Melktert macarons. Ja, jy’t reg gelees, as dit nog nie ’n ding is nie, máák ek dit nou een. Vir vroulik-fyne elegante soet happies is daar min dinge wat vir ’n macaron ore aansit. Miskien Madeleines. Maar dié verorber ek met ’n koppie koffie of tee. Macarons is twee trappies hoër op die leer in my boek want ek dink hulle vra vir Sjampanje. As die idee van macarons bak jou bang maak is ek nie verbaas nie. Hulle is so temperamenteel soos Merlot op ’n nat wintersdag as sy duidelik nie haar ding buite wil loop doen nie. Ek het op die harde manier geleer, met ’n hele paar floppies op my weg. Nóú het ek ’n stel reëls vir macarons maak en volg jy hulle, is alles piekfyn.

Macarons kan gevul word met so te sê enigiets soets. ’n Leksel frambooskonfyt, botter versiersel ens. Maar ek’t besluit ek hou my lyf ‘Afrifrans’ – en vul hulle met my basiese melktertpap wat ek ook gebruik om klein croissants mee te vul. Teetafel perfeksie, en eintlik makliker as wat jy dink.

Al wat jy nodig het is…

⅔ koppie amandelmeel
1 koppie versiersuiker
¼ koppie gewone suiker
2 jumbo-groote eierwitte, teen kamertemperatuur
klik hier vir die melktertvulsel resep

Blits die amandelmeel in jou voedselverwerker vir twee minute. Voeg die versiersuiker by en blits vir ’n verdere minuut. Sif die mengsel daarna – gebruik ’n sif wat so fyn moontlik is. As daar stukkies is wat nie deur die sif gaan nie, gooi hulle weer in die voedselverwerker en herhaal die proses. Klits die eierwitte tot goed skuimerig, gooi dan geleidelik die suiker by en klits tot styf (stiff peak).

Gooi die meelmengsel by die eiermengsel en vou versigtig deur tot net goed gemeng. (NB: hierdie is die belangrikste deel van macarons maak. Meng jy dit te min, is die macarons nie glad nie. Meng jy dit te veel, word dit te loperig en rys die macarons nie. Die mengsel moet soos dik lawa lyk, dan’s dit reg.) Skep die mengsel in ’n pypsak en druk dotjies op ’n bakplaat gevoer met bakpapier. Klap die bakplaat hard op die tafel so 3-4 keer om lugblasies te verwyder.

Nou vir die volgende belangrike deel want doen jy dit nie, kry jy nie daai oulike frilletjie van ’n ordentlike macaron nie: laat die macarons staan vir 30-120 minute. Hoe lank hulle staan hang af van hoe klam die lug is. Die macarons moet so droog buite word dat jy aan hulle kan vat sonder dat jou vinger kleef. Dan is dit in ’n 170 grade Celsius oond in vir 12-15 minute. Die beste manier om te weet of die macaron reg is, is om een op te lig. Kom hy skoon van die bakplaat af is hy reg. Laat afkoel en smeer ’n macaron met ’n leksel melktertpap, bedek met nog ’n macaron en siedaar.

maak

15-20

vooraf

20 min

bak

12-15 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

18 jaar van Four Cousins

Four Cousins is die land se grootste verkoper in die gebottelde wyn-segment. Die handelsmerk het sy oorsprong in die mid negentigs, toe die vier neefs (ja, hulle’s ware bloedneefs) Hennie, Neil, Bussell en Phillip aan die einde van hulle studies een na die ander by die familieplaas, Van Loveren, net buite Robertson, aansluit. Hulle het besluit ’n wyn van hulle eie is nodig en in 2000 sien die eerste bottel Four Cousins die lig. Ek onthou dit nog goed – oor die bottel groot was en oor ek dit kon bekostig!

scroll

‘n gunsteling wêreldwyd

‘Fast forward’ 18 jaar en vandag is die Four Cousins reeks massief, met vonkelwyne, stilwyne en likeurs wat in meer as 62 lande geniet word. Nie sleg vir vier neefs van die Klein Karoo nie!

lekker saam met

Toeval is ’n eienaardigre ding. My macarons was nog aan die afkoel toe my deurklokkie lui. Op die drumpel staan ’n knaap van Four Cousins met ’n boks. Nou bokse met linte laat altyd my hart vinniger klop, dus mors ek nie tyd met die oopmaak nie. Binne ontdek ek vier bottels Four Cousins wyne, elk met ’n verskillende macaron om by dit te proe. Nou toe nou. Ek besluit die Four Cousins Brut vonkelwyn is net die ding vir my melktert macarons.
Dis gemaak van 100% Sauvignon Blanc druiwe. Soos die naam aandui, is hierdie ’n droë wyn. Die Four Cousins reeks is bedoel om sakpas te wees. Dus is hierdie bottel borrels nie ’n MCC nie – m.a.w dis nie Sjampanje-styl in die bottel gefermenteer nie.

Die Four Cousins Brut kry sy vonkel in die vorm van koolsuurgas. Die wyn word in vlekvrye staaltenks gehou en onder druk gebottel. Die gevolg? ’n Ligte vonkelwyn wat die hart bly maak teen ’n baie bilikke prys.

FourCousins

scroll-main

Ook beskikbaar in: English