Rekeningkunde was nie een van my sterker vakke op skool nie. OK, ek was gevaarlik naby aan pluk – en dít in standerd 6. So toe ek die ander dag oor familie dink, het dit my ’n ruk gevat (en ek moes ’n paar keer oor begin) om uit te werk hoeveel neefs en niggies ek het. Die antwoord is 24.

Wat verwag jy nou as jou pa een van 9 was? My oupa was duidelik ’n bul van ’n man en my ouma nie juis ’n hoofpynleier nie. Maar ek wil liefs nie te veel aan sulke dinge dink nie.

Terug na die 24 toe. Die lekker ding van 24 neefs en niggies hê, is dat dit die kanse verbeter dat mens van party van hulle sal hou. Dis nie ’n uitgemaakte saak met families nie verstaan, soos jy miskien al uitgevind het.

Genadiglik hou ek sommer van ’n hele paar. Ek’t nie bloed in die Kaap nie, so dis vir my ’n groot bederf as familie hier aankom. Uitgehonger vir familienuus, snuffel ek oor lang etes om my kombuistafel al die jongste stories uit, hopende dat daar darem ’n intrige of wat ook sal wees, net om dinge interessant te hou.

Dinsdag was dit weer sulke tyd. Toe maak ons ’n bottel borrels oop (ek het nie veel van ’n verskoning nodig nie) en, terwyl ons wag dat die vet plaashoender rooster, knaag ons aan mieliekoekies.

Mieliekoekies is ’n boereding, weliswaar, maar ek gee hom ’n moderne kinkel met hope vars kruie en rissie. En, net om te wys ons is klaasie hier in die Kaap, bedien ek dit met ’n suurlemoen-en-dille crème fraîche en gerookte salm.

Ek morsie energie op individuele happies maak nie. Nee wat, ek gooi sommer alles op ’n bord sodat elkeen sy eie perfekte mondvol kan bou. Dis seker informeel vir onthaal, maar ek dink dis reg so – want ons is tog mos familie.

Al wat jy nodig het is…

285g mielies, geblik of gevries
een eier
5E koekmeel
¼t sout
¼t bakpoeier
halwe rooi rissie, ontpit en fyngekap
2E grasuie (chives), fyngekap
1E Italiaanse pietersielie, fyngekap
draai growwe swart peper
100g crème fraîche (ek gebruik dit want dit laat my fênsie voel, maar dis sommer maar net ‘n Franse weergawe van suurroom)
100g gerookte salm
2E dille, gekap
skil van een suurlemoen, fyngekap
3E olyfolie, vir braai

Meng die crème fraîche, die dille en die suurlemoenskil. Sit ’n knippie sout en ’n knippie swartpeper by en sit in die yskas. Hoe langer dit staan, hoe beter meng die geure.

Dreineer die mielies (as jy gevries gebruik, ontdooi hulle eers in kookwater) en meng met die eier, meel, sout, rissie, grasuie, pietersielie en knippie swartpeper. Braai lepelsvol in ’n mediumwarm pan met olyfolie. Sodra hulle mooi bruin is, draai hulle om en braai aan die ander kant. Dreineer op kombuispapier en sit hulle onmiddellik voor met die salm en crème fraîche. Die warm, bros koekies kontrasteer wonderlik met die koue crème fraîche en die satyngladde salm.

bedien

3-4

vooraf

10 min

kook

10 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Nog ‘n plan met mieliekoekies

Gerook of nie, salm is ‘n duur ding. Jy kan die salm vervang met gerookte forel wat ‘n bietjie goedkoper is. Maar vir my is die ekstra paar rand vir salm die moeite werd. Dis mos nou nie asof mens dit elke dag koop nie.

Vir ‘n oosterse-styl knabbelding (wat sommer baie goedkoper is), gooi een eetlepel gekapte vars koljanderblare by die mengsel. Maak komkommerlinte met jou groenteskiller en sit dit bo-op die koekies in plaas van die salm. Bedien met Thaise soetrissie-sous in plaas van crème fraîche.

lekker saam met

Jy kan enige witwyn hierby bedien. Iets droog en pienk sal ook werk. Vir feesvier, kom niks vir my naby borrels nie. Perdeberg se 2009 Brut Reserve MCC het intense sitrus en peer op die neus. Dis kraakvars op die tong met ‘n effense mineraal-kwaliteit.

In 2012 het dit beide Michelangelo en Veritas goud gewen. Teen R90-R95, is dit ‘n lieflike MCC vir die komende feesseisoen. Nie dat dit iets met die kwaliteit van die wyn uit te waai het nie, maar ek hou ook daarvan ook dat hulle zebra (wat op meeste bottels pryk) se naam Merlot is. Nes my kat. Maar groter. En met strepe.

Perdeberg

scroll-main

Ook beskikbaar in: English