’n Ruk terug sien ek ’n TV advertensie wat vra “wanneer was die laaste keer wat jy iets vir die eerste keer gedoen het”?  Ek kan nie onthou wat hulle probeer smous het nie – miskien ’n timeshare in Kazakhstan, miskien room vir ’n uitslag op ’n vreemde plek. Maar die vraag het my laat dink. Presies wanneer laas het ek iets vir die eerste keer gedoen?

Die antwoord is heeltyd, want niks is vir my lekkerder as eksperimenteer met nuwe kos kombinasies nie. Ek gaan nou nie vir jou jok nie, soms is dit ’n ‘epic’ flop. Meestal werk dit, en dan doen ek my opgewonde nuwe-ding dans in die kombuis. Dis nie mooi om te aanskou nie, want ek het nie juis veel ritme nie (eintlik niks). Aangesien Merlot gewoonlik die enigste een is wat sien, is dit seker OK.  Hierdie resep is een daais wat my soos ’n dronk baba waterbuffel laat heupswaai het.

Ek vrek oor ’n croissant, veral ’n amandel een. Maar dis ’n ‘commitment’. Halfpad deur hom kan ek nie meer nie – en ek is nou nie juis wat mens ’n klein eter sal noem nie.

Toe dink ek aan daardie mini croissants wat Woolies in pakke van agt verkoop. En ek dink aan my ma se melktert wat sy altyd met ’n paar druppels amandel-essens gegeur het. En ek wonder, wat sal gebeur as ek die twee kombineer…

Die antwoord? ’n Perfekte, klein melktert-mondvol – baie makliker en vinniger om te maak as ’n gewone tert, en net so lekker.

My wens vir jou is ’n wonderlike 2014, propvol ‘eerste-keer’ oomblikke – beide in die kombuis en buite.

Al wat jy nodig het is…

Hierde vulsel is genoeg vir agt mini croissante.
halwe koppie suiker
halwe koppie koekmeel
2 groot eiers
2 koppies melk
1 hoogvol eetlepel botter
knippie sout
amandel-essens
kaneel
versiersuiker

Meng die meel en suiker, voeg die eiers by en klits tot gemeng en glad. Voeg melk geleidelik by en klits deurgaans. Geur met ’n knippie sout. Sit melkmengsel in ’n dikboom kastrol op ’n medium-lae hitte. Snipper die botter in. Roer aanhoudend tot die mengsel dik is en meel goed uitgekook is (dit vat so tien minute). Voeg ’n paar druppels amandel-essens by (wees versigtig en proe liefs voor jy te veel bygooi.) Verwyder van die hitte en laat afkoel tot kamertemperatuur.

Bak die mini croissante volgens die instruksies op die pakkie. Sny hulle oop en smeer mildelik met die melktert vulsel. Sif kaneel oor die croissante (ek hou van baie) en net ’n titsel versiersuiker vir die mooi.

maak

8

vooraf

10 min

kook

15 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Filodeeg melktert stapels

Verf drie tot vier groot velle filodeeg met gesmelte botter. Stapel hulle opmekaar om een dik vel te vorm. Sny in klein vierkante van so 5cm x 5cm. Bak tot ligbruin volgens die aanwysings op die pakkie.

Sit ‘n filodeeg vierkant op ‘n bord, dan ‘n skep van die melktert vulsel, nog ‘n vierkant, nog ‘n skep melktert en uiteindelik ‘n laaste filodeeg vierkant bo-op. Sif kaneel en versiersuiker oor en bedien onmiddelik.

lekker saam met

Enige ordentlike koffie. Ek bedoel nie sigorei nie, ek bedoel koffie – bone, wat jy verkieslik self maal. Checkers het ‘n reeks ingevoerde koffiebone van verskillende lande en dis uitstekende waarde vir geld.

Of probeer hierdie een van Vida, dis te koop by enige van hulle koffiewinkels.

vida

scroll-main

Ook beskikbaar in: English