1t growwe swartpepper
1 ekstragroot aartappel, geskil en in medium blokkies gesny
1 koppie rysvormige rosmarino-pasta (of enige ander klein pasta)
4 murgpampoentjies, in dun skyfies gesny
2 koppies kool, fyn gekap
1 groot bondel spinasie of blaarbeet (Swiss chard), goed gewas en rofweg gekap (Woolworths het handige pakke blaarbeet wat klaar gewas is)
1 x 400g blik cannellini-bone, afgespoel en gedreineer
½ koppie gerasperde parmesaan
ekstra sout, na smaak
vars basiliekruid, vir bedien
ekstra parmesaan, vir bedien

Gryp jou grootste pot en braai die uie, wortel, seldery en spek in die olyflie vir 5 minute. Voeg die gekapte tamaties en die gereserveerde tamatiesous by. Kneus die lourierlare en voeg hulle by, asook die groente-aftreksel, water, sout, peper en aartappel. Sit die deksel op, draai die hitte laag en kook tot die aartappel net duskant sag is.

Voeg dan die pasta, murgpampoentjie, spinasie of blaarbeet en kool by en kook tot die pasta gaar is – so 10 minute. Voeg ekstra water by indien nodig. (Jy kan die kool bietjie vroeër byvoeg as jy wil. Ek hou eenvoudig nie van die effe vrot-eier klankie van kool wat lank gekook het nie, dus die laat bysit. Solank dit fyn genoeg gekerf is, behoort die kool sag te kook in die tyd wat dit vat vir die pasta om te kook.)

Roer die cannellini-bone en parmesaan by en kook vir nog ’n minuut of twee net om die minestrone behoorlik deur te verhit. Proe vir sout. Jy sal beslis ekstra sout nodig hê, maar hoeveel hang af van hoe souterig die aftreksel wat jy gebruik het is. (Ek weet die soutpolisie sal frons, maar onthou net, sout maak ‘n massiewe verskil aan ons persepsie van geur. As kos effe ‘plat’ proe, so of dit ’n ‘ietsie anders’ kort maar jy is nie seker wat nie, dan kan jy maar weet – hy’t sout nodig!)

Bedien hierdie minestrone gekus met ’n paar basilikruid-blaartjies vir die ekstra lekker en die mooi. ’n Laaste parmantige blerts olyfolie en jy’s klaar. Hope ekstra parmesaan op die tafel is natuurlik ’n moet. So ook brood vir die breek en die doop. En ’n glas rooiwyn of twee.

bedien

6-8

vooraf

20 min

kook

60 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English