Ek weet om hierdie resep ‘lente ertjie sop met ment’ te noem is ’n bietjie dik vir ’n daalder. Daar’s nog ten minste ses weke se goor koue oor voor dit ámptelik lente is. En selfs dan bibber ons hier in die Kaap vir ten minste nog ’n maand. Maar ooraloor begin ek tekens sien dat winter nie vir ewig gaan hou nie. Jasmyn, vet van die knoppe, tuimel oor elke heining in my straat. Ek’t my somerbolle geplant, en daar’s ’n voorbarige iris in my tuin wat oor so ’n week haar laventel-pers gesiggie gaan uitsteek.
Uitbundig soos ‘n maandoue labrador hondjie storm ek kombuis toe om iets te gaan kook wat ‘lente’ sê. Hierdie ertjie sop is vars, subtiel en lig met wonderlike kruiegeur danksy hope ment, bronkors en pietersielie. Dis die kulinêre teenoorgestelde van my droë ertjie en ham sop. Daai een is vir vris mans wat rugby speel. Hierdie een bedien jy in jou ouma se fraai porseleinkoppies met ’n blommetjie bo-op, vir jou boekklub vriendinne.
Al wat jy nodig het is…
5 sprietuie (insluitend die groen stingels), gekap
1E botter
¼t knoffel
4k gevriesde ertjies (of vars)
1 sakkie vloeibare hoenderaftreksel (Ina Paarman s’n, of die een van Woolies of Nomu se Chicken Fond)
¼t growwe swartpeper
2k water
2 hoogvol eetlepels vars ment
2 hoogvol eetlepels vars Italiaanse pietersielie
2 hoogvol eetlepels vars bronkors (watercress)
2E Bulgaarse joghurt of dubbel-room Griekse joghurt
2t vars suurlemoensap (nié die een in die bottel nie!)
seesout (ek gebruik Maldon, dis net wonderlik)
Braai die sprietuie en knoffel in die botter oor ’n lae hitte vir drie minute. Voeg die ertjies, water, aftreksel en peper by, bedek en prut oor lae hitte vir 10 minute. Verwyder van die hitte en voeg die kruie by. Blits in jou voedselverwerker tot glad en romerig.
Sit terug op die stoof en verhit deur. Net voor jy bedien, roer die joghurt in asook die suurlemoensap. Die aftreksel bevat sout, maar jy sal definitief nog ’n stewige knip of twee sout nodig hê. Proe en gooi – onthou sout is GEUR.
Bedien met klein blaartjies ment, bronkors en pietersielie bo-op vir die ekstra kruievars. As jy dit popfraai wil maak, sit ’n eetbare blommetjie ook op. Hierdie resep sal twee mense as hoofmaal bedien, vier as voorgereg.
bedien
2-4
vooraf
5 min
kook
10 min
goed om te weet
Nog idees vir hierdie resep
Vir ‘n ryker sop, kan jy suurroom in plaas van die joghurt inroer.
Ek dink ook ‘n paar krummels feta bo-oor sal gaaf wees, veral die een met swartpeper.
lekker saam met
‘n Kraakvars Sauvignon Blanc sal perfek hierby pas en my topwaarde-keuse hierdie week is Jason’s Hill s’n. Wynmaker, Ivy du Toit, glo vir goeie wyn het jy goeie druiwe nodig, dus groei hulle al hulle eie op hierdie pragplaas aan die voet van die Slanghoek berge. Ek het die pas-uitgereikte 2015 geproe op ‘n onlange besoek aan Jason’s Hill. Dit het ‘n lieflike tipiese Sauvignon Blanc karakter met groen aspersie en net ‘n effense titsel mineraal.
Dis ‘n warm gebied hierdie en Ivy hou haar druiwe se suurvlakke soos ‘n valk dop om seker te maak sy oes betyds om wyne met ‘n goeie suiker/suur balans te verseker. Sy kry dit reg, want die 2014 het ‘n Vitis Vinifera goue medalje gewen. Nie sleg vir ‘n wyn met ‘n kelderprys van net R45 nie!
Los 'n Boodskap